Stories agter die sprokies

Sorina Erasmus (Foto: Verskaf)

Sorina Erasmus (Foto: Verskaf)

“ʼn Hewige donderbui het oor die dorp uitgesak en rukwinde het erg aan die markiestent se dak en vensters geruk. Ek het gedink dis my einde en het skoon hardop begin bid. Die kameramanne het aanhou beeldmateriaal skiet sodat íémand, al was dit nie ons nie, dié storie kon vertel.”

Só vertel Sorina Erasmus, aktrise, sangeres en aanbieder van Ons sprokiesbruilof, oor een van die onvergeetlikste oomblikke tydens die verfilming van dié splinternuwe werklikheidsreeks van kykNET.

Dié reeks volg 20 paartjies van die voorbereidings vir hul troue tot voor die kansel en na die onthaal.

Sorina meen dié troues, wat plaasgevind het van Matjiesfontein tot op die Kaapse platteland tot Bloemfontein, is die grootste verskeidenheid troues wat kykers moontlik in ʼn lang tyd sal sien.

“Daar is alle soorte troues: Ons hou vyfstertroues, doen-dit-self-troues, tradisionele troues en selfs ʼn troue in ʼn karavaanpark. Dit is regtig ʼn wonderlike reeks wat baie mense gaan geniet.

“Daar is boonop soveel naelbytoomblikke! Selfs wanneer jy alles self reël is dit selde dat alles volgens plan verloop. As die koek nie omval nie, dan waai die tent weg … maar ek gee niks nou weg nie, dié reeks sal sy geheime self verklap,” sê sy.

Sy vertel hoewel die troues ʼn kleurryke verskeidenheid bied, deel hulle ʼn gemeenskaplike doel: om die liefde te vier. “Op die ou einde seëvier die liefde en elkeen stap weg met hul sprokiestroue en hul eie stories om te vertel. Dis ʼn lieflike reeks met wonderlike stories.”

Die eerste episode van die eerste reeks van Ons sprokiesbruilof word Donderdag (9 Februarie) om 20:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

Vir meer inligting, besoek kykNET se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.