Spesiale fliekkanaal op kykNET vir die somervakansie

Foto: kyknet.dstv.com

Foto: kyknet.dstv.com

kykNET sal van die gewildste rolprente wat oor die jare in Afrikaans vervaardig is, vertoon op sy fliekNET-kanaal (DStv-kanaal 198) van 1 Desember 2015 tot 31 Januarie 2016.

Kykers kan ʼn fliek vir elke smaak, geleentheid en gemoedstoestand verwag. Aksieprente soos Boetie gaan border toe, Boetie op maneuvers en Aanslag op Kariba sal die avontuurlustiges besig hou, terwyl komedies soos Lipstiek Dipstiek, Tolla is tops en lekkerlag-reekse soos Alie Barber en Munisipaliteit van Gwarra Gwarra vir komiese verligting sal sorg.

Vir die ernstige dramakykers is daar rolprente soos Paljas en Fiela se Kind, terwyl die mense wat van musiekspele hou, kan uitsien na Jy is my liefling, Hoor my lied en Pretville. As jy ʼn soettand vir romantiese komedies het, kan jy voor die kassie inskuif vir treffers soos Vrou soek boer, Fanie Fourie se lobola, Jimmy in pienk en Klein-Karoo.

Vir die jonges is daar onder meer Hoofmeisie en Khumba en vir diegene wat in ons filmgeskiedenis belangstel, is daar flieks soos Daar doer in die Bosveld, Katrina en Die bankrower, asook die interessante dokumentêre reeks oor ons rolprentgeskiedenis, Daar doer in die fliek.

Almal wat nostalgies voel oor flieks van die 70’s en 80’s, sal hou van Lelik is my offer, Wat maak Oom Kallie daar?, Skelms, Die posman, Blink Stefaans, Liewe hemel, Genis!, Tant Ralie se losieshuis en vele meer. Dan is daar ook die televisiereekse wat in speelfilms verwerk is, soos Vyfster, Nommer asseblief? en Agter elke man.

Van die meer onlangse rolprente wat vertoon sal word, is Verraaiers, Faan se trein, Die wonderwerker, Die ballade van Robbie de Wee en Die spook van Uniondale.

Om kykers ʼn aanduiding te gee van wat hulle elke dag op fliekNET kan verwag, word die week in temas verdeel: Maandag is dit tyd vir drama, Dinsdag vir romanse, Woensdag is daar weer drama, Donderdae kry komedie ʼn kans, Vrydae is dit aksie en rillers, Saterdag romanse en komedie en op Sondae rolprentlegendes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.