Skrywer halfmiljoen ryker met speletjiesprogram

Theunis Strydom het R500 000 gewen met kykNET se speletjiesprogram, ‘Wie word ‘n miljoenêr?’. (Foto: Verskaf)

Die sakejoernalis en skrywer Theunis Strydom (42) is die eerste wenner van ʼn halfmiljoen rand in kykNET se Wie word ’n miljoenêr?-speletjiesprogram.

Naas Strydom was daar tot op hede drie ander groot pryswenners in Wie word ʼn miljoenêr? – twee wat onderskeidelik R125 000 gewen het en een wat R250 000 losgeslaan het.

Strydom, wat onder meer die boek Risiko en rykdom oor die sakereus Christo Wiese geskryf het, bedryf ook die Dunkelder-teater vanuit sy Johannesburgse woning saam met sy vrou, Lejanie.

Hy beskryf die vuurwarm oomblik in die Wie word ʼn miljoenêr?-stoel oorkant aanbieder Rian van Heerden as “’n werksonderhoud waar die baas jou afdank en jou pensioen vir jou uitbetaal nog voordat hy jou nog eens aangestel het”.

Nadat hy in 2001 sy kans verbrou het op die Engelse weergawe van die program, Who wants to be a millionaire?, en sonder ʼn sent huiswaarts moes keer, het hy gedink hy sal nooit weer die geleentheid kry om vir R1 miljoen te speel nie.

Rian van Heerden, aanbieder van ‘Wie word ‘n miljoenêr?’ (Foto: Verskaf)

“Ja, ek wou die miljoen gehad het. Nadat ek die vraag oor die fossiel, wat na aartsbiskop Desmond Tutu vernoem is, reg gehad het, het ek gedink: Hier kom dit nou! Maar die miljoen-rand-vraag het my heeltemal uitgeboul. As jy nie weet nie, dan weet jy eenvoudig nie.”

Strydom skryf sy magdom kennis toe aan die feit dat hy “gelukkig is dat hy goed kan onthou”, maar ook aan sy belangstelling in ʼn wye spektrum van onderwerpe.

Verder bruis die avontuurlus en die reisgogga deur sy are en blaai hy graag deur ʼn atlas en lees enigiets deur Cormac McCarthy van No Country for Old Men-faam. Hy beplan om met die wengeld saam met sy vrou na Chili en Argentinië te reis.

Wie word ʼn miljoenêr? is Woensdagaande om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook op DStv CatchUp te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kobus

Skitterend gespeel. Baie geluk. Bly dat gierigheid nie die oorhand gekry het nie

AmY

Hy was fantasties gewees.
Die manier hoe hy die vrae uitgewerk het, het mý uitgeboul.
Én hy het geweet wanneer om halt te roep.
Baie geluk Theunis!

Madeleine

Baie geluk Theunis!!
Baie goed gespeel!!