Springbokbaadjie glip vir oulaas oor Abbott se skouers

Leandie du Randt en Jimmy Abbott op die stel van ‘Slank’. (Foto: Facebook)

Maande lank het Slank-kykers met belangstelling die swaargewigbokskampioen Jimmy Abbott se gewigsverliesreis saam met Leandie du Randt, aanbieder van die TV-program, gevolg.

Verlede Sondag (21 Maart) is Abbott in die ouderdom van 61 by sy huis in Heidelberg dood weens hartversaking, slegs ʼn week voordat die laaste episode van dié leefstylreeks op Sondag 28 Maart op kykNET uitgesaai is.

Nie net het kykers gesien hoe die kilogramme (ʼn volle 25 kg) van dié sportman se liggaam wegsmelt nie, maar hulle het ook opnuut kennis gemaak met die sjarmante teddiebeer wat in die laat 1970’s begin naam maak het as rowwe diamant en swaargewigbokser. Hy het ook later as professionele stoeier uitgeblink.

Abbott is in 1977 met die Suid-Afrikaanse Amateurboksvereniging se merietekleure beloon en het ʼn Springbokbaadjie ontvang. In die laaste episode van Slank vertel hy ʼn staaltjie oor dié einste baadjie en hoekom hy dit sedert daardie dag in 1977 nog nie weer gedra het nie.

Leandie du Randt en Jimmy Abbott op die stel van ‘Slank’. (Foto: Facebook)

“Dit was vir my ongelooflik toe ek my Springbokbaadjie kry, en toe ek hom aantrek sê my pa: ‘Nou gaan jy seker grootkop kry’. Ek het dit net daar uitgetrek en eenkant gegooi en gesê: ‘As jy hom wil dra, dra hom. Ek gaan nie’.”

Du Randt het hom verras met die baadjie, wat ná bykans vier dekades weer vir die bokskampioen gepas het. Hy het dit in ʼn hartroerende oomblik weer oor sy breë skouers geglip.

“Jy is regtig ʼn inspirasie vir so baie mense, jy moet dit weet. Jy mag maar grootkop kry, al weet ek jy sal nooit kan nie, want jy het die Here se nederigheid in jou,” het Du Randt gesê net voordat hy met groot opgewondenheid die baadjie aangetrek het.

Volgens Du Randt was Abbott se skielike dood vir haar onwerklik, maar sê sy het “rustigheid in my hart dat hy by die Here is”.

“Ek het altyd as ek by hom en Annette [sy vrou] gekuier het gevoel asof ek in die Here se teenwoordigheid is. Hulle het my telkens emosioneel gemaak, asof die Heilige Gees deur hulle met my praat en ek het nooit hulle huis verlaat sonder dat ek ʼn traan gestort het en ʼn diep gesprek gehad het nie.

Jimmy Abbott in sy Springbokbaadjie. (Foto: HWA Honour Wrestling Association/Facebook)

“Jimmy het my geleer dat die Here klaar vir jou geveg het en daarom hoef jy nie te probeer om teen die duiwel te veg nie. Jimmy is ʼn man wat al baie teëspoed in sy lewe oorkom het. Hy is ʼn goeie voorbeeld van iemand wat slegte ervarings en ʼn slegte opvoeding gevat het en ten spyte daarvan ʼn sukses van sy lewe gemaak het. Hy het die Here se liefde uitgeleef.”

Sy vertel Abbott, ook bekend as evangelis, het “’n kinderlike geloof in God gehad”.

“Dit is so ongelooflik dat hy op Slank vir mense kon wys watse mens hy eintlik was en hoe amazing sy karakter was, want baie mense het hom dalk onthou as iemand wat mense loved to hate. Ek is bly dat hy op Slank sy naam in ere kon herstel en dat mense kon sien watse ongelooflike man, mens en kind van God Jimmy Abbott was.”

Kyk hier na die spesiale oomblik toe Jimmy Abbott weer sy Springbokbaadjie aantrek:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris

Dit slaan my baie keer plat hoe mense teenoor mekaar optree. Afguns, neid, jaloesie en hoogheid is die mens se ondergang. Ervaar en beleef dit nogal gereeld. Gelukkig kwets sulke optrede my nie meer nie. Ek beskou dit as mense wat onseker is van hulself en dit op ander projekteer om hul eie tekortkomings te verdoesel. Ek is gelukkig van sulke beuselagtighede bevry.

Noels244

Ek het sommer gisteraan snot en trane gehuil toe ek na daai laaste episode kyk. Ag Jimmy, jy kon nie jou laaste episode sien nie, maar daar waar jy nou is, is dit in elk geval soveel beter. Sien jou wanneer ons ook huistoe kom.