Splinternuwe aanbieder sluit aan by Bravo!-span

Ewan Strydom. (Foto: Verskaf deur kykNET)

Ewan Strydom. (Foto: Verskaf deur kykNET)

Ewan Strydom, die donkerkop fiksheidsfoendi en televisieaanbieder wat al die afgelope agt jaar ʼn bekende gesig op die SABC 3-ontbytprogram Expresso is, het nou dié aanbiederspos verruil om sy lyf veldaanbieder te hou vir die gewilde kykNET-joernaalprogram, Bravo!

Strydom, wat ook ʼn ankeraanbieder is op die middagprogram van die Kaapse radiostasie, SmileFM, sal saam met Tracy Lange die Kaapse insetsels vir Bravo! behartig.

Hy vertel aan Maroela Media dat dit fantasties voel om nou deel van dié gesogte aanbiederspan te wees.

“Ek het tien jaar gelede my aanbiedersloopbaan by Homebrew Films begin as deel van die program All Access, wat ook deur hulle vervaardig is, so dit voel of ek huis toe gekom het. Ek is baie opgewonde oor die nuwe geleentheid,” sê Strydom.

Dié 36-jarige pa van twee seuns is gebore en getoë in Johannesburg en het ná matriek Kaap toe getrek. Ná skool het hy as deel van die agentskap Boss Models Cape Town ʼn draai gaan maak op internasionale loopplanke as model en het veral in Asië naam gemaak.

Hy het as opgeleide fiksheidsinstrukteur sy buiging op die televisie gemaak as fiksheidsaanbieder op Expresso.

Hy vertel hy het hom nooit voorheen in die rol van aanbieder gesien nie. “Ek was op skool ʼn skaam en teruggetrokke outjie en het nooit in my lewe gedink ek sal ʼn aanbieder wees nie. Toe ek dit egter die eerste keer doen, het dit net reg gevoel en ek het besluit dat dit die loopbaan is waarop ek my sal toespits. Ek het wel nie vir myself ʼn vyfjaarplan uitgekerf nie en vat ’n dag op ʼn slag,” sê Strydom.

Ewan is 'n opgeleide fiksheidsinstrukteur. (Foto: Instagram via Ewan Strydom)

Ewan is ‘n opgeleide fiksheidsinstrukteur. (Foto: Instagram via Ewan Strydom)

“Ek geniet dit om met mense om te gaan en met verskillende mense uit unieke agtergronde kennis te maak. Nou doen ek dit net voor die kameras, wat baie senutergend is, maar hoe meer ek dit doen, hoe meer raak ek dit gewoond. Ek het vir ʼn baie lang tyd regstreekse televisie gedoen en dit is geen grap nie. Maar dit raak later tweede natuur en ek het baie selfvertroue ontwikkel deur die jare. Die televisieindustrie is nie altyd maklik nie, maar ek sien nou baie uit na die toekoms.”

Hoewel hy ook die laaste drie jaar elke middag agter die mikrofoon by SmileFM inskuif, bly televisie sy eerste liefde. “Radio is vir my ʼn wonderlike geleentheid om nog ʼn vaardigheid in die bedryf te leer, hoewel dit aan die begin vir my ʼn groot aanpassing was om alleen in ʼn ateljee te sit agter ʼn mikrofoon.”

Strydom word Sondag 26 Mei vir die eerste keer aan Bravo!-kykers bekendgestel.

Die Bravo!-span hou hul vingers sterk op die pols van bekendes se doen en late – of dit nou op die rooitapyt, agter die skerms of by die huis is.

“Tracy het ʼn baie lekker profielonderhoud met my gevoer waar mense my kan leer ken. Mense wat my as Expresso-aanbieder ken, sal my nou in ʼn ander lig sien, aangesien dit ook die eerste keer is wat ek in Afrikaans gaan aanbied. Ek het onlangs ʼn lekker insetsel geskiet saam met Rolene Strauss, so ek borrel van opgewondenheid,” sê Strydom.

Bravo! saai op Sondae om 19:30 uit op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SL ·

Ag regtig – hoekom kry die gewone alledaagse mense nie ook kans nie of moet jy kwalifiseer met a “body building lyf”

pinkie ·

As dit net gewone alledaagse aanbieders was, het niemand gekyk nie.

Joe ·

Vra ek ook by firmas, hoekom net dié wat gekwalifiseer is kan by die firmas werk

Zenithia ·

Oeee kom skeur my klere!!! Ons gaan jou beslis geniet en kyk. Gee nie om oor kwalifikasies as jy so lyf het. Sexy verby!!! Love love.love?

Ouer Dame ·

Hahaha haha lag ek nou te heerlik na jou absolute opgewondeheid oor Bravo se nuwe aanbieder. Moet sê jy het my dag gemaak na al die gruwelike nuus oor die moorde. Ja-nee hy is baie beslis sag op die oog en sal menigte vrou se bene lam maak. Oud maar nog nie koud nie. Mag mos die mooi in die lewe waardeer en nog steeds ordentlik wees (voordat iemand my dalk n orige Oumatjie noem???).

Swartwolf ·

In die 70’s met die ou geldstelsel het mens een, twee, vyf, tien en twintig rand note gekry. Sewe rand note was buite die kwessie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.