Skryf in vir SA se jongste werklikheidsreeks, ‘Plaasjapie’

Plaasjapie is kykNET se splinternuwe werklikheidsreeks wat deelnemers die geleentheid bied om te wys of hulle die deursettingsvermoë het om op ʼn plaas te oorleef. Inskrywings vir dié reeks is nou oop.

“Altesaam 20 stedelinge of dorpenaars (wat geen plaas- en boerdery-ervaring het nie) word weggevoer na ʼn plaas om vir ʼn maand in ʼn skuur te leef en werk. So, as jy dink jy kan harde bene kou, maar ook uithouvermoë het en slim genoeg is, dan is Plaasjapie vir jou,” het kykNET in ʼn verklaring laat hoor.

“As jy dink dit is kinderspeletjies om op ʼn plaas te woon en werk, dink weer, want met Plaasjapie gaan jy met die mees basiese elemente op ʼn plaas moet oorleef – dit beteken geen van die luukshede wat op vandag se moderne plase te vind is nie.”

Diegene wat hul spanmaats uitoorlê in die uitdagings sal die geleentheid kry om sekere luukshede vir hulself te “wen”, maar die res sal maar moet voel hoe dit was om op ʼn plaas van jare gelede te woon.

“Plaasjapie gaan nie net oor oorlewing en fisieke werk op ʼn plaas nie – allesbehalwe. Dit gaan oor strategie, deursettingsvermoë en slimmer wees as die res van die deelnemers. En planne beraam, want dis tog wat ʼn boer doen.”

Sommige uitdagings vind plaas in spanne, en ander is individuele uitdagings. En, daar mag dalk ʼn gekonkel agter jou rug wees wat jy tot jou voordeel kan inspan, of wat jou moontlik jou kaartjie huis toe gaan kos.

So, as jy kans sien vir die uitdaging van woon en werk op ʼn plaas, slim bondgenootskappe kan vorm, strategieë kan uitwerk, ʼn plan soos ʼn boer kan maak, en, belangrikste van alles, ʼn maand kan oorleef sonder die luukshede waaraan dorps- en stadsjapies gewoond is, skryf voor 15 Februarie 2020 vir dié reeks in.

Nie net staan jy die kans om as kykNET se eerste “Plaasjapie” aangewys te word nie, daar is ook groot pryse op die spel.

Voornemende deelnemers kan hier inskryf. Inskrywings sluit op 15 Februarie 2020.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.