Splinternuwe kykNET-reekse eersdaags op die kassie

mense mense

Mense Mense.

Kykers kan uitsien na talle splinternuwe Afrikaanse programme en reekse wat vandeesmaand op kykNET, DStv-kanaal 144, gebeeldsaai word.

Die dokumentêre reeks Die Afrikaners word vanaf komende Sondag om 20:00 gebeeldsaai. Dié reeks is gegrond op Hermann Giliomee se boek met die gelyknamige titel. Met Die Afrikaners: ’n Biografie vervleg Giliomee die jongste internasionale insig met ’n leeftyd van eie navorsing in ’n vars relaas oor ’n omstrede onderwerp.

Kry daai Lyf 2, met bekende fiksheidsghoeroe Linda Kriel as aanbieder, is op Maandag 9 April om 12:30 terug om kykers te help om die vetrolletjies af te skud. Daar is dieet-en gesondheidswenke én oefeninge vir mense van alle fiksheidsvlakke. Bekendes soos Cindy Swanepoel en Marco Spaumer sluit by Linda aan.

Die lankverwagte komediereeks Mense Mense, met Bobby van Jaarsveld, Sandra Prinsloo, Lea Viviers en Crystal-Donna Roberts as deel van die rolverdeling, begin ook Maandag om 20:30. Dié reeks handel oor ’n groep vriende wat saam werk, kuier en woon – alles sommer in een gebou. Nadat sy huwelik op die rotse geloop het, klop Rossouw by sy ou universiteitsvriende Julian en Liesl aan om ’n nuwe lewe in die groot stad te begin.

Met haar speelse en ontydige gekonkel sorg gebou-eienares Mientjie dat Rossouw in haar mikrobrouery op die grondverdieping van die woonstelblok begin werk. Sy neem ook haar susterskind, Salomé, onder haar vlerk wanneer sy haar werk as verteenwoordiger van ’n plaaslike distilleerdery verloor. Julian en Sebastian bestuur hul app, Mense, saam in die kelder van die gebou, en Liesl droom van ’n wit rok terwyl sy vraestelle merk en vir haar lesse voorberei.

Schalk Bezuidenhout.

Die Ware Naarheid is ’n splinternuwe satiriese nuusprogram wat ook Maandag om 20:00 begin. Die nuusprogram word aangebied deur die komediant Schalk Bezuidenhout. Bezuidenhout bring, met behulp van sy korrespondente Erns Gründling en Bibi Slippers, vir kykers tong-in-die-kies berigte oor aktuele sake.

Bezuidenhout gesels ook met bekendes om ’n alternatiewe blik op die jongste nuus te kry. Hoewel die program propvol grappe is, is dit beslis nie ’n grap nie: dit sal jou help om sin te maak van alles wat aangaan sonder om jou te bedruk of te verveel. Met Die Ware Naarheid kry jy jou weeklikse dosis nuus met ’n goeie skeut humor in – want dis soms die enigste manier om die nare waarheid te verteer.

Die gewilde dramareeks Sara se Geheim is Dinsdag 10 April om 20:00 terug met sy tweede seisoen. Veteraanakteurs June van Merch, Dawid Minnaar en Nicola Hanekom is saam met Marlo Minnaar en Brendon Daniels in dié reeks te sien.

’n Aantal ander bekendes wat vir die eerste keer ’n draai in die reeks maak, is onder andere Albert Maritz, Hannes van Wyk, Stian Bam, Suzanne Beyers, Marion Holm, Roeline Daneel, Martelise Kolver, Maurice Carpede, Marvin-Lee Beukes, Phillip Henn, Elana Afrika-Bredenkamp en Schalk Bezuidenhout.

In dié seisoen probeer Maggie steeds om haar gesin bymekaar te hou terwyl sy haar politieke loopbaan voortsit, maar die spanning in haar familie, sowel as haar donker geheim, maak dit ’n bykans onmoontlike uitdaging. Het Ricky die voorval oorleef? Hoe lank kan ’n mens jou geheime wegsteek?

Die immergewilde reisprogram Leef jou Reis met Gerrie Pretorius is kykNET se eerste volwaardige internasionale leefstylprogram en die jongste avontuur is weer Woensdag 11 April op die kassie.

Vanjaar wag daar weereens ’n klomp opwinding, van ongelooflike natuurtonele in Ysland tot die woestyne van Jordanië, asook ’n lekker klomp 4×4-bestemmings. Gerrie verken en wys ons die unieke reisbestemmings wat hom na aan die hart lê en hoe gemaak as jy dit ook wil besoek. Die program is al bekend daarvoor dat hulle soms die ongewone doen en behoorlik onder ’n land en sy mense se kultuur inklim en gereeld die afdraaipaaie vat, veral as dit met die 4×4 iewers in Afrika is.

Nuwe seisoene van immergewilde kykNET-reekse soos Kô laat ons praat met Heinrich Wyngaard, Koekedoortjie, Glam Guru, Safari 4×4 Roetes, La’t Wiel en Kampkos met aanbieders John-Henry Opperman en sy vrou, Beaté, is ook weer van begin April op dié kanaal te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.