‘Survivor SA’: ‘Die uurglas het uitgeloop vir my’

Jacques Burger

Jacques Burger (27) het tydens gisteraand se episode van Survivor SA die trekpas gekry nadat hy vir ʼn paar weke soos ’n neet vasgeklou het.

“Ek was nie geskok of iets nie, want ek het geweet die uurglas het uitgeloop vir my,” vertel die bedryfsingenieur van Pretoria.

Jacques het reg van die begin af die spel met mening gespeel. Met die samesmelting van die stamme het hy ʼn immuniteit-toekenning in sy sak gehad en hy is vinnig as ʼn bedreiging raakgesien.

Hy het sy mede-survivors op hul tone gehou en kykers soms op die punte van hul stoele gehou met sy besluite en kwinkslae.

Jacques Burger

Oor die immuniteit-toekenning wat hy net-net misgekyk het, sê Jacques dis deel van die spel en dat dit dikwels gebeur dat iets in daardie laaste oomblikke net nie uitwerk nie.

Die uitval tussen Jacques en die res van die groep wat tot gevolg gehad het dat hulle hom uitgeskop en selfs nie met hom gepraat het nie, was vir hom ʼn “donker hoofstuk” van die spel.

“Dit het ʼn suur smaak in almal se monde gelos. Die spel is reeds so kompleks met die lyne van moraliteit oor wat reg en verkeerd is wat reeds so vervaag.”

Jacques is die 15de deelnemer om uitgestem te word en hy is nou die sewende lid van die jurie wat aan die einde van die reeks die wenner sal kies.

Sy vrou het hom met biltong op die lughawe verras met sy terugkeer na Suid-Afrika. “Jy kom glad nie agter wat goed beteken tot jy daarvan ontneem word nie.”

Jacques Burger

Jacques, ʼn fanatiese ondersteuner van Survivor, sê om die spel te gespeel het, het sy wildste drome oortref. “Ek het soveel goed beplan, maar dit was glad nie soos ek gedink het dit gaan wees nie. Dit was egter absoluut ongelooflik om dit te beleef.”

Oor die manier waarop hy die spel gespeel het, sê Jacques sy plan was van die begin af om met een of twee mense ʼn verhouding op te bou en seker te maak hy kan hulle vertrou.

Wanneer Jacques die naam moet neerskryf van wie hy dink vanjaar se Survivor-reeks behoort te wen, sal hy kyk wie die spel die beste gespeel het en wie as ʼn ambassadeur van die spel gesien kan word. “Dit is nie ʼn gewildheidskompetisie nie en ek het waardering vir iemand wat die spel goed gespeel het.”

Daar is nou ses mense oor in die Manumalo-stam, naamlik Steffi, Laetitia, Mike, Rob, Nicole en Durāo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jakkie ·

Stil stil het ouma Laetitia almal outwit. Sy bly ‘n lae profiel handhaaf soveel so dat almal van haar vergeet. Sy gaan nog ‘n lekker stok in die wiel wees met daardie einste idol wat sy teen haar bors vashou nie. Volgende gaan Mike en Durao wees en wanneer die ander dit die minste verwag, speel sy haar troefkaart ……. oeps moenie vir ouma blak kyk nie, die miljoen wink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.