Só lyk die nuwe ‘Boer Soek ʼn Vrou’-manne

Moenie toelaat dat die liefde jou bly ontwyk nie – die nuutste reeks van Boer Soek ʼn Vrou is in Oktober vanjaar op die kassie en inskrywings om dalk jou ridder op sy wit perd, of aan’t swoeg en sweet op sy plaas, te ontmoet, sluit op 25 Mei.

Vanjaar het dié gewilde reeks, wat in die negende seisoen is, ook ʼn nuwe baadjie aangetrek, met die nuwe aanbieder, Minki van der Westhuizen, wat vir die geselsies tussen die boere en meisies gaan sorg.

Lees meer oor die tien boere in vanjaar se reeks:

Boer Johannes. Foto: kyknet.dstv.com

Boer Johannes. Foto: kyknet.dstv.com

Boer: Johannes

Lengte: 1,75 m
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstatus: Ongetroud

Johannes (27) van Robertson boer met wyn en vrugte. “Ek het die boerdery ’n tydjie gelede oorgeneem en het groot planne vir die toekoms.”

Sy ideale maat is iemand “wat die uitdagings van die boerdery begryp en ondersteun, maar haar eie drome volg.”

Hy meen sy eerlikheid is een van sy beste eienskappe. Wat jy sien is wat jy kry en hy het ’n goeie hart. “Ek is perfeksionisties, gefokus en mededingend,” sê hy.

Johannes hou homself besig met sport, fiksheid en skiet.

“Ek waardeer nog die klein goedjies in die lewe, veral as ’n mens in die natuur werk en afhanklik is daarvan.”

Boer Rob. Foto: kyknet.dstv.com

Boer Rob. Foto: kyknet.dstv.com

Boer: Rob

Lengte: 1,9 m
Kinders: Geen
Huistaal: Engels
Huwelikstatus: Ongetroud

Rob (39) kom van Knysna. Dié melkboer is op soek na iemand met hope positiewe energie en ’n goeie sin vir humor.

Hy het vyf jaar lank in Johannesburg gewoon, waar hy geroei het. Rob beskryf homself as betroubaar en eerlik. “Ek is vasbeslote wanneer dit nodig is.”

Hy meen dit is belangrik in ’n verhouding om ’n goeie verstandhouding te hê. Kommunikasie is verder belangrik, want dis gevaarlik om aannames te maak.

Boer Pieter. Foto: kyknet.dstv.com

Boer Pieter. Foto: kyknet.dstv.com

Boer: Pieter

Lengte: 1,8 m
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstatus: Ongetroud

Pieter (31) kom van Nigel, Gauteng. Dié beesboer is op soek na ’n maat wat eerlik en opreg is en die slegte saam met die goeie kan verduur. ’n Goeie sin vir humor, selfs bietjie sarkasme, laat sy hart bokspring. “Sy moet haarself nie te ernstig opneem nie en ’n speelse geaardheid hê. Sy moet positief wees,” sê hy.

Pieter boer al van kleintyd af – al was dit tóé met sy trekkertjies en karretjies. Die plaas was nog altyd sy leerskool. “Vandag is ek daardie boer wat nooit terugstaan nie, maar ’n plan maak.”

Hy beskryf homself as hardwerkend, innoverend en as iemand met baie dryfkrag. “Ek is ’n eerlike mens wat dinge reguit sê, maar ek het empatie met my medemens.”

Boer Leon-Fritz. Foto: kyknet.dstv.com

Boer Leon-Fritz. Foto: kyknet.dstv.com

Boer: Leon-Fritz

Lengte: 1,76 m
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstatus: Ongetroud

Leon-Fritz (29) het ’n gemengde boerdery in die Roedtan-omgewing in Limpopo. Dié boer is op soek na ’n selfstandige maat met selfvertroue en selfrespek. “Sy moet hou van lag!” sê hy. “Goeie beginsels, waardes en ’n verhouding met die Here is vir my belangrik.”

