Só groet die Malans

Die Malans van ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

Net so is 13 episodes van die tweede seisoen van die kykNET-dramareeks Alles Malan iets van die verlede.

Kykers het saam gelag en gehuil en elkeen van die karakters het diep in hulle harte gekruip. Vir die hoofspelers was daar egter ook heelwat hoogtepunte en goeie herinneringe in hierdie reeks.

Só sê hulle:

Albert Maritz

Albert Maritz as Derek Malan. (Foto: Verskaf)

Vir Albert, wat die rol van Derek Malan vertolk, was dit ʼn voorreg om die rol van die patriarg te speel.

“Die groot rolle wat ek gespeel het, was baie lank gelede. Dit was ’n riem onder die hart toe ek hoor dat Corné (van Rooyen, mede-regisseur en -skrywer saam met René van Rooyen) Derek met my in gedagte geskep het. Dan is daar die empatie waarmee Corné ʼn mens hanteer wat dit ’n vreugde maak om saam met hom te werk. Ook die span agter die skerms en mense soos Sunel Haasbroek, wat die hele reeks geskiet het met ʼn kamera op haar skouer. Haar stamina is ongelooflik. Die span in die kostuumafdeling, die tegniese mense en die heerlike werkomgewing wat die ander akteurs skep – die immervriendelike Mateo en immermenslike Elsabé Daneel.

“Die mense saam met wie jy werk, het baie te doen met hoe lekker dit is om dit te doen.”

Elsabé Daneel

Elsabe Daneel as Brenda in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Elsabé vertolk die rol van Derek se vrou, Brenda, en beaam Albert se stelling oor die span van Alles Malan.

“Ongelooflik toegewyde, intelligente, hardwerkende en geweldig kreatiewe mense. Ons het vinnig gewerk aan die reeks en daar was soveel emosie, maar dit was fantasties hoe almal soos ʼn ware familie hande gevat het en gesê het kom ons maak dit werk op die beste manier wat ons kan.

“Ek praat van die vervaardigers, die skrywers, elke grimeerkunstenaar, elke ou wat die clapper board geklap het en dan natuurlik my Malan-familie. Dit was vir my wonderbaarlik hoe hierdie mense saamgestaan het en hulle beste gegee het vir hierdie reeks. Ek het so lief geword vir hulle wat my gesin in die reeks is.

“Nog ʼn goeie herinnering is dat Brenda uit sak en as uit opgestaan en besluit het om iets met haar lewe te doen. Dit is vir my wonderlik. Sy het haar vlerke gesprei, nie net vir haarself nie, maar vir haar Malan-mense.”

Ivan Zimmermann

Ivan Zimmerman as Frik en Nadia Valvekens as Tessa in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Ivan vertolk die rol van Frik, Derek se oudste seun. “My beste herinnering is om saam met al die lekker mense te werk; van die spelers tot die uitstekende tegniese span en mense wat agter die kamera werk. Op ’n persoonlike vlak was dit net só lekker om weer toneel te speel.”

Nadia Valvekens

Nadia is te sien as Tessa, Frik se vrou. “My beste herinnering en hoogtepunt van Alles Malan is die mense saam met wie ek gewerk het wat soveel vreugde en hart elke dag in dít wat hulle doen gesit het. Daar is niks lekkerder as om saam met mense te werk wat dieselfde passie as jy deel nie.”

Nicole Fortuin

Lee-Anne (Nicole Fortuin) in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Nicole vertolk die rol van Lee-Ann Malan, vrou van die jongste Malan-seun, Nico. “Een van my beste herinneringe was toe ons deur die draaiboek gelees het voor die verfilming begin het. Dit was wonderlik om weer die Malans almal saam te hê en om te sien hoe elkeen van ons weer terugkeer na ons karakters toe.

“Ook om te sien hoe elkeen se pad in die tweede seisoen gaan loop. Dit was ’n baie spesiale manier om na die storie wat ons almal so lief het, terug te keer. Dit gebeur nie sommer in ons bedryf nie.

“Ek het dit ook geniet om die bababoepie te dra. Natuurlik het almal op die span geweet ek is nie regtig swanger nie, maar ’n paar ander mense het regtig gedink ek is swanger.”

Ivan Botha en Greteli de Swardt as Wim en Elani in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Greteli de Swardt

Greteli is te sien as Elani, dogter van Frik en Tessa, en ma van Junior. “My beste herinnering is die mense saam met wie ons gewerk het. As ek aan Alles Malan dink, dink ek nie noodwendig aan die storielyne nie, maar aan die mense saam met wie ek gewerk het – van die spelers tot die tegniese span.”

Mateo Olivier

Mateo Olivier as Freek. (Foto: Verskaf)

Mateo is Elani se aangenome broer. “Dit was lekker om almal weer te sien veral ná die tyd wat ons mekaar nie kon sien nie as gevolg van Covid. Dit was ook vir my baie lekker om saam met my vriende by die skool te skiet.”

Sean-Marco Vorster

Sean-Marco Vorster. (Foto: Verskaf)

Sean-Marco vertolk die rol van Nico Malan, Frik se jonger broer en Lee-Ann se man. “Dit was ‘n hoogtepunt om almal weer bymekaar te wees ná so ‘n suksesvolle eerste seisoen.

“Dit het werklik gevoel soos ‘n familie wat weer saam is. Ons was meer gemaklik en die karakters was reeds ontwikkel. Dit was heerlik om almal weer te sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tong in die kies ·

Ek hoop ons op showmax sal die reeks ook binnekort kan kyk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.