‘Soetsappige dominee’ se liefdesdriehoek in ‘Binnelanders’

John-Henry Opperman as ds. Wynand du Plessis in ‘Binnelanders’. (Foto: Verskaf)

John-Henry Opperman het al vyf keer in sy lewe die rol van ʼn dominee vertolk. Dié keer is hy te sien as dominee Wynand du Plessis in die kykNET-sepie Binnelanders – en dié dominee is desperaat om die liefde van sy lewe in die gange van die Binneland-kliniek te vind.

Opperman, bekend as voorsanger van die musiekgroep Klopjag en vir sy akteursrolle in flieks soos Roepman, Musiek vir die agtergrond en die Bram Fischer-fliek An act of defiance, sê die “soetsappigheid” van ds. Wynand – wat sedert sy verskyning in Binneland vir Elise (Lindie Strydom) sowel as Annetjie (Lorraine Burger) koer – is iets wat hy terdeë geniet het.

“Ds. Wynand is ʼn gemoedelike man van Bronkhorstspruit wat gedink het die liefde gaan nooit vir hom beskore wees nie. Eers het hy toe sy jarelange vriendin, Elise, weer by die hospitaal raakgeloop toe hy vir ʼn mediese prosedure opgeneem is en het haar met ʼn sleutelring gevra om te trou. Kort daarna het hy egter vir Annetjie, Elise se beste vriendin, ontmoet en toe is die koeël behoorlik deur die kerk,” vertel Opperman oor sy karakter.

“Hy het gedink die tyd vir hom om ware liefde te vind het opgeraak, maar nou besef hy dat dit tog miskien vir hom op die horison wag.”

Annetjie (Lorraine Burger), ds. Wynand (John-Henry Opperman) en Elise Kruger (Lindie Strydom) kuier in Binneland-kliniek se koffiewinkel, Tonik. (Foto: Verskaf)

Hoewel Opperman nie te veel wil verklap oor hoe dié liefdesdriehoek gaan eindig nie, sê hy dat vriendskap op die einde van die dag gaan seëvier. “Dinge eindig definitief soos dit moet.”

Dit was Opperman se eerste draai op ʼn sepiestel en hy bieg dat hy nooit geweet het hoe tegnies die verfilming van ʼn sepie is totdat hy nie eerstehandse kennis daarvan opgedoen het nie.

“Ek het al baie rolle vertolk waarvoor akteurs hulle voortande sal gee en was regtig tot dusver bederf met ongelooflike rolle in flieks. Rolprente is egter ʼn hele ander wêreld as sepies en ek het nog nooit voorheen multikamera-toneelspel gedoen nie. Sepies is ʼn baie tegniese wêreld en ek het op my neus gekyk oor my vooropgestelde idees dat sepiewerk makliker is as ander toneelspel,” bieg Opperman.

“Ek het verskriklik respek vir die sepiewêreld gekry. Dit is ʼn intense omgewing wat uiters teksgedrewe is. Dit was ʼn wonderlike leerskool en ʼn groot voorreg om deel te kon wees van die Binnelanders-span.”

Ds. Wynand het kykers egter omgekrap met sy laventelhaan-neigings en hulle deel gereeld raad op sosiale media uit oor hoe dié situasie tussen hom, Elise en Annetjie beter hanteer kon word.

Kykers is ooglopend net so ontsteld oor die hele petalje as Elise. “Vertel hulle Elise. Sit sommer iets soos kasterolie op hulle kos,” sê ene Marianna Nicholson op Facebook.

“Elise, jy verdien ʼn man wat so oulik is soos jy, nie ʼn liegbek-predikant nie. Sies vir hom, nogal ʼn dominee,” skryf Jennifer Mynhardt.

Ds. Wynand en Elise Kruger gesels in Doepa oor hulle trouplanne, wat intussen deur ds. Wynand se gevoelens vir Annetjie in die wiele gery is. (Foto: Verskaf)

“Ek is mal daaroor hoe mense hulself in die sepie inleef,” lag Opperman. Sy vrou, die aktrise Beáte Opperman, het self in Junie verlede jaar ʼn draai op die Binnelanders-stel gemaak as die haatlike Nellie Bester, en hulle lag gereeld saam oor die kommentaar wat mense op sosiale media kwytraak.

