Survivor SA: ‘Ek het eerste teen hom gedraai’

Indien jy nog nie na gisteraand se episode gekyk het nie, moet jy eerder nie hierdie berig lees nie, anders gaan jy sien wie uitgestem is.

Katinka Oosthuizen. (Foto: Verskaf)

Katinka Oosthuizen. (Foto: Verskaf)

Katinka Oosthuizen (19) is in Donderdagaand se episode van Survivor SA tydens ʼn aksiebelaaide stamvergadering uit die spel gestem.

Die sosialemediafoendi van Mosselbaai het haar hand oorspeel toe sy Tom genader het om vir Werner uit die spel te stem. Katinka het egter Tom se lojaliteit teenoor haar oorskat en Tom, wat die immuniteitshalsnoer gehad het, het dié inligting aan Werner verskaf.

Werner het gevolglik besluit om sy versteekte immuniteitstrofee te gebruik, maar om vir Jeanne in die spel te hou. Jeanne het destyds toegekyk toe Werner dié immuniteitstrofee in die Luzon-kamp ontdek het.

Annalize het die ekstra stem wat sy op Exile Island opgetel het ook gebruik, maar dit was nie genoeg nie en die blondekop van Mosselbaai moes uiteindelik die eiland in die Fillipyne verlaat.

Voor die stamvergadering het die aanbieder, Nico Panagio, die vyf oorblywende deelnemers verras met besoeke van hul geliefdes. Katinka se ma, Amelda, het vir haar kom kuier op die eiland. Werner en Tom se vrouens, Annalize se man en Jeanne se vriendin het ook besoeke aan die eiland afgelê.

Katinka, wat die jongste deelnemer was, vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media sy het nie gedink sy gaan dit so ver in die spel maak nie. “Ek wou net nie die eerste een wees om uitgestem te word nie. Hoe langer ʼn mens in die spel bly, hoe langer wil jy bly en hoe liewer raak jy daarvoor.”

Sy gee toe dat sy ʼn fout gemaak het om veilig te voel tydens die laaste stamvergadering. “Ek het gedink my plek in die finale vier is vasgemaak, en ek het begin veilig voel, wat ek nie moes nie. Dit is waar my groot reaksie vandaan gekom het. Dit was nie lekker om uitgestem te word nie, maar ek was ook bly, want ek kon toe kos kry,” skerts sy.

Sy vertel sy was baie verras toe Werner die immuniteitstrofee namens Jeanne gebruik het. “Jy weet as jy in ʼn verhouding is en jy word gelos, maar jy het dit glad nie verwag nie? Dis hoe ek gevoel het. Ek was kwaad vir myself. Ek wou teruggaan en my stem na Werner se naam verander. Dit het net weereens bewys hoe vrek slim Werner is. Hy hou vergaderings met homself in sy kop.”

Katinka sê sy het nie gedink Werner sal teen haar draai nie. “Ek kan egter glad nie vir hom kwaad wees nie. Ek het eerste teen hom gedraai en hy het my uitoorlê. Ek het groot respek vir die spel wat hy speel.”

Sy glo die sterk bande wat sy gevorm het tot op die einde sal haar help om die regte wenner te kies. “Ek glo almal het hulle harte uitgespeel, daarom het ek besluit om my stem te baseer op wie die geld die meeste in hul persoonlike lewens nodig het.” Sy wou nie verklap wie dié persoon is nie.

Haar ma-en-dogter-verhouding met Annalize het gehelp om haar deur te dra op die eiland. “Sy was my ma weg van die huis af. Sy is so eg en ek het so lief geraak vir haar. Sy is een van die mense met wie ek sal vriende bly lank ná Survivor SA verby is. Jy weet voor jy in die spel gaan dat jy nie gevoelens vir mense moet ontwikkel nie, maar sy is net ʼn ongelooflike mens.”

Katinka vertel sy kon haar oë nie glo toe sy haar ma tydens die familiebesoek sien nie. “Ek het dit glad nie verwag nie, maar ek het geweet dat ek my ma wou sien. Toe ek haar sien, het my hart tot in my voete geval en ek het net weer krag gekry. Dit was so lekker om te hoor sy is trots op my. Ons kyk die episodes saam, so dit is baie lekker. Ek besef ek moet ophou om my ma as vanselfsprekend te aanvaar, want sy het ʼn verskriklike ver pad gereis om my net vir een dag te kon sien. Die goed wat ʼn ma darem vir haar kind sal doen…”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ek sê maar ·

Ja… Katinka…. Minstens is jy nie bitter nie. Soos bv die spul reeds op die “jury” nie. Party is ook meer bitter as ander. Ai tog…weereens, as jy deelneem aan Survivor moet jy weet daar IS ‘n kans dat jy nie tot die einde gaan inbly nie. Om dikbek te sit en wenkbroue te lig oor wat deelnemers wat nog in is sê en met hangmond onderlangs kommentaar te lewer, gaan niks help.

Alida ·

Dit is dan klaar aan die gang vir wanneer wil jy nou inskryf?

Hendrik van George ·

Sosialemediafundi – nog nooit daarvan gehoor nie. Is dit ‘n werk? Klink soos iemand wat heeldag op Facebook boer…

JAN ·

Die speletjie klink soos die nuwe wêreld waarheid. Maar nie naastenby soos die ou dae toe ek en my niggies gespeel het nie. Wegkruipertjie met die brakkie wat ons moes uitsnuffel . Donkerkamertjie en boomklim saam met die niggies voor. Kettieskiet. Kleilatgooi. Kaskar resies met Adoons die mak bobbejaantjie. Wat abaoluut versot was oor spoed. Sy magie het gewerk as hy skrik. Maar nooit ooit enige pret misgeloop nie.
Aller skatigste maatjie in die wêreld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.