Soveel verdien wêreld se hoogs betaalde aktrises

Sofia Vergara is deur Forbes aangewys as die hoogs betaalde aktrise. (Foto: Instagram)

Die Amerikaanse tydskrif Forbes het die Modern Family-aktrise Sofia Vergara vanjaar as die wêreld se hoogs betaalde aktrise aangewys.

Vergara (48) se rol as Gloria Pritchett in dié komediereeks, sowel as haar nuwe posisie as beoordelaar op America’s Got Talent, het haar met $43 miljoen (sowat R714 miljoen) in die sak al die pad bank toe laat lag. Sy het dié stewige inkomste ook met bemarkingsooreenkomste aangevul.

Die aktrise Angelina Jolie is tweede op die lys met ʼn inkomste van $35 miljoen (sowat R580 miljoen) en die Red Notice-ster Gal Gadot is derde met $31 miljoen (sowat R515 miljoen).

Fliekteaters en rolprentstelle is vanjaar hoofsaaklik gesluit weens die Covid-19-pandemie en talle televisie-aktrises het die dollars laat inrol met die gewildheid van stromingdienste en televisiereekse wat ʼn oplewing ervaar het.

Grey’s Anatomy se Ellen Pompeo is in die 8ste plek met $19 miljoen (sowat R315 miljoen) en The Handmaid’s Tale se Elisabeth Moss is in die 9de plek met $16 miljoen (sowat R266 miljoen).

Viola Davis, wat die hoofrolle in How to get away with murder en die komende Netflix-reeks Ma Rainey’s black bottom vertolk, is in die 10de posisie met ʼn verdienste van $15,5 miljoen (R258 miljoen).

Mary Poppins Returns se Emily Blunt is in die 6de posisie met ʼn inkomste van $22,5 miljoen (sowat R375 miljoen). Blunt en Jolie is die enigste twee op die lys van die top-10 hoogs betaalde aktrises wat nie hulle inkomste deur ʼn televisiereeks of stromingplatforms verdien het nie.

Die top-10 hoogs betaalde aktrises het altesaam ʼn bedrag van $254 miljoen (sowat R4 miljard) verdien.

Hier is top-10:

  1. Sofia Vergara – $43 miljoen (sowat R 714 miljoen)

Sofia Vergara is deur Forbes aangewys as die hoogs betaalde aktrise. (Foto: Instagram)

Vergara verdien $500 000 (sowat R8,5 miljoen) per episode vir haar rol in Modern Family en word $10 miljoen (sowat R166 miljoen) per seisoen vir America’s Got Talent betaal. Sy het ook lonende bemarkingsooreenkomste met onder meer ʼn denim-reeks vir Walmart en meubels by Rooms To Go.

  1. Angelina Jolie – $35 miljoen (sowat R580 miljoen)

Angelina Jolie. (Foto: Instagram)

Jolie se grootste verdienste vanjaar kom van haar hoofrol in The Eternals, die komende Marvel-rolprent wat ʼn begroting van $200 miljoen (sowat R3,3 miljard) het.

  1. Gal Gadot – $31 miljoen (sowat R515 miljoen)

Gal Gadot. (Foto: Instagram)

Hoewel Wonder Woman 1984 nie tans geskiet word nie, verdien Gadot $20 miljoen (sowat R332 miljoen) vir haar rol in Netflix se rolprent Red Notice.

  1. Melissa McCarthy – $25 miljoen (sowat R416 miljoen)

Melissa McCarthy. (Foto: Richard Shotwell/Invision/AP)

Die aktrise is in twee rolprente te sien, een wat deur Netflix stroom en een deur HBO Max. Haar man, Ben Falcone, is die regisseur van albei dié rolprente. Sy is ook die aanbieder van NBC se Little Big Shots en sal ook te sien wees in die rol van Ursula in die aksierolprent The Little Mermaid.

  1. Meryl Streep – $24 miljoen (sowat R400 miljoen)

Meryl Streep. (Foto: Paul Drinkwater/NBC via AP)

Streep en die regisseur Steven Soderbergh het kragte saamgesnoer vir die komedie Let them all talk, wat aan HBO Max verkoop is vir $33 miljoen (sowat R550 miljoen). Streep het $5 miljoen hiervan in haar sak gesteek. Die res van jaar haar jaarlikse inkomste kom van haar rol in Ryan Murphy se nuwe reeks The Prom en Little Women, waarin sy verlede jaar verskyn het.

  1. Emily Blunt – $22,5 miljoen (sowat R375 miljoen)

Emily Blunt. (Foto: Jordan Stauss/Invision/AP)

A Quiet Place het $341 miljoen (sowat R5 miljard) by die loket verdien en haar betaling vir die opvolgrolprent gaan ook miljarde beloop. Die fliek word volgende jaar uitgereik. Haar rol in Jungle Cruise sal ook tot haar astronomiese inkomste bydra.

  1. Nicole Kidman – $22 miljoen (sowat R366 miljoen)

Nicole Kidman. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Kidman sal saam met Meryl Streep in Ryan Murphy se The Prom op Netflix te sien wees, wat ook ʼn betaling van miljarde sal beloop. Sy sal ook minstens $1 miljoen (sowat R17 miljoen) per episode verdien vir die komende HBO-minireeks The Undoing.

  1. Ellen Pompeo – $19 miljoen (sowat R316 miljoen)

Ellen Pompeo. (Foto: Bob D’Amico/ABC via Getty Images)

Ná onderhandelings in 2017 word Pompeo $550 000 (sowat R9 miljoen) per episode vir haar rol as Meredith Grey in Grey’s Anatomy betaal. Volgens berigte voeg sy na raming $6 miljoen (R99 miljoen) by haar inkomste uit haar deel van die sindikasiewinste.

  1. Elisabeth Moss – $16 miljoen (sowat R266 miljoen)

Elisabeth Moss. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Die stromingsdiens Hulu het die aktrise $1 miljoen (sowat R17 miljoen) per episode betaal vir haar rol in The Handmaid’s Tale. Sy het ook gedeel in die winste vir die gruwelprent Invisible Man.

  1. Viola Davis – $15,5 miljoen (sowat R249 miljoen)

Viola Davis. (Foto: Oscars)

Davis maak vir die eerste keer haar toetrede tot dié lys, met groot betalings vir haar rol as Annalise Keating in How to get away with murder en as Ma Rainey in Netflix se verwerking van die August Wilson-verhoogstuk Ma Rainey’s black bottom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.