Superfeeks én superma – Christia Visser se twee nuwe rolle

Christia Visser as Yolandi in ‘Binnelanders’. (Foto: Verskaf)

Christia Visser was in die eerste trimester van haar swangerskap toe sy vir die eerste keer op die stel van die kykNET-sepie Binnelanders die rol van die bedrieglike Yolandi vertolk het.

Sowat ses maande later skroom kykers nie om op sosiale media te laat hoor dat hulle niks van Yolandi, die superfeeks wat in Tracy (Melinda Viljoen) en dr. Conrad Bester (Hykie Berg) se slaai kom krap, hou nie.

Christia, bekend vir fliekrolle in Ballade vir ʼn enkeling, Hollywood in my huis en Kaalgat Karel, is ook gewild as sangeres. Sy het reeds ʼn rits treffers wat die radiogolwe getref het, soos “17 Shots”, “Die deur”, “Beste leuen wen” en “Wildste oomblik”, agter haar naam.

Sy beleef egter self eersdaags een van haar eie wildste oomblikke wanneer sy ma word van haar en haar man, Thomas, se eersteling – ʼn dogtertjie.

Christia Visser as Yolandi in ‘Binnelanders’. (Foto: Verskaf)

Volgens Christia was dit ʼn uitdaging om die vinnige pas op ʼn sepiestel vol te hou met die simptome van moegheid en naarheid wat met die eerste trimester van ʼn swangerskap gepaard gaan.

“Dit het my genoop om vir die mense met wie ek nou saamgewerk het te sê van my swangerskap, sodat hulle sou weet wat met my aangaan wanneer ek skielik van die stel af moes hardloop,” vertel die aktrise laggend.

Dit is die eerste keer wat sy só ʼn manipulerende karakter vertolk en sy het die uitdaging terdeë geniet.

“Ek sien baie mense op sosiale media sê goed soos ‘hulle moes nie vir jou so ʼn rol gegee het nie’ en ‘ek gaan nou nie meer na jou musiek luister nie’, maar mense vergeet ek is ʼn kunstenaar wat verskillende goed wil doen en verskillende uitdagings wil aanvaar. Ek wou die rol gehad het en ek het dit so outentiek as moontlik vertolk.”

Sy sê dat sy nie skroom om kykers op sosiale media te antwoord wanneer hulle lelike dinge oor haar, of die karakter, kwytraak nie.

‘n Swanger Christia op die strand. (Foto: Instagram)

“Ek probeer om nie mense se kommentaar persoonlik op te neem nie, maar dit is tog belangrik om mense op te voed. Mense is heeltemal te lief daarvoor om lelike kommentaar te lewer.”

kykNET het selfs in Oktober verlede jaar ʼn advertensieveldtog van stapel gestuur om die kollig te plaas op dié neiging in ʼn poging om ʼn gesonder omgewing op sosialemediaplatforms te skep waar kykers hul opinie en kommentare kan deel, sonder om afbrekend te wees.

Tog het Christia haarself voor die tyd daarop voorberei dat kykers hulself diep in die sepie inleef.

“Dit is nog steeds nie lekker as mense gemene dinge sê nie. Aan die einde van die dag vertolk ek net ʼn karakter in ʼn sepie.”

Om voor te berei vir haar rol het sy elke aand voor die volgende dag se verfilming haar woorde geleer en dan saam met haar mede-akteurs, soos Hykie, Melinda en Gerald Steyn, wat die rol van dr. Uys Wagener vertolk, deur die woorde getrap totdat dit vasgelê is.

“My mede-akteurs het dinge vir my baie makliker gemaak op die stel.”

Christia, wat in Mei vanjaar ma word, sê sy geniet haar swangerskap, maar sien ook uit daarna om weer soos haar ou, energieke self te voel.

Sy vertrek die naweek saam met kunstenaars soos Refentse, Elandré, Kurt Darren en Liezel Pieters op die Krone-boot, waar sy beplan om op die ope waters haar tyd tussen die verhoog en die swembad op die boot te verdeel.

Die omslag van Christia se debuutalbum, ‘Gemaklik verlore’.

“Dit is die eerste keer wat ek op ʼn boot gaan optree en ek is effe senuweeagtig, omdat ek nie weet of ek seesiek gaan raak en hoe die swangerskap my op die boot gaan affekteer nie. Ek sien egter wel daarna uit om saam met my mede-kunstenaars te kuier en met my magie langs die swembad uit te span.”

Christia wil nog nie die naam van haar eersteling verklap nie, maar sê dit is ʼn naam waarvan sy van kleins af hou vir ʼn dogtertjie en dat haar man gelukkig ook dadelik daarvan gehou het toe sy dié naam voorstel.

“Mense gaan lag as hulle uiteindelik uitvind hoe ek dié naam gekies het,” voeg sy by.

Binnelanders is weekaande om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien en is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

Ek het van haar rol as “Die toebroodkie meisie” in Fynskrif gehou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.