Soektog na ‘Dina’ gaan voort op kykNET

Kapt. Deon Visagie (Tim Theron), A.O. Ronel Oosthuizen (Chanelle de Jager) en sers. Lux Dladla (Chumani Pan) van kykNET se gewilde dramareeks ‘Projek Dina’.

Kapt. Deon Visagie (Tim Theron), A.O. Ronel Oosthuizen (Chanelle de Jager) en sers. Lux Dladla (Chumani Pan) van kykNET se gewilde dramareeks Projek Dina, keer eersdaags weer terug na die kassie as die Kaapse taakspan wat sake van vermiste persone oplos.

Charlie Botha (Kay Smith) het sedert die eerste seisoen haar kennis en vernuf vir polisie-veldwerk opgeskerp en word nou ook amptelik deel van dié gedugte span.

Kykers sal onthou dat Ronel aan die einde van die eerste seisoen net-net haar tweelingsuster, Dina, gemis het toe sy en die span in Mosambiek opgedaag het.

Dit is twee jaar later en Ronel se ewige soeke na haar suster het steeds nie gekwyn nie, al dink haar gesin sy is uiteindelik besig om die trauma wat Dina se ontvoering veroorsaak het, te verwerk.

Wanneer Lux haar nader om hom met ’n saak te help, word Ronel se passie vir haar werk en ook haar dryf om haar suster te vind weer aangewakker. Sy bevind haar vinnig weer deel van die span, maar dié keer mag sy nie veldwerk doen nie. Sal Ronel by die reëls kan hou?

“Hierdie adrenalienbelaaide reeks het ’n vinnige pas en sal jou op die punt van jou stoel laat sit soos die taakspan sake ondersoek wat op ware sake van vermiste persone gebaseer is,” sê Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger van die reeks.

“Met die groeiende aantal vermiste persone-sake in Suid-Afrika wat omtrent elke dag die media haal, is die tweede seisoen van Projek Dina ’n ongelooflik belangrike en relevante reeks wat nie misgeloop moet word nie.”

Ander bekende gesigte wat weer hulle verskyning maak, is Antoinette Louw, Vicky Kente en Jana Kruger. Kykers kan ook uitsien na akteurs soos Louw Venter, Marguerite van Eeden, Sandra Vaughn en Hendrik Cronjé.

Elke episode handel oor ’n nuwe saak, terwyl die soektog na Dina deurlopend is. Liezl Spies het weer as die regisseur van die reeks teruggekeer. Sy het ook Die Byl en Klein Karoo 2 se regie behartig.

Projek Dina word deur Penguin Films vervaardig, wat ook reekse soos Afgrond, Sara se Geheim en G.I.L vervaardig.

Projek Dina is vanaf 1 Maart elke Dinsdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chantel ·

Fantastiese nuus, KykNet moet veeleerder hulle toespits op hierdie tipe kort reekse as lang vervelige reekse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.