Só werk ‘Die Brug’

Die Buffeljagsdam. (Foto: Verskaf/kykNET)

In die nuwe Afrikaanse werklikheidsreeks Die Brug ontmoet 12 vreemdelinge mekaar in die hartjie van die prentjiemooi Swellendam, elkeen met een doel voor oë: om met prysgeld van R1 miljoen huis toe te gaan.

Dié 12 vreemdelinge moet as deelnemers aan Die Brug as’t ware met hulle kaal hande saam ʼn brug binne 20 dae bou – wat kan lei tot die massiewe pryspot.

Dié plaaslike reeks is geskoei op ʼn internasionale formaat en begin Donderdag 26 Oktober op kykNET. Neil Sandilands is die verteller van die program.

Talle uitdagings en hindernisse staan tussen die deelnemers en die prysgeld en hul sosiale vaardighede, morele waardes, fisieke en geestelike krag, uithouvermoë en vermoë om saam te werk in ʼn span word tot die uiterste beproef.

Die Brug bevat elemente van avontuur en ontdek die drama wat ontvou wanneer ʼn groep onder geweldige druk geplaas word.

Die titel het ʼn simboliese betekenis, want die spelers bevind hulle ook gereeld in situasies in hul eie lewe waar hulle brûe moes oorsteek om hul eie potensiaal te ontsluit.

Die grootste vraag is egter: Wie kan vir wie vertrou, en wie gaan die geld deel as hulle dit eerste sou vind?

Sleutelterminologie in Die Brug:

  • Houthuis – dit is waar die spelers woon en werk. Dit bevat ʼn slaapkamer, ʼn leefarea, ʼn werkswinkel en ʼn landingskaai.
  • Toring – dit is 250 meter van die kuslyn af. Dit is die eindbestemming, want dit is waar die prysgeld wag.
  • Eiland – die toring is op die eiland geleë.
  • Posvlot – dit is halfpad tussen die kuslyn en die Toring geleë. Dit is waarheen die spelers moet gaan om boodskappe en instruksies te ontvang.
  • Poskan – die voertuig waardeur die spelers die boodskappe en instruksies ontvang.
  • Fakkels – word gebruik om die spelers in kennis te stel dat daar nuwe pos is.
  • Verwydering – dit is wanneer ʼn speler huis toe gestuur word. Dit kan enige tyd gebeur. In teenstelling met ander werklikheidsreekse is daar nooit dieselfde reëls of meganismes vir uitstemming nie. Sodra die spelers verwyder word, moet hulle besittings opgepak word en hulle moet per boot die spel verlaat.

Die Brug begin Donderdag 26 Oktober op kykNET, DStv-kanaal 144. Dit sal ook op DStv Stream en CatchUp beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Dit klink maar bietjie deurmekaar. Was ook nie n aanhanger van die Survivor of Big Brother reekse nie…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.