‘Suidooster’ se Bennie ʼn vars bries op die kassie

Richard September vertolk die rol van Bennie in ‘Suidooster’. (Foto: Verskaf)

Richard September het soos ʼn vars bries in September verlede jaar op die stel van die gewilde kykNET-sepie Suidooster ingewaai en sedertdien het sy geliefde karakter, Bennie, al hoe dieper in kykers se harte gekruip.

Bennie is een van die jongste toevoegings tot Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die sepie afspeel. Kykers vereenselwig met die karakter se oënskynlike onskuld en eerlike, reguit aanslag en geniet die komiese element wat dié karakter aan die storie verleen.

“Bennie het baie beskermd deur sy ma grootgeword en benader die samelewing met ʼn tipe ongekunstelde onskuld. Sy morele waardes is geskoei op wat sy ma hom geleer het en dit beteken dat hy ʼn baie beginselvaste ou is,” sê September in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Ek dink hy bring die feit dat soveel mense ʼn front in die lewe voorhou en dat almal so bekommerd is oor hoe hulle lyk, of wat ander mense van hulle dink, na vore. Wat Bennie uitsonder, is dat hy nie veel daaroor dink nie en hy tree dus met ʼn tipe vryheid op omdat hy nie te hard probeer om ander mense te beïndruk nie. Hy het nie baie angstigheid oor homself nie en dit is verfrissend om ʼn karakter te sien wat die dinge sê wat ander karakters nie sal waag nie.

“Omdat hy so direk is in hoe hy met mense omgaan, is daar baie ruimte vir komiese aspekte. Deur te sê wat ander mense nie kan sê nie, lewer hy eintlik kommentaar – wat ander karakters nie kan doen nie, want dit is nie polite nie. Daarom speel Bennie ʼn baie spesiale rol in sekere situasies omdat hy so eerlik en reguit is.”

September lig ook Bennie se kinderlikheid en kompeterende streep uit as twee van sy karaktereienskappe wat hom uniek maak. “Hy wil altyd in sy lewe bewys dat hy goed kan doen wat ander mense miskien nie kan doen nie, al is hy nie in alles goed nie.”

Richard September as Bennie in ‘Suidooster’.

Hy vertel dat dit vir hom makliker is as wat mense dink om met Bennie te vereenselwig omdat hy homself in sy eie lewe ook soms as ʼn buitestander beskou.

“Ek het voorheen ook rolle vertolk wat buite die norm van die samelewing is. Ek het ʼn passie daarvoor om daardie tipe rolle te speel. Bennie se onbewustheid waarmee hy dinge aanpak, prikkel ook my persoonlike sin vir humor.”

Die 32-jarige akteur van Bellville in die Wes-Kaap gee toe dat hy, veral aan die begin, getwyfel het of hy die rol van Bennie korrek vasvang. “Dit is normaal om as akteur onseker te voel oor ʼn rol, veral as jy nie jou rol ten volle verstaan nie. Aan die begin was daar altyd ʼn vrees dat ek dinge nie reg doen nie, of dalk te veel oordryf,” sê hy.

“Baie aspekte van wie Bennie is, kom voor in almal se lewens en in baie verskillende tipes mense. Ons ken almal iemand wat soms voorbarig voorkom,” voeg hy laggend by.

Volgens September is dit ʼn ongelooflike ervaring om die stel met van Suid-Afrika se bekendste akteurs te deel.

“As kunstenaar is dit vir my ʼn voorreg om as ʼn persoon in Suid-Afrika ʼn vaste werk en struktuur te hê. Ek deel daardie struktuur en spasie met egte mense met ʼn goeie sin vir humor. Ek kom baie goed oor die weg met almal in die Suidooster-span en het ʼn goeie verhouding met almal daar. Daar is ʼn groot diversiteit van mense wat almal goed bymekaar kom om die gevoel van die Ruiterbosch-gemeenskap te skep.”

Richard September as Bennie in ‘Suidooster’.

September was ook voorheen te sien in die kykNET-komediereeks Buurtwag en die reeks Die Boland Moorde. Hy is ook ʼn gesoute teaterakteur en was onlangs te sien in die stuk Die avonture van Bal-oog en Brommel: Moord in Inxiastraat teenoor die Fynskrif-akteur De Klerk Oelofse.

“Om ʼn sepieakteur te wees, het baie organies vir my gebeur. Ek het op ʼn punt gekom waar ek my vaardighede wou uitbrei en my horisonne verbreed. Teater, film en televisie het elkeen ʼn verskillende tipe fokus wat dit van ʼn mens as akteur verg en ek het vir myself gesê ek wil sien hoe ek kan groei en leer uit die uitsaaiwese.”

Hy voeg by dat hy op ʼn baie goeie tyd die rol van Bennie losgeslaan het. “Ek kon nou, soos baie ander akteurs, in die posisie gewees het waar ek twee of drie teaterproduksies op een fees het wat nou gekanselleer is. Ek voel gelukkig en bevoorreg dat ek nie tydens die inperking gely het nie.”

Suidooster word weeksaande om 18:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.