Skreeusnaakse avonture op ʼn VOC-skip in nuwe reeks

Op die stel van ‘De Kleine Griet’. Agter van links na regs is Luan Lauw, Charlie Bouguenon, Tiaan Slabbert en JP du Plessis. Voor is Anré Bouguenon en Deoudoné van der Merwe. (Foto: Verskaf)

Skuif gerus nader vir ʼn splinternuwe aanlyn Afrikaanse komediereeks wat die wêreld van skepe, handelsroetes, die see en onontdekte eilande oopbreek.

Die nuwe Forum Films-produksie De Kleine Griet speel af in die tydperk toe die Oos-Indiese Kompanjie (VOC) in die 17de eeu die grootste handelaarsmaatskappy ter wêreld was.

Kaptein Wim van der Vaart, kaptein van die VOC-skip De Kleine Griet, was voorheen as een van die mees belowende kapteins en werknemers van die VOC gereken, maar sy ambisie en onder-die-tafel-manier van dinge doen, laat hom gereeld in warm water beland.

Nadat hy die reëls van die VOC verontagsaam en besluit het om onwettige sake op ʼn eiland vol mensvreters te gaan doen, verloor hy amper sy hele bemanning.

Hy kry ʼn finale waarskuwing en word gedwing om saam met die jong burokraat Arnoud Schoonbeeck aan boord te werk. Dit lei tot baie wrywing op die skip omdat daar heeltyd ʼn magspel tussen dié twee is.

ʼn Klomp eksentrieke karakters vergesel hom op sy reise, soos Bas Boudewijn, Wim se regterhand op die skip en sy grootste ondersteuner. Hy is ʼn man van min woorde en het nie ʼn sin vir humor nie. Hy stel net belang in homself en is gesond en baie fris gebou.

Saam met hulle op die skip is Vinkie, ʼn jong meisie wat met behulp van haar ryk pa ʼn gapingsjaar op die skip neem, Costa, die eksotiese skeepskok met ʼn passie vir mooi vroue en kos maak, en Hans Kraaij, ʼn ou man wat nooit praat nie, maar baie mooi sing.

Dan is daar Helena, ʼn vrou wat haarself moet voordoen as ʼn man, want vroue mag nie op die skepe gewerk het nie en dit was die enigste manier hoe sy uit haar geboorteland kon vlug. Sy is ook die appel van Wim se oog.

Die avontuur begin as Wim uitvind van ʼn onbewoonde eiland wat beskou word as ʼn legende, ʼn mite wat nie bestaan nie. Om die eiland te ontdek sal nie net baie rykdom bring nie, maar ʼn nuwe handelsroete kan van daar af gevestig word. Ongelukkig is Wim nie die enigste een wat op soek is na die eiland nie.

Die reis en resies na die eiland is die oorbruggende storie van De Kleine Griet, maar dit is ʼn karaktergedrewe komedie wat sterk fokus op die verhoudings tussen die bemanningslede op die skip.

Luan Lauw, skrywer van De Kleine Griet, het die konsep en tekste van die storie saam met regisseur Elrich Yssel ontwikkel. Die idee vir die storie het aanvanklik by seerowers begin, maar Jan van Riebeeck en die VOC het later die reeks geïnspireer.

Lauw vertel die reeks is in die styl van The Office en ander sogenaamde mokumentêr-reekse geskryf en geskiet.

“Hoewel dit in die 17de eeu afspeel, sal hedendaagse kykers daarby kan aanklank vind omdat ons baie hedendaagse verwysings maak. Die storie is vir enigiemand wat komedie waardeer. Ons probeer iets anders doen en die perfekte rolverdeling dra by tot die reeks. As ons een rol verkeerd gekies het, sou die hele produksie ongeloofwaardig wees,” sê Lauw.

Die rolverdeling bestaan uit akteurs Charlie Bouguenon as kaptein Wim van der Vaart, Tiaan Slabbert as Bas Boudewijn, David Steyn as Arnoud Schoonbeeck, JP du Plessis as Costa Almada, Deoudoné van der Merwe as Vinkie Weilburg, Leán van den Bergh as Helena van Leeuwen en Jurgen Hellberg as Hans Kraaij.

“Daar het ʼn hele paar bekende mense oudisies afgelê vir die reeks, maar ons wou eerder die régte persoon as ʼn bekende persoon vir elke rol kry. Komedie is ʼn ongelooflike fyn kuns en dit maak of breek die reeks, daarom moes ons seker maak ons kry akteurs wat die rolle perfek vertolk.”

Bekendes soos Chris Chameleon, in die rol van Jan van Riebeeck, en Tertius Meintjes maak ook ʼn draai in die reeks.

Yssel het die idee vir die storie aan Lauw voorgelê en hy het sowat vier maande aan die agt-episode-reeks geskryf. Die produksie het reeds in 2019 die groen lig gekry, maar kon weens Covid-19 nie voortgaan nie.

Die produksie van die reeks sluit vandeesweek af. Die reeks is hoofsaaklik by die Heartfelt Arena in Centurion geskiet. Dele van die reeks is ook by die Pretoriase boeremark en by die Melrose House in Pretoria geskiet.

“Ons kon soveel hier by die arena doen, want dit is ʼn groot lokaal. Chris Booyens, ʼn ervare en bekende stelbouer in die bedryf, het die stel vir ons gebou. Ons kry nie altyd in Suid-Afrika die geleentheid om stelle te bou nie, want dit is baie duur.

“Ons het egter saam met baie slim mense in die kunste- en visuele departemente gewerk wat weet hoe om baie te vermag met ʼn klein begroting. Die stel en kostuums is baie outentiek.”

De Kleine Griet sal later vanjaar digitaal te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Marthinus

In die suide van Jhb, by Wemmerpan, was daar n 1:1 replika van die Dromedaris, waarin daar soms partytjie gehou is. Santarama-miniland is so vrot bestuur, die skip het in 2013 weensn veldbrand vergaan. Ek het `n kilometer daarvan gebly, en was nie eens bewus daarvan nie (so min belangstelling was daar om die brand te blus). Ek moes die harsteernuus op die internet lees.