Só het ‘Binnelanders’-temalied sy ontstaan gehad

Jak de Priester (Foto: Maroela Media)

Altesaam dertien jaar gelede was Jak de Priester maar nog ʼn opkomende kunstenaar toe hy genader is om ʼn temalied vir ʼn nuwe dramareeks te skryf.

“Binnelanders” – vandag steeds die temalied vir kykNET se gewilde hospitaaldrama met dieselfde titel – is onmiddellik gebore; en sedertdien het die kunstenaar én die liedjie talle gedaanteverwisselings ondergaan.

“Ja,” sê-lag die sanger in ʼn telefoniese onderhoud. “In dertien jaar het báie verander.”

Daai tyd was hy ʼn ongetroude, jong sanger wat ʼn Elvis Presley-kapsel met trots gedra het. Nou is hy die pa van twee kinders met ʼn aansienlik minder gewaagde haarstyl.

Maar dis nie nét hy wat verander het nie: In die laaste 13 jaar was daar drie weergawes van die temalied. Die oorspronklike is vir Binnelanders opgeneem wat aanvanklik ʼn dramareeks was wat een maal per week op die kassie uitgesaai is. Die tweede weergawe is vir Binneland Sub Judice opgeneem nadat die program ʼn Engelse gehoor ook wou teiken kort ná Egoli se laaste episode uitgesaai is. Dié weergawe was net instrumentele musiek.

Die jongste weergawe is die een waarvoor talle innig lief geraak het; iets wat vandag onlosmaaklik deel van die sepie is.

Die sanger vertel aan Maroela Media hy het destyds as jong sanger net oorkant die Zuid-Afrikaans-hospitaal in Pretoria gewoon. Terwyl hy besig was met die telefoonoproep waartydens ʼn regisseur hom gevra het om die liedjie te skryf, is die idee vir die liedjie dadelik gebore.

“My tuinwoonstel het reg op die straat uitgekyk waar die Jakarandas geblom het,” vertel hy. “Die idee vir die aanvanklike dramareeks was dat dit in Pretoria sou afspeel, en die lirieke het asof vanself gekom. Ek het daar gestaan en die toneel van Jakarandas in die strate wat bars uit hul nate het voor my afgespeel. Dit was vir my ʼn wonderlike geleentheid waarvoor ek tot op hierdie dag dankbaar is.”

Later sou hy uitvind hy het ander musikante soos Chris Chameleon en ddisselblom uitgestof wat ook gevra is om ʼn temaliedjie vir die reeks te skryf.

“Ek wens ek kon presies onthou wat ek gedink het toe ek dit die eerste keer op televisie gehoor het. Dáái tyd as jong musikant het ek nie eens ʼn televisie gehad nie; so ek sou dit by iemand anders moes gaan kyk het. Intussen het dinge natuurlik nou verander en my kinders het selfs met die sepie grootgeword. En dit bly altyd lekker om te hoor, selfs al is dit net soms in die agtergrond.”

Die temalied het deur die jare vir baie mooi oomblikke gesorg, vertel hy. “Ek het nog nooit iets lelik oor die liedjie gehoor nie,” sê hy. “Ek besef mense sou sekerlik nie vir my direk daaroor iets sê nie, maar ek het nog nooit iets negatief gelees of gehoor oor ‘Binnelanders’ nie. Ek het wel al baie mooi stories gehoor: onder meer dat ouers hul kinders aan die slaap sus met die liedjie en dat ʼn gestremde kind onmiddellik rustig raak of begin glimlag wanneer hy die liedjie hoor. Ek het ook al ʼn video gesien van ʼn baba wat nog nie kan praat nie, maar die liedjie saamsing. Dis wonderlik, dit beteken baie vir ʼn kunstenaar.”

Vandag nog bly dit een van die liedjie wat hy op konserte móét sing, veral in die landbougebiede. En dán kry die liedjie na al die jare steeds ʼn dawerende applous. “Ek dink die lirieke bly vandag steeds relevant vir wat in die reeks gebeur. Die temaliedjie het so deel geword van die reeks en van wie ek is, dat mense my daarmee assosieer. Ek grap self al met mense daaroor. As hulle my nie ken nie, vra ek hulle of hulle minstens Binnelanders kyk of ken, want ek is dáái outjie. En dan lag ons lekker daaroor.”

Die sanger se spesiale boodskap aan Binnelanders: “Ek wil net aan almal van Binnelanders dankie sê dat ek [al] vir 3 000 episodes kan deel wees van julle wêreld, ek is baie trots daarop. Maar daar nóg 3 000 episode volg – ek is lief vir julle!”

Binnelanders saai Donderdag dié week hul 3 000ste episode uit. Skakel elke weeksaand om 19:30 in op DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.