‘Suidooster’ saai 1 000ste episode uit

Die gewilde kykNET-sepie Suidooster saai vandag (Dinsdag) sy 1 000ste episode uit. Dié episode is reeds in Februarie vanjaar opgeneem by Atlantic Studios, die ateljeekompleks in Milnerton, Kaapstad, waar die sepie vervaardig word.

Suidooster, wat in die fiktiewe woonbuurt van Ruiterbosch afspeel, se eerste episode is op 16 November 2015 uitgesaai en was die eerste Afrikaanse sepie wat in die Kaap vervaardig is. Aanvanklik is slegs drie episodes weekliks uitgesaai, maar weens die sepie se toenemende gewildheid is ʼn vierde episode in 2017 en ʼn vyfde episode in 2018 bygevoeg.

Cedwyn Joel vertolk die rol van AB Samsodien in ‘Suidooster’ (Foto: Verskaf)

Talle veteraanakteurs is sedert die eerste dag van die sepie in Suidooster te sien, onder meer Denise Newman (Bridgette Jacobs), Marcel van Heerden (Chris du Plooy) en Cedwyn Joel (AB Samsodien).

Volgens Wilmer Müller, publisiteitsbestuurder van Suidooster, was dit egter ook belangrik vir kykNET en die vervaardigers om jong akteurs ʼn kans te gee.

“Ons het die afgelope paar jaar ongelooflike nuwe talent ontdek en hulle ook die kans gegee om huishoudelike name te raak,” sê hy. Boonop het talle bekende persone soos Deon Meyer, Darren Simpson, Alistair Izobel en Lize Beekman al as hulself in Suidooster verskyn.

“Om die mylpaal van die 1 000ste episode te vier, gaan ons hande vat met die Rooikruis-kinderhospitaal en sal Suidooster in die voorsienbare toekoms betrokke raak by die geldinsamelingsprojekte van dié instansie,” sê Müller.

Bradley Joshua, een van Suidooster se uitvoerende vervaardigers, se visie vir die toekoms is dat die sepie moet aanhou om goeie stories te vertel.

Suidooster se stories word geloofwaardig uitgebeeld sodat dit vir altyd in mense se harte en herinneringe sal voortleef. Dit is vir ons belangrik om aan te hou om ʼn groter gehoor te bereik met goeie vermaak, inhoud van gehalte en diverse karakters, waarmee alle Suid-Afrikaners hulle kan vereenselwig,” sê Joshua.

Dean John Smith vertolk die rol van Wade Daniels in ‘Suidooster’ (Foto: Verskaf)

Cedwyn Joel, wat die rol van AB Samsodien vertolk, sê dit is vir hom ʼn voorreg om van dag een in Suidooster te wees.

“Wat Suidooster uniek maak, is dat dit stories vertel wat nog nie tevore in sepies vertel is nie. Dit sluit byvoorbeeld die doen en late van die Samsodien-gesin en hul gewoontes en tradisies as Moslems in,” sê Joel.

Suidooster vorm baie deel van mense se herinneringe, want dit is deel van hul daaglikse roetine,” sê Dean John Smith, wat te sien is as Wade Daniels.

“Wat dit vir my lekker maak en wat my trots maak om deel van die span te wees, is omdat dit ʼn sepie is wat long overdue is. Dis iets wat lankal al moes kom. Dit capture die subcultures in die bruin kultuur,” het hy onlangs in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

“Om deel van so iets te wees sonder om dit te beplan, terwyl jy net actually besig is om jou passie uit te leef, is wonderlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.