Stiaan Smith oor rol in ‘Spoorloos 3’

Stiaan Smith as Daniel Steyn in ‘Spoorloos: Steynhof’. (Foto: kykNET)

In die derde seisoen van die gewilde dramareeks Spoorloos, vertolk Stiaan Smith die rol van Daniel Steyn – die broer van die man wie se kind 15 jaar gelede van ʼn plaas in die Noord-Kaap verdwyn het.

Spoorloos: Steynhof begin vandag (Dinsdag) weer op kykNET draai en beloof om kykers vasgenael te hou voor die kassie met nog ʼn naelbyt-storielyn.

Dié keer verdwyn ʼn baba van ʼn plaas in die Noord-Kaap en word twee mense dood in haar ouerhuis aangetref. Die oppasser en die baba is spoorloos, maar 15 jaar later kry haar familie die tyding: Sy is gevind.

Wat het daardie verskriklike nag 15 jaar gelede gebeur? Wie het die ouers vermoor en hoekom is die dogtertjie ontvoer?

Intussen ontdek die 15-jarige Adri Erasmus, vertolk deur Jane de Wet (Griekwastad, Trackers), dat daar geen wettige dokumentasie van haar geboorte is nie.

Met die hulp van ʼn geniale skoolvriend, Xander, vertolk deur Brent Vermeulen (Griekwastad, Die stropers), stel sy vas dat ʼn kind 15 jaar tevore spoorloos verdwyn het. Die hoofverdagte is die kinderoppasser Liena April, aangesien Liena en die baba spoorloos verdwyn het.

Op soek na antwoorde beland Adri op ʼn plaas diep in die Noord-Kaap, waar sy met ope arms verwelkom word, maar dit is gou duidelik dat nie almal wil hê dat sy die waarheid moet uitkrap nie.

Stiaan Smith agter die skerms op die stel van ‘Spoorloos: Steynhof’. (Foto: kykNET)

Volgens Ilse van Hemert, toesighoudende vervaardiger en teksredigeerder, volg Spoorloos: Steynhof se agt nuwe episodes dieselfde draad as die vorige seisoene.

Die akteur en regisseur Christo Davids is hierdie keer in die hoofskrywerstoel en behartig ook die regie.

Smith skryf die gewildheid van die Spoorloos-reeks toe aan die gehalte van die tekste. “Ilse en Christo is die tipe skrywers wat soveel tyd en energie aan hulle skryfwerk bestee en wat altyd die ekstra myl stap. Elke goeie storie begin by ʼn goeie teks.”

Volgens Smith het hy “veilig gevoel” onder leiding van Davids. “Christo is ʼn bondel energie en weet presies wat hy wil hê. Hy het ʼn baie goeie houvas op die storie en dit laat ʼn mens veilig voel in ʼn omgewing waar die pas waarteen ons werk baie vinnig is. Dit is lekker om saam met iemand te werk wat presies weet wat hy wil hê.”

Diaan Lawrenson (7de Laan, Raaiselkind), Arno Marais (Die Boekklub, Getroud met rugby), Eloise Clasen (Binnelanders, The river), Vinette Ebrahim (7de Laan, Skemerdans), Ivan D Lucas (Dryfsand, Soutmansland), Wayne van Rooyen (Fiela se kind, Inconceivable), Franci Swanepoel (Getroud met rugby, Sterlopers) en Kim Cloete (Fynskrif, Afgrond) is ook in Spoorloos: Steynhof te sien.

Spoorloos: Steynhof begin vandag (Dinsdag 6 Julie) om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitsaai.

Hier is nog ‘n paar foto’s wat op die stel van Spoorloos: Steynhof geneem is:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.