Skryf nou in vir ‘Op die Spel 3’

Só gewild was die eerste twee seisoene van kykNET se spel- en taalspeletjieprogram, Op die Spel, dat opnames vir ʼn derde reeks binnekort afskop!

Dié keer is dit leerders van hoër- en laerskole wat hulle slag met taal en grammatika sal moet wys. ‘n Spesiale studente-episode sal ook deel wees van die nuwe reeks, waar vier van die beste studentespellers gaan meeding om die titel as beste speller op ‘n Suid-Afrikaanse kampus.

Die kompetisie bestaan uit etlike uitdunrondtes en semifinale, voordat die algehele wenner in die finaal aangewys sal word. Die program sal ook dieselfde formaat volg as vorige seisoene, maar opwindende kinkels kan hier en daar verwag word.

Oudergewoonte kry deelnemers – én hulle skole – die kans om groot geldpryse te wen.

Om die kaf van die koring te skei, moet kandidate ‘n aanlyn toets aflê om in te skryf vir die reeks. Dié toets kan by opdiespel.tv afgelê word; as jy kwalifiseer, sal jy ook ʼn telefoontoets moet aflê. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 25 Augustus 2017.

Die reeks word aan die einde van September in Johannesburg opgeneem, en deelnemers moet beskikbaar wees om tydens kantoorure by die opnames te wees. Reiskoste word deur die vervaardigers gedek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.