‘Suidooster’-wind waai Ingrid Paulus tot in Kaap

Die akteurspaar Denver Vraagom en Ingrid Paulus. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Meer as twee dekades lank het Ingrid Paulus die skoene van 7de Laan se geliefde Vanessa vol gestaan. Toe dié sepie verlede jaar tot ʼn einde kom, het dit vir haar gevoel soos ʼn “familielid wat sterf”.

“Met elke hoofstuk wat tot ʼn einde kom, is daar ʼn nuwe een wat begin,” vertel sy aan Maroela Media.

Haar hart is nou rustig oor die lang pad wat sy met 7de Laan geloop het, en haar voete is nou op ʼn nuwe bodem gevestig.

Sy werk sedert die begin van die jaar as regisseur by die kykNET-sepie Suidooster. Sy, haar man, Denver Vraagom, en hul twee dogters het hul lewe in Johannesburg vaarwel geroep om hulself in die Kaap te vestig.

Dit was ʼn uitdaging, erken Ingrid, en ʼn groot aanpassing. Denver se wortels lê in die Kaap, maar Ingrid het in Pretoria grootgeword en daarna vir dekades in Johannesburg gebly.

Sy is vandag dankbaar vir die span mense by Suidooster wat haar met ope arms verwelkom het en van die begin af laat tuis voel het.

Ingrid is veral bly om weer saam met Theodore Jantjies, teenoor wie sy jare lank in 7de Laan gespeel het, te werk.

“Dit is heerlik om weer saam met hom te werk. Hy weet presies hoe om van my idees af te speel.”

Die regisseurshoed wat sy tans dra, is nie nuut nie. Sy het reeds jare gelede as regisseur by 7de Laan begin werk. Dit het haar nog altyd geïnteresseer om te sien wat agter die skerms aangaan, vertel sy. Die wisselwerking tussen die regisseur en akteurs fassineer haar. “Dis nie ʼn one man show nie. Dit is hoe die span saamwerk – ʼn collaboration tussen die tegniese span en rolverdeling.

“Ek probeer dinge bietjie anders doen by Suidooster, maar mens hou by die resep. Die belangrikste ding is om die storie te vertel.”

Sy het lank in mense se sitkamers gekuier gedurende haar tyd by 7de Laan. Dit was vir haar amper die hartseerste deel van die sepie wat tot ʼn einde gekom het – die familiebande wat tussen die akteurs en hul gehore gesmee is, is skielik geknip.

Sy is egter dankbaar dat hulle vir so lank stories kon vertel.

Oor wanneer sy weer op die kassie gaan verskyn, het sy nog nie klarigheid nie.

“As daar geleentheid is, sal ek dit doen. Daardie tyd sal weer kom. Ek leef deesdae meer in die oomblik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.