‘Survivor SA’: ‘Dit is vernederend’

Steffi van Wyk (Foto: Survivor SA)

Steffi van Wyk, ʼn voormalige Mej. Namibië, is in gisteraand se episode van Survivor SA uitgestem nadat Nicole teen hul plan om drie vroue in die eindstryd te hê gedraai het en saam met Rob gewerk het om haar uit te stem.

Steffi, Nicole en Laetitia was van plan om hulself in ʼn vroue-eindstryd te vestig. Hulle sou gisteraand vir Durão uitstem nadat Rob die immuniteitshalsnoer gewen het. Maar Nicole het die plan aan Rob, wat gesien word as die meesterbrein van die spel, uitgeblaker, wat daartoe gelei het dat Steffi huis toe gestuur is en die laaste lid van die jurie geword het.

Steffi het aan Maroela Media vertel dat sy meer seergemaak as kwaad was toe sy uitvind dat sy uitgestem gaan word.

“Dit is vernederend. Almal sit daar en gee hul immuniteitstoekennings vir Nico, en ek is die enigste een wat nie veilig is nie. Dit is glad nie ʼn lekker gevoel nie,” sê sy.

“My sesde sintuig het vir my gesê ek is dalk nie veilig nie, so ek was definitief onrustig. Ek het geweet daar was ʼn moontlikheid dat ek dalk uitgestem sal word. Dit was net vir my sleg dat Laetitia ook teen my gegaan het,” sê sy.

Volgens Steffi het sy en Laetitia ʼn baie noue verhouding tydens die program gevorm en daarom het sy nie verwag dat sy teen haar sal draai nie.

“Laetitia het haar eie spel gespeel, maar ek het ʼn groot rol gespeel daarin dat sy so lank nog in die spel was. Baie kere sou mense vir my sê dat ons haar moet uitstem, en ek het hulle elke keer oortuig om haar nog aan te hou. As almal haar wou uitstem, het ek vir haar opgekom,” sê sy.

Steffi van Wyk (Foto: Survivor SA)

Steffi sê sy was 100% ernstig oor die plan om drie vroue in die eindstryd te hê.

“Ek wou ʼn merk maak in Survivor SA. Ek wou deel wees van ʼn nalatenskap, want daar was nog nooit ʼn vroue-eindstryd in Survivor SA se geskiedenis nie. Ek wou hê vroue moet begin voel dat hulle sélf oor hul lot kan besluit en dat hulle nie in die agtersitplek hoef te sit nie. Hulle hoef nie heeltyd na Rob toe te hardloop nie,” sê sy.

Nicole en Steffi was van die begin af saam deel van die “Amigos”, maar volgens Steffie was dít juis wat sy verkeerd gedoen het.

“Van die begin af het my sesde sintuig vir my gesê ek moenie vir Nicole vertrou nie, maar ek het vir haar die voordeel van die twyfel gegee, en toe steek sy my in die rug. Op die eiland was sy heeltyd in kompetisie met my,” sê Steffi.

“Dít pla my oor vroumense; dat ons altyd mekaar as kompetisie sien eerder as om mekaar op te bou. Nicole wou nie saam met my in die finaal wees nie, want ek dink sy was bedreig deur my.”

Hoewel dinge nie uitgedraai het soos Steffi wou hê dit moes nie, meen sy daar is niks wat sy aan haar spel kon verander het om die uitkomste te verander nie. “As ek deurgegaan het saam met die Amigos sou Nicole in elk geval vir Rob oortuig het om my uit te stem,” sê sy.

Steffi sê sy sien nou uit om te sien wat verder in die spel gebeur omdat daar nie meer immuniteitstoekennings is om te gebruik nie. Sy is veral geïnteresseerd om te sien of Rob vir Nicole of eerder vir Durão saam met hom en Leatitia na die eindstryd gaan neem.

Steffi van Wyk (Foto: Survivor SA)

Op ʼn positiewe noot vertel Steffi die lekkerste oomblik in die spel was om ʼn brief van haar man af te kry en om sy handskrif te kon lees. Sy is ook baie trots daarop dat sy die eerste immuniteit-uitdaging gewen het ná die samesmelting.

Steffi sê haar man het haar met soesji by die lughawe ingewag toe sy terug in Suid-Afrika aangekom het. “Ons het die hele dag lank soesji geëet en voor die televisie gelê,” vertel sy.

Die jurie gaan nou moet besluit wie die wenner van die R1 miljoen-prysgeld sal wees. Steffi sê sy weet nog nie vir wie sy gaan stem nie, maar dat dit moeilik gaan wees om te besluit.

“Daar is twee baie dominante mense en twee mense wat net met die stroom gegaan het. Ek sou dink dat ek vir iemand sal stem wat met integriteit gespeel het, maar dan moet ek ook kyk na hoe hulle die spel gespeel het in terme van outwit, outlast en outplay. Ek het ʼn paar interessante vrae wat ek vir hulle moet vra voordat ek sal besluit,” sê sy.

Die finale episode van Survivor SA word op Donderdag 12 September regstreeks om 19:00 op M-Net, kanaal 101 uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LB ·

Dit is vreemd dat Nicole se goeie spel om haarself so lank moontlik staande te hou nou gesien word as rugsteek en jaloesie. Waarop was Nicole jaloers? Is die ooreenkoms wat jy met Rob aangegaan het en verbreek het, nie ook maar dieselfde as deel van die spel nie? Sy het uitgeblink in baie uitdagingings en is ‘n sterk vrou wat weet hoe om na haar eie belange om te sien. Julle het tog geweet as jy deelneem, dat dit nie ‘n vriendskap kompetisie is nie maar ‘n geveg om oorlewing vir die beste strateeg. Elkeen is daar om te wen en dit is tog waaroor die spel gaan, jy is uitoorlê, aanvaar dit. Die beter speler gaan nog voort.

Sanet Redgard ·

Ek is mal oor Survivor! Steffi was baie slim. Sy het geweet dat as sy teen die ander twee vroumense te staan moes kom in die eindstryd, sy tien-teen- een sou wen. Ek dink nie haar motivering was om ‘n “vroue-eindstryd” as nalatingskap te bevorder nie. Sy het slim gespeel en amper die paal gehaal. As Rob nie die “Immunity” gewen het nie, sou hy gewaai het en sou sy gewen het! Nicole sou by Steffi gestaan het om Rob uit te stem maar moes haar eie bas red toe dit nie kon gebeur nie! Ek dink dat Laetitia n goeie kans staan om te wen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.