‘Survivor SA’: ‘Ek kon die spel speel soos ek wou’

Dino Paulo is die wenner van “Survivor SA: Return of the Outcasts”. (Foto verskaf)

Dit word beskryf as een van die taaiste Survivor South Africa-reekse tot op datum. Die kos was uiters min, die uitdagings moeilik, die luukshede skaarser as hoendertande en die koue wind van die Oos-Kaapse “Sonskynkus” het deur vel en been gesny.

Survivor SA: Return of the Outcasts se deelnemers, wat almal ʼn tweede kans in die plaaslike weergawe van die gewilde TV-realiteitspel gekry het, het gesamentlik 109 kg tydens dié uitmergelende 40 dae verloor.

Tog meen die 31-jarige Johannesburger Dino Paulo dit alles maak sy oorwinning en titel as die “sole survivor” net soveel soeter.

Dino Paulo en Shane Hattingh het saam by die finale “tribal council” verskyn waar hulle hul saak gestel het om R2 miljoen te wen. (Foto verskaf)

Paulo het  ʼn uitstekende sosiale spel gespeel en dit het hom Donderdagaand in die laaste tribal council sewe teen twee stemme besorg. Daarmee het hy die wengeld van R2 miljoen in sy sak gesteek. Hy het verder ʼn splinternuwe Mahindra XUV300 in die vierde week van die spel gewen en boonop daarin geslaag om ʼn luukse bootreis op die Zambesi Queen ter waarder van R80 000 op dag 32 in te oes.

Dit was egter so hittete of Paulo kon dalk nooit sy saak voor die jurie van uitgestemde deelnemers by die laaste tribal council bepleit nie.

“Ons het so koud gekry en ʼn mens wou die heeltyd net nader aan die vuur kom. Ek het voor die vuur aan die slaap geraak en vorentoe getuimel,” verduidelik Paulo. In die proses het hy tweedegraadse brandwonde opgedoen wat deurentyd vir ontsteking gemonitor is.

“As ek infeksie opgedoen het sou hulle my uit die spel gehaal het, maar hulle sou my beslis al skoppende en skreeuend daar uit kom haal het,” skerts hy.

Dit was so hittete of Paulo kon dalk nooit sy saak voor die jurie van uitgestemde deelnemers by die laaste “tribal council” bepleit nie. (Foto verskaf)

Oor daardie besoek van sy verloofde Kirsten, raak Paulo steeds effens emosioneel. ʼn Besoek van ʼn geliefde nadat die verskillende stamme saamgesmelt het, is iets wat elke Survivor-deelnemer koester.

“Ons het eers gedink ons het die kanse op ʼn video-oproep verspeel en ek het geweet Kirsten sit net daar aan die ander kant van daardie lyn.

“Jy weet, jy speel hierdie spel vir 40 dae waar almal daarop uit is om jou uit te stem. Dit is glad nie ʼn veilige spel nie. Dan kom daardie geliefde om die draai aangehardloop en jy ervaar daardie onvoorwaardelike liefde in hulle arms… dit is regtig nie iets wat jy maklik kan beskryf nie.”

Paulo sê hy is maar ʼn emosionele mens en al daardie emosies het uitgevloei toe hy eindelik weer in sy Kirsten se arms kan wees. Dit het gelei tot meme, maar Paulo is glad nie skaam daaroor nie.

“Dit was net lekker om so ʼn spesiale oomblik van hierdie uitsonderlike spel met iemand te kon deel wat net so groot aanhanger van Survivor soos ek is.

“Ek het elke dag vir haar ʼn klippie op die strand gaan optel. Dit was maar my manier om ʼn konneksie met haar te behou.”

Oor sy besluit om Marian de Vos, nog een van die kykers se gunstelinge uit te stem, is hy baie eerlik.

“Ek het geweet ek gaan verloor as ek saam met Marian by daardie laaste tribal council sou opeindig.

“Gelukkig het ek ook geweet Shane [Hattingh] sou my gekies het as hy immuniteit gewen het. Mense is seker nie nooit heeltemal seker van enigiets in Survivor nie, maar ek is redelik oortuig dit is wat sou gebeur het in daardie geval.”

Het Paulo, wat ook aan Survivor South Africa: Island of Secrets (S7) deelgeneem het, met sy tweede kans die spel gespeel wat hy nog altyd wou?

Al die deelnemers van “Survivor SA: Return of the Outcasts” weer bymekaar. (Foto verskaf)

“Ja!” roep hy dadelik uit. Hy wou juis ʼn sterker sosiale spel speel, maar meen Survivor is maar altyd ʼn goeie mengsel van strategie, uitstekende menseverhoudinge, fisieke krag en ʼn tikkie geluk.

“Dit is waarom kykers opdaag om hierdie werklikheidsreeks weer en weer te kom kyk. Daar is nie net een manier om die spel te speel of te wen nie. Jy moet net weet wanneer om op watter pilaar van die spel te steun om jou verder te kry.

“Ek dink dit is veel eerder ʼn denkwyse wat ʼn mens se oorwinning in die spel verseker, eerder as enige spesifieke strategie.”

Paulo laat val vinnig oor wat hy met daardie heerlike kontantprys gaan doen.

“Ek en Kirsten trou oor ʼn paar weke en ons gaan die geld gebruik as ʼn goeie wegspringplek vir ons toekoms saam. Ons gaan ook ʼn deel skenk om mense naaste aan ons se lewens te verbeter en dan gaan ons ook ʼn bietjie net op onsself bestee,” vertel hy met ʼn vonkel in die oog.

Sal Paulo, soos die bekende Boston Rob van die VSA se Survivor, ooit ʼn derde rondte in dié spel oorweeg.

“As dit van my afhang gaan ek baie moeilik nee sê, maar my verloofde lyk nie so opgewonde oor daardie idee nie,” skerts hy.

  • ʼn Omnibus van Survivor SA: Return of the Outcasts word op M-Net (DStv kanaal 101) op Saterdag 27 Augustus van 15:30 tot 19:30 uitgesaai.

“Survivor SA: Return of the Outcasts” het gesamentlik 109 kg tydens dié uitmergelende 40 dae verloor. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.