Stad se gejaag vir eers verby vir Johrné

Johrné van Huyssteen heet vir eers die omroeperswese vaarwel. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Vir 1 600 oggende het Johrné van Huyssteen se wekker om 03:30 afgegaan sodat hy gereed kon wees om GROOTfm se Die GROOT Ontbyt, een van die land se gewildste radio- en televisieprogramme, aan te bied – sonder dat hy ʼn enkele keer verslaap het.

Hy en sy vrou, Alet, verhuis egter eersdaags na Clarens, die plattelandse dorpie tussen die Vrystaatse berge, waar hulle saam ʼn eiendomsagentskap sal bestuur terwyl hulle ook ʼn winkel met allerhande items soos linne en erdeware gaan besit en bestuur.

Johrné vertel aan Maroela Media dié skuif na Clarens gebeur baie soos die een wat hy sewe jaar gelede van Bloemfontein na Pretoria gemaak het om Die GROOT Ontbyt aan te bied: skielik en spoedig.

“Ek was destyds dolgelukkig op Bloemfontein toe Hardus Zevenster, eienaar van GROOTfm, my uit die bloute bel en vra of ek nie sou belangstel om die aanbieder van die nuwe, hibriede model van radio en televisie wat hy in gedagte gehad het, te wees nie. Dit was aanvanklik ʼn eksperiment en ek het ja gesê vir die pos sonder dat iemand al in dié konsep geglo het,” vertel Johrné.

“Hardus en Karen Meiring, toe nog hoof van kykNET, was nog besig om die konsep deur te trap en ek was al twee maande in Pretoria voordat ons nog geweet het of dit enigsins gaan werk. Dit was ʼn baie ingewikkelde konsep wat ons uiteindelik vervolmaak het, en ek glo nie daar is enige iemand anders wat dieselfde konsep al ooit kon regkry soos GROOTfm nie.”

Johrné en Alet se hondekinders, Mnandi en Stoffel. (Foto: Facebook/Johrné van Huyssteen)

Terwyl hy by Die GROOT Ontbyt was, het hy en Alet saam met hulle twee honde, Stoffel en Mnandi, in ʼn huis in Sunnyside gebly.

“Die oë het gewoonlik gerek wanneer ek sê ons bly in dié voorstad, maar Sunnyside het my gered van Pretoria. Ek is nie ʼn Pretoria- of stadsmens nie, maar in Sunnyside was dit vir my lekker. Daar was ʼn ander vibe,” sê Johrné.

Nou gaan hy en Alet in ʼn klein huisie met blou vensterrame en ʼn groot, lowergroen grasperk in die hartjie van die Vrystaat bly, en die plattelandse leefstyl is iets waarna hy geweldig uitsien.

“Ek sien uit daarna om ʼn meer normale lewe te lei, waar ek eers later in die oggend opstaan en waar ek tussen die berge kan fietsry en in die dam kan swem. Ek gaan nou die ou wees wat ek al vir jare beny – die een wat ʼn winkel op ʼn klein dorpie besit en as jy inry by die dorpie sien jy sy bakkie daar staan terwyl hy op ʼn Dinsdagoggend net rustig sit en koffie drink want die dorpie is so stil.

“Ek voel uiters bevoorreg dat dit nou al in my lewe met my gaan gebeur, en dat ek nie hoef te wag vir my aftrede om so iets aan te pak nie. Ek het op klein dorpies grootgeword, so ek is mal daaroor. Ek is nie ʼn uitgaanmens nie – ek eet min uit, gaan nie flieks toe nie en is op my gelukkigste as ek kan braai by die huis. Ek kan nou nog nie kom oor hoe mooi dit is daar waar ek nou permanent gaan woon nie. Ek is skrikkerig, maar ek is ook baie opgewonde.”

Johrné is op Griekwastad gebore, maar as kind het hy en sy twee susters baie saam met hulle ouers rondgetrek, veral oor die Vrystaat heen. Die gesin het die langste op Reitz gewoon, waar Johrné aan die Hoërskool Reitz gematrikuleer het.

Die huisie met die blou vensterrame in Clarens waar Johrné en Alet gaan woon. (Foto: Facebook/Johrné van Huyssteen)

“My pa was in die bankwese en later by die koöperasie en dit het gereelde verskuiwings tot gevolg gehad. My ouers het ook een keer geskei en weer met mekaar getrou, so dit het ook nog intussen ʼn trekkery veroorsaak,” skerts hy.

Al dié rondtrekkery het hom ʼn soort veerkragtigheid gegee waarby hy vandag baie baat vind, sê hy.