“Beáte ken my gelukkig goed genoeg om te weet watter haakplekke daar moontlik op die stel sou kon wees wat vir my ʼn hindernis kon wees, so sy het my goed voorberei en ʼn paar wenke gegee,” sê Opperman.

Hy vertel hy kon ook ʼn week voordat hy aan sy rol begin skiet het op die stel gaan kuier en onder meer op die vloer en in die beheerkamer touwys raak voordat hy in ds. Wynand se skoene moes klim.

“Dit is regtig opvallend hoe goed die akteurs is. Almal sien vir Annetjie op die kassie met haar stywe nekkie, maar in die werklike lewe is Lorraine ʼn lieflike, rustige mens. Dit was lekker om te sien hoe die akteurs hulle karakters al so goed kon ontwikkel, omdat baie van hulle al so lank in daardie rolle te sien is.”

Hy sê hy is met ope arms op die stel van Binnelanders ontvang. “Dit is uiteraard soos ʼn hegte familie met mense wat mekaar al so lank ken, maar hulle het my telkens saamgenooi en male sonder tal was daar iemand wat my betrek het. Dit is ʼn ongelooflike klomp mense van die stel af en dit was ʼn baie gemaklike plek om by in te skakel.”

Klopjag

Die groep Klopjag bestaan uit John-Henry Opperman, Sallas de Jager, Dawie de Jager, Marie-Louise Diedericks, Werner Griesel en Morné Bam. (Foto: Verskaf)

Volgens Opperman beteken sy rol op die kassie nog lank nie dat hy klaar is met musiekmaak nie, en beplan hy en Klopjag om later vanjaar weer ʼn rits vertonings met nuwe musiek aan te bied.

Maroela Media het vroeër vanjaar berig dat dié groep se gewilde treffers, “24 Uur” en “Stof”, vanjaar 20 jaar oud geword het, maar Opperman verklap dat dié liedjies al veel vroeër as 2002 geskryf is.

“Die groep het wel vanjaar 20 jaar oud geword en ons het ʼn klein reünie via Zoom vir al ons lede gehou – van Centurion tot in Portugal, waar ons tromspeler, Werner, nou saam met sy Portugese vrou vir Google werk.”

Benewens Opperman, is ander groeplede van Klopjag, soos Sallas en Dawie de Jager, steeds groot name in die Suid-Afrikaanse musiek- en rolprentbedryf. Sallas is onder meer bekend as regisseur van rolprente soos Roepman en Ds. Tienie, en Dawie woeker steeds as musikant en skrywer van musiek vir rolprente soos Stroomop.

“Ons beplan om groot ouditoriums vol te maak en het juis geskerts dat dit amper is soos om ʼn tydmasjien aan mekaar te sit. Ons is besig met baie lekker goed en ons sien vreeslik uit daarna om dit met ons aanhangers te deel,” verklap hy.

Beáte en John-Henry Opperman. (Foto: Instagram/Beáte Opperman)

Opperman is ook aan die stuur van ʼn mediamaatskappy, The Media Farm, wat vanuit Randburg in Johannesburg hoëgehalte mediaproduksies vervaardig. Dié maatskappy het mettertyd in ʼn groot agentskap ontwikkel en hoewel sake aan die stil kant was weens die pandemie, begin sy dagboek nou weer vinnig opvul.

“Dis asof die wêreld die laaste paar maande skielik weer ontwaak het. Dit was ʼn rowwe twee jaar vir mense in die kunste- en mediabedryf, maar nou gaan ons weer volstoom voort,” sê Opperman.

Binnelanders is elke weeksaand om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

Môre om 19:30 in Binnelanders!

'n Leeftyd se 'geluk' is op die spel!

Posted by Binnelanders on Tuesday, February 8, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AmY ·

Interessante storielyn.
Kan nie wag om te sien hoe dit gaan eindig nie.

Jr ·

Vir my as man wat nooit binnelanders mis, irrateer hy my. Maar dis seker omdat hy die rol so puik speel

Wielspore ·

Jy haal die woorde so uit my mond. As mens is hy ‘n puik akteur, maar hierdie rol wat hy speel, regtig…. kan skaars hoor wat hy sê, jy kan nie lippetaal volg nie want die is weg agter die snor en baard.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.