‘Survivor SA’: ‘Ek het nie geweet wat kom nie’

Cobus Hugo

Cobus Hugo (28), ʼn argitek van Kaapstad, het tydens gisteraand se episode van Survivor SA die trekpas gekry.

Hy is die 13de deelnemer om uitgestem te word nadat Mike, Steffi, Nicole, Durāo en Rob sy naam neergeskryf het.

“Ek het nie geweet wat kom nie,” sê Cobus oor die “Spit Shakers Seven”-bondgenootskap wat gevoel het hy kan nie vertrou word nie en besluit het om hom die trekpas te gee.

Jacques het nog ʼn dag oorleef met drie stemme teen hom terwyl twee stemme teen Steffi uitgebring is.

Cobus sluit nou aan by die paneel jurielede wat die wenner van die reeks sal kies. “Daar is twee goed wat sal bepaal vir wie my laaste stem sal gaan. Dit sal gaan oor of ek van die persoon hou en of ek die game wat hulle gespeel het respekteer.

“Wanneer jy daai besluit neem moet dit sonder emosie wees. Jy moet rasioneel en realisties bly – daar word vir geld en ʼn titel gespeel.”

Cobus Hugo

Sy glas wyn, om terug by sy mense te wees en om weer in die gimnasium te sweet is vir
Cobus die lekkerste deel van terug by die huis wees. “Dit was egter baie lekker om vir twee maande van my foon en almal weg te gewees het.”

Cobus beskryf die Survivor-ervaring as “die ongelooflikste tyd van my lewe”.

“Ek kan dit nie vir iemand beskryf nie. Wanneer Nico [Panagio] gesê het ‘Survivors ready. Go’, dan het ek van opgewondeheid gebewe. Ek het ook een baie groot les geleer en dit is dat die soeke na onmiddellike bevrediging niks beteken in die lewe nie.

Nico verdoof Cobus se vlam nadat hy uitgestem is.

“Jy moet self daai gaping vul. Ek het ongelooflike lewenslesse geleer. Jy moet net oop wees daarvoor. Ek is so opgewonde oor die persoon wie ek nou is.”

Volgens Cobus was sy spelpatroon in drie dele opgedeel. “Voor die samesmelting van die stamme was my doel om net met almal oor die weg te kom, nie tribal council toe te gaan nie en nie oor strategie te praat nie.

“Ná die samesmelting van die stamme was dit om die nommers aan my kant te probeer kry en laastens was dit om nie die aandag op my te vestig nie. My advies sal dus wees om nie die mense buite jou bondgenootskap te ignoreer nie en ek moes meer moeite gedoen het met die mense saam met wie ek in ʼn bondgenootskap was.”

Daar is nou agt mense oor in die Manumalo-stam, naamlik Steffi, Laetitia, Mmaba, Jacques, Mike, Rob, Nicole  en Durāo.

Die oorblywende deelnemers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.