Soene doen die praatwerk in ‘Op my eish! 2’

Maryna. (Foto: Verskaf)

“Hoekom voel dit of ek huis toe gaan?” wou Maryna in Donderdagaand se episode van Op my Eish! 2 by Francois weet kort nadat hulle die groep verlaat het vir ʼn bietjie alleentyd.

Dit was tydens die eerste afspraak waar Francois vir Maryna, Abigail, Claudia en Leyla genooi het vir ʼn uitstappie na Perry’s Bridge-reptielpark in Hazyview.

Francois wou nie doekies omdraai nie en het prontuit vir Maryna gesê dat hulle nog nie regtig baie tyd saam deurgebring of ʼn romantiese konneksie gehad het soos hy gehoop het nie.

Hoewel Maryna al met hulle eerste blitsafspraak vlinders in haar maag gehad het, het Francois eers later dié gevoel ervaar. Tog het Maryna ʼn vermoede gehad dat haar Op my Eish! 2-avontuur op daardie oomblik sou eindig.

Maryna, ʼn 29-jarige entrepreneur van Mashishing (Lydenburg), sê in ʼn onderhoud met Maroela Media dat sy ʼn oplettende mens is en aan Francois se lyftaal kon agterkom dat daar nie ʼn vonk tussen hulle is nie.

“Ek het dit verwag en my hart was ook nie seer daaroor nie,” sê sy. “Ek was eintlik baie opgewonde om huis toe te gaan en weer by my seuntjie te wees, want ek het verskriklik na hom verlang.

“Die hele ervaring op stel en met die opname van die program, was vir my baie interessant,” sê sy verder. “Ek het dit baie geniet en sal graag in die toekoms weer so iets agter die skerms wil doen, maar obviously nie weer om ʼn man te soek nie.”

Kort nadat Maryna haar tasse moes pak, het Francois ook alleentyd saam met Claudia, Leyla en Abigail deurgebring. Dinge het warm geraak tussen Francois en Claudia toe hulle oor ernstige verhoudings en trou begin praat. Met Francois en Leyla se alleenafspraak was daar minder woorde, maar ʼn lang soen wat dié twee se hartklop behoorlik opgejaag het.

Francois Jacobs. (Foto: Verskaf)

Dit was egter nie die eerste soen tussen Francois en Leyla, of die eerste een van Op my eish! 2 nie. Kykers sal onthou dat drie soene in die vorige episode uitgedeel is, toe Francois eerste ʼn soen op Abigail se lippe geplant het en daarna ook vir Leyla en Nykie gesoen het.

In Donderdag se episode het Francois en die vroue, na die besoek aan die reptielpark, hul partytjieskoene aangetrek om saam met hom sy 33ste verjaarsdag te vier.

Dit is hier waar Francois se sjarme later ook vir Claudia laat swig het toe dié twee weggelip het van die partytjie af en sy hom gesoen het, hoewel sy eintlik wou wag tot hul vyfde afspraak.

Van Francois se naaste vriende soos Altus Theart, Zetske van Pletzen en Neels van Jaarsveld, het ook saam gekuier en sommer ook die vroue wat hoop om sy hart te wen ʼn bietjie beter leer ken.

Neels was in dié program nog saam met Florinda Hearn, wat hy aan die einde van die eerste seisoen van Op my eish! gekies het, maar Maroela Media het vroeër berig dat dié paartjie se liefdespad onlangs geskei het.

Skakel elke Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal) in vir die tweede seisoen van Op My Eish!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kobus ·

Mag ek iets vra. Hoe kan Francois sy 33 ste verjaardag vier as hy in 1993 gebore was.Dit los hom op 29 as my wiskunde nie verkeerd is nie

Hannelie ·

Lyk my hy is ‘n soenerige ou. So ek dink nie hy is regtig ernstig nie.

miche ·

Klink vir my maar na ‘n grillerige gedoente, die oor en weer gesoenery met verskillende mense op dieselfde tyd. Veral Tydens die Covid tye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.