Skoner geslag nou aan die stuur van ‘Megaboere’

Kabous Meiring. (Foto: Facebook/kykNET)

Kabous Meiring. (Foto: Facebook/kykNET)

Die vyfde seisoen van die kykNET-reeks Megaboere wat in Januarie volgende jaar afskop, gaan veral in een opsig van die vorige vier reekse verskil: ’n vrou is nou aan die stuur.

Khaki Produksies, die vervaardigers van Megaboere, voorspel dat Kabous Meiring onder die kykers se vel gaan inkruip terwyl sy die suksesvolste boerderye in suidelike Afrika besoek. “Dié aanbieder van Prontuit op kykNET is ‘n vonds wat ‘n vars aanslag aan die program gee. Haar warmte, insig en spitsvondighheid is ʼn aanwins en plaas die bekroonde reeks in ’n ander liga.”

Megaboere 5 doen moeite om ook in buurlande met soortgelyke omstandighede as Suid-Afrika ’n draai te maak. In Afrika bly landbou ’n uitdaging, want hier gaan dit nie net oor wins, omset en kaart en transport nie.

Die klem verskuif hierdie keer na boere se vermoë om verandering as uitdaging te aanvaar. Die boerderye wissel van groot semi-korporatiewe sakebedrywe tot boere wat op tradisionele grond boer en nooit die titelakte van sy grond gaan besit nie – almal boere wat hulle op die een of ander manier van ander onderskei en op verskillende maniere kwalifiseer om die Megaboer-etiket te dra.

Meiring het luidens ʼn mediaverklaring gesê die uitnodiging om Megaboere aan te bied, was ‘n onverwagse uitdaging. “Op Prontuit gesels ons soms oor landbou, maar nie soveel oor die tegniese deel daarvan nie. Toe word dit ’n avontuur waaroor ek opgewonde en nuuskierig geword het. Ek is net steeds bang vir verduidelikings in ‘watt’ en ‘metrieke ton’.”

Volgens Meiring is landbou onlosmaaklik deel van Suid-Afrika se ekonomie, maar ook in ’n mate van die Suid-Afrikaanse identiteit. “Dit is wat my interesseer: hoe ons praktiese oplossings kry in ’n land met ernstige uitdagings, waar ideologie en ekonomie nou verbind is en dit op ’n manier probleemoplossing bemoeilik.

“Dié mense, die boere wat met uithouvermoë en ʼn liefde vir die grond – nie noodwendig die eiendom nie – aanhou om deel te wees van nasiebou, kosverskaffing, vaardigheidsontwikkeling, gesprekke voer met politieke leiers om sodoende gemeenskappe te ontwikkel of gesond te hou, die mense wat skole op plase bou en dies meer. Dít is die tipe Suid-Afrikaners wat ek wil ontmoet en nou het ek die kans gekry.”

Die ondervinding met die maak van die reeks was tot dusver ongelooflik, het Meiring bygevoeg. “Soos ons teen hierdie tyd weet is boere nie ’n homogene groep nie en behalwe dat ek die oorweldigende mooi landskappe van die verskillende dele van Suidelike Afrika kon leer ken, het ek ook verskillende bewoners van Afrika wat boer, ontmoet. Om met die produksiespan te reis is ’n heerlike ervaring, om nie te praat van bakkie-ry, motorfiets-ry en die lekker kos nie.”

Megaboere 5 skop in Januarie op kykNET, DStv-kanaal 144, af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JJ ·

Ek het nou die dag n oproep gekry van n ene “megaboer” ongeskikste mens wat ek al ooit teegekom het, nee pel, jy doen my nie n guns nie, kom oor jouself. Sê sommer direk “gee my beter pryse, weet jy wie ék is?!” belaglik. Jammerte dat ongeskiktheid die norm is by boere die afgelope paar jaar.

Jan ·

Sal Megaboere maar n mis gee. Net soos toe Piet Croukamp dit aangebied het

E.K. die eerste ·

Aan Jan: ek is seker hul gee om! Mal oor Kabous! Sy is regtig plat op die aarde (en ek praat van self ontmoet en gesels) en het ‘n oop hand en hart vir ‘n welsynprojek waarmee ek haar genader het. Ek is seker sy sal haar goed van haar taak kwyt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.