“Ek moes kort-kort van maats afskeid neem en weer nuwe mense leer ken. Ek dink dit help my vandag waar ek op ʼn openbare platform werksaam is, want ek gee werklik nie om as iemand met my lelik is of nie van my hou nie. Dit help my ook om maklik nuwe mense te leer ken en vinnig gemaklik rondom mense te raak.”

Juis daarom kon hy gemaklik met Maye Musk, ma van die 49-jarige Tesla-hoof en entrepreneur, Elon Musk, met ’n geskatte rykdom van $180 miljard, in Afrikaans ʼn onderhoud voer.

En het hy die moed gehad om vir Angelo Agrizzi, voormalige hoof van Bosasa en skrywer, tydens ʼn boekonderhoud te vra of Gavin Watson, die sakeman wat in ʼn gru-ongeluk gesterf het, in Australië of in die hemel is.

“Ek het hom reguit gevra, waarop hy geantwoord het: ‘No, he is definitely in heaven. He is definitely dead’,” vertel Johrné met sy kenmerkende ondeundheid waarvoor Die GROOT Ontbyt-kykers so lief geraak het.

Hy verklap dat hy “per ongeluk” in die uitsaaiwese beland het toe Theo Erasmus, destyds hoof van kykNET, hom genader het om die musiekprogram Gons aan te bied. Gons het later een van die eerste programme op die alternatiewe Afrikaanse musiekkanaal, MK, geword. Hy en Francois Nolte het dié program saam aangebied.

“Francois was die eerste persoon wat die woord ‘hallo’ op MK gesê het. Later het die mense met wie ons onderhoude gevoer het vir ons begin ‘oom’ sê en ons is weg by MK omdat ons te oud geraak het vir die kanaal se mark.”

Johrné en sy kollega, Elsa Esterhuizen, op die stel van Die GROOT Ontbyt. (Foto: Facebook/Johrné van Huyssteen)

Hy het ook talle ander poste in die mediabedryf beklee en hy was onder meer omroeper by die Vrystaatse radiostasie OFM en was hy ook drie jaar lank die redakteur van DeKaT Man.

In die vroeë 2000’s, nadat hy teologie studeer het en ʼn honneursgraad in Bybelkunde asook ʼn meestersgraad in praktiese teologie verwerf het, word hy saam met Jaco Spies die stigterslede van Geblikte Afrikaans – ʼn Afrikaanse projek wat later sou lei tot die ontstaan van die musiekgroep ddsisselblom.

Lienka Spies, Jaco se vrou, is Alet se suster en is dus Johrné se skoonsuster. “Sy was nie altyd deel van die groep nie. Sy het ons eers net gehelp met administrasie tot ons agtergekom het sy kan sing. Die groep het eers net vir sakgeld opgetree, maar later het mense van ons oorspronklike liedjies begin aanvra op vertonings en só is ddsisselblom gebore.”

Hy lag as hy vertel hy wou aanvanklik ʼn prokureur word voordat hy hom in die akademie gesien het.

“Ek wou ʼn prokureur word, want ek wou ryk wees en uiteet en ʼn Porsche ry. Later het ek myself as ʼn akademikus gesien en gedink ek gaan op my fiets klas toe ry en boeke skryf. Toe begin ek en Jaco, wat ek as student leer ken het, die blikkies opdroom en vandaar het die een ding gelei na die ander.”

Tog bly die term van bekendheid vir hom relatief. “In ʼn land van sowat 60 miljoen mense, weet minder as een miljoen van hulle wie ek is. Mense sal my egter in die Spar trompop loop en geselsies aanknoop, maar ek neem bitter selde saam met hulle foto’s. Ek dink mense soos Bobby van Jaarsveld word meer gereeld vir foto’s gevra. Mense knoop eerder met my geselsies aan op die lughawe of vertel vir my watse groot aanhangers hulle ma’s van my op Die GROOT Ontbyt is,” skerts hy.

Die span van Die GROOTfm groet vir Johrné. (Foto: Facebook/Die GROOT Ontbyt)

Hoewel hy die omroeperswese gaan mis, is dit die span van GROOTfm na wie hy die meeste gaan verlang, sê hy. Pierre Breytenbach neem eersdaags die leisels by Johrné oor.

“Dit is ʼn ongelooflike groep mense om mee saam te werk en ek gaan baie na hulle verlang. Dit is egter tyd om aan te beweeg – ek kan nie eintlik glo ek het vir so lank een ding gedoen nie. My grootste vrees is om eendag terug te kyk en te dink ek het nie iets opwindend met my lewe gedoen nie. Die lewe is só kort.

“Ek wil mense aanmoedig om te gaan sit en dink hoe hulle sal voel as hulle op die ouderdom van 70 terugkyk na hulle lewens. Gaan dit vir jou boring wees of gaan jy tevrede wees? As dit voel asof jy nie tevrede gaan wees nie, gaan uit en gaan doen iets.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.