Hy beskryf homself as “lewendig en passievol”, en boonop “altyd reg vir ’n grappie en mal daaroor om ander mense te laat lag.” Hy is verder beginselvas, sportief, spontaan en lief vir die buitelewe. Hy braai graag saam met vriende en geniet moderne country-musiek. “Eerlikheid en opregtheid is nie onderhandelbaar nie,” sê die boer. “Ek is enige skoonma se droom.”

Boer Johan. Foto: kyknet.dstv.com

Boer Johan. Foto: kyknet.dstv.com

Boer: Johan

Lengte: 1,79 m
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstatus: Ongetroud

Vir Johan (34) van Victoria-Wes, is eerlikheid en aanpasbaarheid belangrike eienskappe. “Ek is ’n baie reguit mens en wat jy sien, is wat jy kry.”

Dié skaapboer hou van die buitelewe, sport en om sosiaal te verkeer. Hoewel hy homself nie as ’n romantikus beskou nie, sal hy beslis die romantiese kraantjies oopdraai wanneer ’n geleentheid homself voordoen. Vir dié romantiese geleentheid wil hy ’n braaivuur en die karoo hê. Johan het ’n goeie verhouding met sy ma, en waarsku dat hy nie hou van mense wat voorgee dat hull iets is wat hulle nie is nie.

Boer Hennie. Foto: kyknet.dstv.com

Boer Hennie. Foto: kyknet.dstv.com

Boer: Hennie

Lengte: 1,83 m

Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstatus: Ongetroud

Hennie (26) is ’n veeboer van Willowmore en op soek na ’n “partner in crime”.

Hy hou van ’n vrou wat weet wie sy is en wat sy in die lewe wil hê. “Sy moet weet geluk begin by haarself,” sê hy. “Ons moet saam die Here kan dien en saam kan groei.”

Dié boer is een van vyf kinders en hy en sy drie broers boer saam met sy pa. Hy is spontaan, avontuurlustig en hou van die mooi in die lewe. Hy maak graag ou huise en meubels weer nuut. “Ek hou daarvan om na iets te kyk wat soos niks lyk nie en iets moois daarvan te maak.”

Hy beskryf homself as ’n doodgewone boerseun. “Dis maklik om voor te gee wie jy nie is nie, maar dis nóg makliker om net jouself te wees.”

Boer Erhard. Foto: kyknet.dstv.com

Boer Erhard. Foto: kyknet.dstv.com

Boer: Erhard

Lengte: 1,77 m
Kinders: Twee
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstatus: Geskei

Erhard (64) boer met skape en Angora-bokke in die Karoo en was al voorheen getroud. Hy is lief vir die natuur, hou van kamp en dans en geniet graag ’n glasie rooiwyn. Hy hou boonop daarvan om te toer en nuwe mense te ontmoet.

Dié boer beskryf homself as vriendelik, romanties en spontaan. Hy kan soms bietjie ongeduldig wees, sê hy, “maar darem nie onredelik nie.” Hy sê dit is belangrik om net jouself te kan wees, en nie voor te gee nie. Hy hou daarvan om iemand te bederf en beskou ’n romantiese aand as ’n ete met ’n glasie rooiwyn en kaggelvuur.

Boer Corné. Foto: kyknet.dstv.com

Boer Corné. Foto: kyknet.dstv.com

Boer: Corné

Lengte: 1,72 m
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstatus: Ongetroud

Cornè (30) van Alexandria, in die Oos-Kaap is ’n melkboer en die natuur en diere is sy liefde en lewe. Dié boer gesels maklik en het ’n goeie humorsin met skerp sêgoed en ’n wye algemene kennis. “Sonder vreugde kan ’n mens nie ver kom nie. Vriendelikheid kos niks.”

Hy is passievol en hou daarvan om te kamp en nuwe plekke te verken. Hy staan ook nie maklik terug wanneer uitdagings oor sy pad kom nie.

Iemand wat “liefde uitstraal na haar medemens en geliefdes” gaan dié boer se aandag trek. So ook ’n nederige vrou wat “mooi van binne” is.

