Survivor SA: ‘Die Here het ʼn leierskapmantel om my gesit’

Indien jy nog nie na gisteraand se episode gekyk het nie, moet jy eerder nie hierdie berig lees nie, anders gaan jy sien wie uitgestem is.

Nico Panagio blus Werner Joubert se vlam. (Foto: DStv)

Nico Panagio blus Werner Joubert se vlam. (Foto: DStv)

Werner Joubert (34), ʼn pastoor van Secunda, is die vierde laaste deelnemer aan Survivor SA wie se vlam gisteraand tydens die stamvergadering geblus is.

Dit laat Tom, Jeanne en Annalize in die topdrie-posisies en een van hulle sal met ʼn kontantprys van R1 miljoen huis toe gaan.

Jeanne het die ander deelnemers tydens die immuniteitsuitdaging ore aangesit en is met die immuniteitshalssnoer beloon. Hierna kon sy haar plan in werking sit om vir Tom en Annalize te oortuig dat om vir Werner uit te stem hul enigste kans sou wees om met die prysgeld weg te stap.

Joubert, wat homself redelik vroeg in die spel as ʼn gerekende speler gevestig het, is later deur die ander spelers “Godfather” en “Kingpin” gedoop.

Hy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat hy homself as ʼn gebore leier sien. “Ek is nie skaam om dit te sê nie. Ek glo die Here het ʼn leierskapmantel om my gesit van ʼn jong ouderdom af. As gelowige het dit beteken om Hom en ander deur my leierskap te dien. My tipe leierskap is nie so dominant nie, maar wel doeltreffend.”

Joubert verduidelik dat hy deur die eerste helfte van die spel gelei het deur ondersteuning aan sy mede-deelnemers te bied vanuit die middel van die pak. “Ek was die een wat lang, betekenisvolle gesprekke met mense op die eiland sou aanknoop en wat water sou aandra. Al was dit deel van die spel, was daardie aspek van wie ek is ook eg.”

Werner Joubert. (Foto: DStv)

Werner Joubert. (Foto: DStv)

Hy sê hoe kleiner die speelgrond geraak het, hoe moeiliker het dit geraak om weg te kruip en sê dit was die spelers buite sy alliansie wat eerste agtergekom het dat al die inligting oor wat in die kamp aangaan, by Joubert uitkom.

“Ek glo die mense in my alliansie sal sê dat dit nooit vir hulle gevoel het dat ek vir hulle gesê het wat om te doen nie, want ek het nooit direk nie. Ek het in my kop geweet as ek verby die laaste ses kon kom, dat ek ʼn sterk topdrie saam met my het. Dit was ek, Katinka en Tom.”

Hy vertel toe hy in die vorige episode die immuniteitstrofee gebruik het om vir Jeanne in die spel te hou en vir Katinka te laat gaan, was dit nié wat hy wou doen nie. “Toe ek egter hoor dat Katinka teen my gedraai het, het ek begin besef my huis is miskien op sand gebou.”

Joubert sê hy het nie gedink Tom sal teen hom draai nie. “Ek was seker dat ek in die topdrie sal wees, maar ek het ook geweet Jeanne is besig om teen my te draai. Ek erken dat ek vir Jeanne probeer intimideer het deur vir haar te herinner dat ek by die vorige immuniteitstrofee vir haar gespeel het. Ek wou nie só speel nie, maar ek het gevoel ek het nie ʼn ander keuse nie en ek weet ook Jeanne is nie die soort wat kwade gevoelens teenoor my sal hê daaroor nie.”

Vir mense wat kritiek lewer omdat hy ʼn pastoor is en volgens hulle nie so ʼn agterbakse spel durf speel nie, herinner hy dat dit nét ʼn spel is en dat hy voor die tyd ʼn morele lyn vir homself getrek het. “Ek het vyf jaar gewag om Survivor te speel. Ek het elke seisoen denkbaar gekyk en is ʼn groot aanhanger van die spel. Ek het met die vorige reeks ook ingeskryf en ver in die keuringsproses gekom, maar ek het dit nie gemaak nie. Toe ek uiteindelik die geleentheid kry, was my kop 100% in die spel.

