‘Spoorloos 2’ begin eersdaags op kykNET draai

‘n Toneel uit ‘Spoorloos: Heksejag’.

Die lankverwagte tweede seisoen van die gewilde Afrikaanse dramareeks Spoorloos begin in Julie op kykNET draai.

Dié seisoen heet Spoorloos: Heksejag en beloof om net soos die vorige seisoen kykers voor die kassie vasgenael te hou. Gesoute akteurs soos Gérard Rudolf, Phillip Moolman en Elma Postma is saam met nuwelinge Andahr Cotton en die Isidingo-aktrise Lee Visagie in die reeks te sien.

Die hoofskrywer en regisseur is weer die bekroonde Ilse van Hemert met Christo Davids as haar assistent. Die ander lede van die skryfspan is Jan Lampen, Marisa Drummond en Beyers de Vos.

Die reeks se storielyn volg nie op die vorige seisoen nie en handel oor Adam (Andahr Cotton), ʼn jong man wat 18 maande ná ʼn ongeluk op die aand van sy matriekafskeid uit ʼn koma ontwaak.

‘n Toneel uit ‘Spoorloos: Heksejag’.

Sy metgesel is in die ongeluk dood, maar Adam kan niks daarvan onthou nie. Om die waarheid te sê eindig sy herinneringe die dag voor sy tiende verjaarsdag.

Adam se ontwaking wek baie belangstelling, maar nie almal is ewe bly dat dit gebeur het nie. Daar is ʼn vrou wat in die hospitaal rondsluip en die dokter is oënskynlik baie senuagtig. Wanneer Adam later ʼn traumatiese gebeurtenis onthou, besluit hy om self te probeer vasstel wat die aand van die motorongeluk gebeur het. Het dit enigiets te doen met die skoolmeisies wat van heksery verdink is?

“Hierdie reeks het dieselfde DNS as die vorige reeks. Dit speel in ʼn klein dorpie af, daar is ʼn verdwyning, daar is ʼn raaisel wat opgelos moet word en die verlede het ʼn groot invloed op die hede. Daar is dus twee tydvlakke en drade wat aan die einde weer moet saamkom,” sê Van Hemert.

“Dit was ʼn aanpassing om aan ʼn dramareeks te werk,” sê Davids, wat voorheen aan ʼn sepie gewerk het en ook bekend is as bekroonde teaterregisseur.

“Dis verskriklik harde werk om ʼn reeks aanmekaar te sit. Gelukkig is Ilse ʼn briljante leermeester. Ek het met die maak van Spoorloos: Heksejag in drie maande geleer wat ander mense seker in vyf jaar geleer het. Die eerste reeks van Spoorloos het so ʼn hoë standaard gestel dat ons alles moes uithaal om dit nóg beter te maak.”

‘n Toneel uit ‘Spoorloos: Heksejag’.

En die heksejag in die titel? “Heksejag is ʼn gejaag na iets of ʼn soeke na ʼn sondebok wat nie bestaan nie,” sê Ilse en lag. “Dit is dalk een van die eerste leidrade van die reeks.”

Vuyelwa Mpela, Hanli Rolfes en Bertha le Roux-Wahl is ook in die reeks te sien. Ander in die rolverdeling is Carla-Marie Myburgh as Wanda, Natassja Pretorius as Yvette en Huey Louw as Hannes.

Spoorloos: Heksejag begin op 14 Julie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.