‘Survivor SA’: ‘Ek was nie verbaas toe ek nie wen nie’

Jeanne Michel in ‘Survivor SA’ (Foto: Verskaf)

Jeanne Michel (34), ’n radioprogramvervaardiger van Kaapstad, het Donderdagaand in die finale episode van Survivor SA teen Tom Swartz verloor. Sy het die finale immuniteitsuitdaging gewen en kon kies of sy teen Annalize VAN of Tom wil meeding vir die R1 miljoen-prysgeld. Sy het vir Tom gekies, en daardeur vir hom die titel van Survivor SA verseker.

Jean het aan Maroela Media gesê dat sy wel nie verbaas was dat sy nie gewen het nie.

“Ek het ʼn gevoel gehad dat ek nie gaan wen nie, so ek was nie verbaas nie. Maar ek het gedink meer mense sou vir my gestem het. Ek het in my siel geweet Vusi sou vir my stem, maar ek het ook gedink Katinka en Annalize sou eerder my naam as Tom s’n neerskryf,” het sy gesê.

“Ek sou ook nie, as ek kon teruggaan in tyd, eerder vir Annalize as vir Tom saam met my na die top-twee geneem het nie. Ek dink Annalize sou beslis gewen het, my kanse teen haar was kleiner as teen Tom. Sy was baie geliefd en sy het ʼn goeie storie gehad om te vertel,” het Jeanne gesê.

Jeanne het gesê saam met die slegte gevoel van nie wen nie, is daar ook goeie dinge wat uit die ondervinding gekom het.

Tom, Jeanne en Annalize is die top-drie finaliste vir Survivor SA (Foto: Verskaf)

“Ek is ongelooflik trots op myself. Dit is teleurstellend dat ek nie gewen het nie, maar daar is so baie mense wat nou na my toe uitreik en sê dat hulle opsien na my en dat wat ek gedoen het, spesiaal is. Die ondersteuning maak regtig my hart warm.”

Hoewel Jeanne trots is op die spel wat sy gespeel het, weet sy waar haar paadjie in Survivor skeefgeloop het.

“Ek dink ek het by die finale ‘Tribal Council’ te veel gefokus op ‘geluk’ en hoe die geluk my getref het op die eiland. Ek het vir ʼn tyd lank gedink ek kon ʼn beter spel gespeel het, maar deur weer na die episodes te kyk het ek gesien dat ek eintlik ʼn goeie spel gespeel het. Ek het ʼn paar slim skuiwe in die spel gemaak. Ek was nooit iemand wat uitgestem sou word nie, behalwe vir die aand wat Werner sy immuniteitshalsnoer vir my gegee het,” het sy gesê.

“Ons het baie op die eiland gepraat van die top-vyf, en almal wou top-vyf toe gaan. Vir my was dit nie genoeg nie, ek wou verder gaan, en ek het! Ek het gekom waar ek wou wees deur die regte skuiwe op die regte tye te maak.”

Jeanne het gesê sy moes dalk beter vir haarself geargumenteer het by die finale “Tribal Council”, en meer gefokus het op haar strategie en die skuiwe wat sy gemaak het. “Ek moes dalk meer my suksesse gevier het,” het sy gesê.

Jeanne, Tom en Annalize by die finale episode van ‘Survivor SA’, voordat die wenner aangekondig is. (Foto: Verskaf)

Vir Jeanne was die beste deel van Survivor die verhoudings wat sy met die ander deelnemers kon vorm.

“Vir iemand wat so groot aanhanger van die spel is soos ek, is die geleentheid om net deel te neem reeds lewensveranderend. Maar die verhoudings wat ek op die eiland gebou het, is baie spesiaal. Ek het van dag een af ʼn baie goeie band met Werner gebou, ek is mal oor die ou! Ek dink ook ek en Stacey sal nog lank vriende bly,” het sy gesê.

Sy kyk ook terug op die eerste uitdaging waar sy en Stacey teen Tom moes vuurmaak, en gewen het.

“Ek het net gevoel ek het myself bewys. Om teen iemand soos Tom te gaan in ʼn vuurmaak-uitdaging, is erg. Maar ons het dit gewen, en gewys dat as ek sê ek gaan iets doen, dan doen ek dit!”

“As ek weer Survivor kon speel, selfs as ek weer moet tweede kom, en alles moet weer gebeur presies soos dit het, sal ek dit in ʼn oogwink doen, want ek kan die ervaring vir niks verruil nie. Dit het my lewe verander,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.