‘Sterlopers’ terug op die kassie

Sterlopers

Foto: Facebook/Sterlopers

Sterlopers kom terug vir ʼn tweede seisoen op televisie. Dié TV-reeks bied kykers ʼn blik op die vermaakbedryf se ander sy – iets wat ʼn mens nie sommer sien nie.

Maroela Media het met Franci Swanepoel wat die rol van Lorraine Jooste vertolk, gesels oor Sterlopers.

Volgens Franci is dié reeks ʼn akkurate voorstelling van die vermaakbedryf en dat die mooi én lelik van dié bedryf goed opgesom word. “Nuwe sterre wat gebore word moet baie hard werk om te kom waar hulle wil wees, en dan is daar natuurlik uitbuiters wat jong talent probeer gebruik vir eie gewin.” Sy verwys na haar karakter as een van dié “uitbuiters”.

Franci meen dis ook ʼn goeie manier om vir mense te wys dat nie alle roem sommer oornag kom nie. “Daar is bloed, sweet en trane betrokke, en Sterlopers verteenwoordig dit baie goed.”

Franci sê Sterlopers se gewildheid kan toegeskryf word aan die feit dat dit die eerste van sy soort is. “Ek dink dis verskriklik interessant en ongelooflik mooi geskiet – absoluut oorspronklik. Ek dink Deon Opperman is ʼn genie want hy verstaan dié bedryf.”

Daar is baie om na uit te sien in die tweede seisoen en Franci meen kykers kan nuwe liefde én verhoudings wat uiteenspat verwag. “Kykers kan ook heerlike musiek verwag – bekende sowel as nuwe musiek. Daar is komedie, drama, hartseer en opwinding en ek hoop die kykers gaan sê, soos in die eerste reeks, ‘sjoe, dis jammer dis net ʼn halfuur lank’”.

Die tweede seisoen van Sterlopers begin Woensdag 6 Januarie om 21:00 op kykNET.

Maroela Media het verlede jaar Sterlopers se stel gaan besoek. Kyk hier na dié video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.