Tydens een van die uitdagings op die eiland. (Foto: DStv)

Tydens een van die uitdagings op die eiland. (Foto: DStv)

“Vir my is Survivor soos ʼn sport en ek het dit gespeel soos wat Schalk Burger ʼn rugbywedstryd sou speel – voluit. As jy die meeste van die deelnemers na afloop van die spel sou vra hoe hulle my as Werner op die eiland beleef het, hoop ek hulle sal sê ek was vriendelik en opbouend.”

Die jurie se reaksie nadat hy uitgestem is, intimideer hom nie. Katinka het in die juriebank traanstrepe op haar gesig getrek en vir Jeanne gefluister: “Dit is hartseer, maar julle het goed gedoen.”

Joubert lag. “Die jurie is jou vyand, maar op die einde van die dag stem hulle vir die beste persoon. Ek het dit al oor en oor gesien. Ek het eintlik in ʼn mate gevoel ek stel die jurie teleur toe ek uitgestem is, want ek wou vir hulle opsies bied om vir iemand as wenner te kan stem wat ʼn goeie spel gespeel het. Ek voel ek het goed gespeel.”

As lid van die jurie gaan hy nie sy stem daarop baseer om iemand terug te kry nie. “Tom is eintlik die ou wat my onder die bus gegooi het, maar ek gaan hom nie noodwendig daaroor afskryf nie. Dit gaan vir my daaroor dat die beste speler die vlag moet dra. ʼn Goeie wenner sit die kersie op die koek van ʼn fantastiese seisoen van Survivor.”

Hy vertel hy het sy selgroep die meeste gemis terwyl hy op die eiland was. “My vrou en kinders is ook deel van die selgroep. En natuurlik het ek gesmag na ʼn lekker koppie koffie!”

In volgende week se finale episode van twee ure wag nog ʼn uitdaging op die deelnemers waar die wenner die grootste voordeel van die seisoen sal kry: nie net sal die wenner ʼn plek in die finaal gewaarborg wees nie, maar dié persoon sal ook een van die jurielede kan uitstem voordat hulle ʼn laaste pleidooi vir die prysgeld moet lewer.

Skakel in op M-Net, DStv-kanaal 101.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

R ·

Ek geniet die reeks – interessante karakters! My stem sou gaan vir Annelize as sy dit sou maak tot in die finale 2.

Pop ·

Ek kan annelize nie verdra nie. Tom moes die hele reeks deur baie hard baklei om daar te bly. Almal was teen hom. So al is hy nie almal se keuse hoort hy ten minste daar. Jeanne het net “gefloat”

Elsa Furstenberg ·

Hoe skryf jy in vir SA survivour se volgende seisoen. Dit is nie vir myself nie?

Gerhard ·

Een of ander talent of kwalifikasie in om mense te manipuleer is ‘n goeie beginpunt. Oo gaats, wat het ek nou gese!

E.K. die eerste ·

Werner jy het eitnlik verdien om te wen want jy het die Survivor gespeel. Kingpin, Godfather? Jaloesie niks anders. Die spul het op jou rug gery en was te lafhartig om teen jou aan die einde te staan te kom en jou dus uitgestem. Jy sou BESLIS wen as jy kon inbly. Die 2 vrouens het niks vreesliks gedoen nie. Nie mal oor Tom want hy kom baie aggressief voor maar dan eerder hy. Sal maar sien. AG en die ou klompie op die “jury” vat die feit dat jul uitgestem was tog net soos dit moet. Om te sit en oë rol, frons, onderlangs mompel en gesigte trek sal niks verander. By die tyd is Survivor sekerlik verby en klaar gekies maar ek hoop die spul of van hul vriende lees hier en vertel hul tog dis hoe Survivor is en altyd sal wees – dis NIE te sê jy gaan die einde haal NIE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.