“Die lewe is kort, en ’n mens moet voluit lewe vir die Here, jouself en jou eggenoot,” sê hy. “Jy moet eerstens respek vir jouself hê. As jy dít het, sal jy ook respek hê vir ander om jou.”

Boer Arno. Foto: kyknet.dstv.com

Boer Arno. Foto: kyknet.dstv.com

Boer: Arno

Lengte: 1,89 m
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstatus: Ongetroud

Arno (26), ’n liefdevolle boer van Newcastle, geniet die vryheid wat boerdery hom bied om sy eie besluite te neem. Sy raad vir verhoudings is: “Praat, praat, praat. Respekteer mekaar genoeg. Lag baie saam.”

Dié boer het ’n sterk persoonlikheid, maar ook ’n sagte hart. “As ek na myself kyk, sal ek sê deursettingsvermoë en lojaliteit is van my beste eienskappe.”

Hy is op soek na iemand wat opreg is, daarvan hou om sosiaal te verkeer en ’n gebalanseerde lewe handhaaf.

Boer Wessel Foto: kyknet.dstv.com

Boer Wessel Foto: kyknet.dstv.com

Boer: Wessel

Lengte: 1,78 m
Kwalifikasie: Honneurs
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstaat: Ongetroud

Wessel (31) is op soek na ’n intelligente en lewenslustige vrou met integriteit. Dié boer van Cradock is avontuurlustig, liefdevol, barmhartig en sportief. Hy hou veral van roei en klavierspeel.

Uit vorige verhoudings het hy geleer dat jou lewensmaat werklik jou beste maat moet wees. “Mens moet mekaar se swakpunte kan aanvul en besef geen mens is perfek nie.”

Besoek die Boer Soek ʼn Vrou Facebook-blad vir meer inligting. Inskrywings sluit op 25 Mei.

Bron: kykNET

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gesiggie ·

Vrou soek n Boer, maar die ouderdom net bietjie te jonk”’ wat van boere tussen 40 en 45… maar nou ja, dalk eendag”’WEET NOU AL WIE DIE MEESTE BRIEWE SAL ONTVANG…
Boer Arno, Boer Johan en Boer Hennie…. kan nie wag vir die nuwe reeks… sterkte aan elkeen van jul, mag jul die regte Boervrou ontmoet.. kom ons los dit maar vir die jong geslag…

Chris ·

Ai ek kry die manne regtig jammer. Hoe kan enige man vooraf weet watter mooi gesiggie is maar eintlik net n fortuinsoeker. Soos my oorlede swaer dit jare gelede gestel het. “Ou slaghuis met n nuwe blokman” Sterkte manne.

yster 74 ·

Sterkte manne. Mooi is nie alles nie maar tog sag op die oog. Lekker om saam met my vrou te boer. Sy is wonderlik met diere. Gee haar daar haar eie afdeling as sy wil en sien hoe blom sy. Knyp tyd saam met haar af elke week in die dag. Maak haar deel.

yster 74 ·

Sterkte manne. Mooi is nie alles nie maar tog sag op die oog. Lekker om saam met my vrou te boer. Sy is wonderlik met diere. Gee haar daar haar eie afdeling as sy wil en sien hoe blom sy. Knyp tyd saam met haar af elke week in die dag. Maak haar deel.

Philip ·

Gelukkig is daar nog ware manne wat sonder hulp weet hoe om ‘n vrou te kry.

Anneline ·

Ag Philip, ware manne kom in alle vorms. So ‘n bietjie hulp het niemand nog skade gedoen nie. Beskou dit as “blind dates” wat ons almal al gehad het. Die manne lyk goed en ek hoop ten minste een ontmoet die vrou van hulle drome.

Oupa Hen ·

Hou van die program. Hoop ń paar manne kry hulle vrouens.
Ek merk op dat die manne se huwelikstatus gelukkig almal “ongetroud” is !

Annetjie ·

Hou van die program Boer soek n Vrou maar hulle dit nou op Sondag aande begin uitsaai dan kan ek nie kyk nie …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.