Stefan Ludik, Arno Greeff is ‘playboyz’ in #JouSondagDrama

Verlede Sondagaand het kykNET-kykers voor die kassie ingeskuif vir die rolprent Bottervisse in die jêm, wat geskoei is op die gelyknamige Deon Meyer-kortverhaal. Flieks soos Desember, Stille nag, Vat ʼn kans en Boesman, my seun, het ook reeds verskyn.

Vandeesweek hervat die reeks met Playboyz, ʼn fliek geskoei op ʼn gelyknamige verhoogstuk geskep deur Deon Opperman en Garth Holmes.

Die kanaal se oogmerk met dié rolprentprojek is om uiteenlopende skrywers van alle agtergronde en ervaringsvelde die geleentheid te gee om draaiboeke te skryf, hul bestaande verhoogtekste te verwerk vir dié formaat, of om oorspronklike draaiboeke te skryf.

Verskeie gesoute regisseurs asook regisseurs wat hul debuut maak, is die geleentheid gegee om hul slag met regie te wys. Kykers kan uitsien na uiteenlopende temas en genres. Die ernstiger dramas (Die dag is bros en Stille nag) word afgewissel met ligter romantiese komedies (Vat ʼn kans) en komedies (Die skandaal).

Daarby is die vervaardigers, Soné Combrinck en Deon Opperman, baie opgewonde oor die skryftalent van Candice Johannes (Draadloos) en Lize Vosloo (Desember).

Die rolverdeling is deurlopende ensemblewerk en sluit in Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Franci Swanepoel, Simon Bruinders, Amalia Uys, Leandie du Randt Bosch, Shaleen Surtie-Richards en Armand Aucamp. Jonger talent soos dié van die tienjarige Dirk Jacobs en Ian Roelofs is ook gebruik.

Op Sondag 24 Februarie word Playboyz uitgesaai. Dié komedie handel oor vyf vriende wat gedwing word om ter wille van oorlewing op ʼn vreemde manier geld in te samel.

Vyf vriende, elkeen met ʼn unieke probleem wat met geld reggestel kan word, besluit om saam die bul, op ʼn onortodokse manier, by die horings te pak om sodoende hul onderskeie probleme uit te sorteer. Om suksesvol te wees is egter nie maklik nie en hulle moet eers ʼn paar harde klippe kou voordat die geld begin inrol.

Mike (Stefan Ludik) en sy sakevennoot stamp koppe oor die finansiële toestand van hul kroeg, Doppies. Sean (Deanrè Reiners) is rykmanskind en het nog altyd gekry presies wat hy wou hê, totdat hy sy studies opskop en onterf word. Ryno (Arno Greeff) is ʼn aspirant‑rugbyspeler met ʼn buite-egtelike seuntjie en ʼn eks-meisie wat hom dagvaar vir meer onderhoud.

Rollie (Wynand van Vollenstee) is die ‘wheel-n-dealer’ en is meestal kniediep in die moeilikheid oor lenings en skuld.  Emma (Anlia van Rensburg) is ʼn jong aktrise wat op haar groot deurbraak wag. Sy kan dalk die manne help om hul droom te bereik.

Die gebeure wat afspeel nadat Rollie ʼn blink idee kry, oortref almal se verwagtinge en druk hierdie groep vriende tot op die randjie van opgee!

Deon Opperman het die draaiboek geskryf en Marisa Drummond het die regie behartig.

Skakel Sondag om 20:00 in op kykNET, DStv-kanaal 144, vir #JouSondagDrama.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos ·

is dit n afrikaanse verwerking van die rolprent The Full Monty?

Smirre ·

Afrikaanse weergawe van “full monty”. Kan hulle nie iets meer oorspronklik uitgedink het nie ? Sal maar die rugby hoogtepunte kyk ipv die snert.

Shanie ·

Ek dink dit gaan snaaks wees! Kan nie wag om dit te sien nie, of dit nou die afrikaanse weergawe van the full monty is of nie, dis nie neerdrukkend en depro nie! Die lewe is moeilik genoeg. Sal lekker wees om net te ontspan en te lag!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.