Só lyk kykNET se laataand-programme nou

Divan Botha, Kabous Meiring, Rozanne McKenzie en Waldimar Pelser. Foto: www.kyknet.dstv.com

Divan Botha, Kabous Meiring, Rozanne McKenzie en Waldimar Pelser. Foto: www.kyknet.dstv.com

Hoewel kykNET se gewildste laataand vermaak- en aktualiteitsprogramme se tye bietjie rondgeskommel is, kan aanhangers steeds verwag om hul gunstelingaanbieders op die kassie te sien.

Bettie Kemp en Riaan Cruywagen is voortaan steeds op Maandae, Dinsdae en Donderdae, tussen 21:30 en 22:00 te sien op kykNET Verslag waar hulle die dag se belangrikste nuusgebeure bespreek.

Waldimar Pelser, ook die redakteur van Rapport, sal egter nie meer die uurlange Insig op Maandagaande tussen 22:00-23:00 aanbied nie. Insig word van April af deel van die nuwe uurlange kykNET Verslag in gesprek, waarin verskeie gaste weekliks, Woensdae van 21:30 tot 22:30, met Waldimar oor die belangrikste aktuele gebeure sal gesels.

Bettie Kemp sal gedurende April vir Waldimar instaan wanneer hy oorsee gaan.

Prontuit met Kabous Meiring skuif in April van Woensdag na Maandag tussen 22:00 tot 22:30.

Die uitsaaitye van Winslyn met Divan Botha en Flits, aangebied deur Rozanne McKenzie en Bouwer Bosch, bly onveranderd. Winslyn sal dus steeds Dinsdae tussen 22:00 en 22:30 op die kassie wees en Flits, Donderdae van 22:00 tot 22:30.

Ook Robinson, die aktuele geselsprogram wat Freek Robinson op Sondagaande aanbied, se uitsaaityd bly dieselfde, tussen  19:30 tot 20:00.

Daar is ook binnekort nuwe vermaak op die kassie. Kykers kan uitsien na die nuwe drama-reeks, Fluiters, uit die pen van Deon Opperman. Dit begin Dinsdag op 12 April om 20:00. Hou gerus Maroela Media dop vir meer oor dié reeks.

Besoek kykNET se webwerf vir meer inligting. Al die programme is op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.