‘Survivor SA’: Buiteperd se vlam geblus

Die Osindile-stam van ‘Survivor SA’. (Foto: Verskaf)

Santoni Engelbrecht van Strand in die Wes-Kaap het vier keer ingeskryf om deel te neem aan Survivor SA voordat sy uiteindelik gekies is om aan haar “droom-spel” deel te neem.

Dié droom het egter Donderdagaand tot ʼn einde gekom toe sy sak en pak huis toe gestuur is.

“Ek het geweet ek gaan uiteindelik aan Survivor deelneem; dit was regtig ʼn groot droom” sê sy.

Santoni (39), ʼn aanlyn sake-eienaar, vertel aan Maroela Media dat sy baie emosioneel was toe haar vlam in Donderdagaand se episode geblus is.

Dit nadat sy en Tyson moes vuur maak en die vlamme eerste deur sy toutjie gebrand het, wat beteken het dat Santoni moes huis toe gaan.

“Dit is nie ʼn lekker gevoel wanneer jou vlam geblus word en jou lewe in die spel beëindig word nie. Ek het egter nog nooit voorheen vuur gemaak met ʼn vuursteen nie en toe ek daarin kon slaag, al het Tyson se vlaggie eerste opgegaan, het dit vir my gevoel asof ek gewen het. Ek was baie tevrede toe ek daar weggestap het.”

Santoni Engelbrecht. (Foto: Verskaf)

Sy vertel die ervaring was beter as wat sy ooit kon dink. “Ek was baie onderskat in die spel. Selfs toe ek vir my familie gesê het ek gaan deelneem, het hulle gevra wat ek daar gaan maak. Met die familiebesoek was my sussie ook die enigste een wat gesê het sy kan nie glo haar familielid het dit só ver in die spel gemaak nie,” lag sy.

“Dit was ʼn tawwe rit, maar ek kon twee idols speel en vuurmaak. Ek was soveel keer net aan die regte kant van die stemme. Dit het alles net ten goede meegewerk en uitgewerk soos dit moes.

“Ek sou niks anders wou doen nie en ek lei my lewe ook só: Alles gebeur met ʼn doel en al die elemente loop uiteindelik uit tot op ʼn sekere punt. Ek is spyt oor niks nie en alles wat gebeur het, het bygedra tot die reis.”

Sy vertel sy kyk graag na Survivor SA op die kassie en dat sy by tye uit die veld geslaan is dat Kiran nie deurlopend aan haar kant was soos wat sy gedink het nie.

“Dis elke keer ʼn skok om te hoor wat hy kwyt raak oor my, maar ek was op die eiland redelik op hoogte met alles wat aangegaan het. Dalk nie noodwendig met die algemene gevoel teenoor my nie, maar dis maar deel van die lewe.”

Nico Panagio, aanbieder van die program, blus Santoni se vlam. (Foto: Verskaf)

Sy het 12 kg verloor in die maand wat sy aan die Wildekus as een van die 20 deelnemers van dié uitmergelende spel deurgebring het. Sy is nou deel van die jurie wat aan die einde gaan besluit wie uiteindelik met die prysgeld van R1 miljoen gaan wegstap.

“Dit was by tye rof. Dit was ongelooflik nat en koud, maar ek het deurgaans probeer om empatie te hê met die lewensomstandighede van soveel Suid-Afrikaners, wat ook elke aand honger en koud gaan slaap. As ek gevoel het dat ek wil opgee, het ek myself daaraan herinner dat dit vir my net ʼn spel is, maar vir hulle is dit hulle daaglikse omstandighede.”

Sy skerts dat dit die hoogtepunt van haar dag was om haar naels met ʼn skerp stokkie skoon te maak. “Jy leer werklik om weer elke klein dingetjie in die lewe te waardeer,” sê sy.”

Santoni sê die ander 19 deelnemers is almal “ongelooflike mense”. “Mense soos Chappies, Amy en Shaun staan vir my uit, maar almal wat deelgeneem het, is wonderlik in eie reg.”

Santoni en Tyson moes vuur maak. Tyson het gewen. (Foto: Verskaf)

Daar was net een keer wat sy amper gevoel het asof sy wil opgee, en dit was toe sy weer haar vrees vir water moes oorkom tydens ʼn swemuitdaging.

“Gelukkig was almal baie gaaf en het my oortuig om dit te doen. Die res van die tyd het ek regtig net probeer leef in die oomblik. Ek het geweet hoeveel keer ek al ingeskryf het en ek het myself daaraan herinner hoe gelukkig ek is om die geleentheid te kry om deel te neem.

“Ek kon eenvoudig nie moed op gee nie. Ek het dit gedoen vir al die mense soos ek, die wat nie altyd inpas nie en wat nie altyd verstaan word nie. Ek kon hulle nie teleurstel nie.”

Survivor SA: Immunity Island is elke Donderdag om 20:00 op M-Net, DStv-kanaal 101, te sien en is ook op DStv Catch Up beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.