‘Spoorloos 3’ binnekort op die kassie

Brent Vermeulen, Jane de Wet en Franci Swanepoel.

In die derde aflewering van die gewilde kykNET-dramareeks Spoorloos verdwyn ʼn baba van ʼn plaas in die Noord-Kaap.

Twee mense word dood in haar ouerhuis aangetref; die oppasser én die baba is spoorloos. Wat het daardie verskriklike nag gebeur? Wie het die ouers vermoor en hoekom is die dogtertjie ontvoer?

Vyftien jaar later kry haar familie die tyding: Sy is gevind.

Die 15-jarige Adri Erasmus, vertolk deur Jane de Wet (Griekwastad, Trackers), ontdek dat daar geen wettige dokumentasie van haar geboorte is nie.

Met die hulp van ʼn geniale skoolvriend, Xander, vertolk deur Brent Vermeulen (Griekwastad, Die stropers), stel sy vas dat ʼn kind 15 jaar tevore spoorloos verdwyn het. Die hoofverdagte is die kinderoppasser Liena April, aangesien Liena en die baba spoorloos verdwyn het.

Op soek na antwoorde beland Adri op ʼn plaas diep in die Noord-Kaap, waar sy met ope arms verwelkom word, maar dis gou duidelik dat nie almal wil hê dat sy die waarheid moet uitkrap nie.

Spoorloos: Steynhof se agt nuwe episodes volg dieselfde draad as die vorige seisoene, verduidelik Ilse van Hemert, die toesighoudende vervaardiger en teksredigeerder.

Van Hemert se Ochre Pictures, vervaardigers van die drie Spoorloos-reekse, was onlangs ook verantwoordelik vir die M-Net-trefferreeks Lioness.

“Al die Spoorloos-seisoene het dieselfde struktuur. Dit speel af in ʼn plattelandse gemeenskap en die verlede se geheime ontketen ʼn drama in die hede. In hierdie seisoen is dit ʼn bietjie anders omdat dit nie ʼn dorp in rep en roer is nie, maar die mense van die Noord-Kaapse spogplaas Steynhof.”

Diaan Lawrenson, Stiaan Smith, nuweling Annabell Kohl en Wayne van Rooyen.

Van Hemert sê dit is ʼn storie vol hartseer, angs en geluk. “En dit sal weer, soos met die vorige seisoene, kykers aan die raai hou oor wie die vark in die verhaal is.”

Die akteur en regisseur Christo Davids is hierdie keer in die hoofskrywerstoel en behartig ook die regie. Davids is alombekend vir sy rol as Errol in die SABC2-sepie 7de Laan, maar het die afgelope paar jaar naam gemaak as regisseur en dramaturg van onder meer bekroonde verhoogproduksies soos Queenie-hulle.

“Hierdie seisoen van Spoorloos het dieselfde DNS as die voriges, maar hierdie keer is grond, nalatenskap en geboortereg die spilpunte waarom alles draai. Soms doen mense ondenkbare goed om te kry wat hulle voel hulle verdien. Die gesegde lui: ‘Die waarheid sal jou vryspreek.’ In hierdie reeks is dit nie die geval nie.”

In die rolverdeling van Spoorloos 3 is Stiaan Smith (Toorbos, Meisies wat fluit, Hotel), Jane de Wet, Brent Vermeulen, Diaan Lawrenson (7de Laan, Raaiselkind), Arno Marais (Die Boekklub, Getroud met rugby), Eloise Clasen (Binnelanders, The river), Vinette Ebrahim (7de Laan, Skemerdans), Ivan D Lucas (Dryfsand, Soutmansland), Wayne van Rooyen (Fiela se kind, Inconceivable), Franci Swanepoel (Getroud met rugby, Sterlopers) en Kim Cloete (Fynskrif, Afgrond).

Spoorloos: Steynhof begin Dinsdag 6 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitsaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.