Survivor SA: ‘Fisieke krag kan jou net só ver kry’

Danté word uitgestem (Foto: Verskaf)

“Ek sou blind wees as ek nie kon sien of voel dat ek potensieel uitgestem gaan word nie.”

Sٔó het Danté de Villiers (31), wat gisteraand op Survivor SA uitgestem is, gesê.

Danté, wat op die Weskusdorpie Dwarskersbos woon, is van die begin af bestempel as Survivor SA se eie Aquaman, en hy het homself ook so bewys deur talle immuniteit-uitdagings te wen. Toe hy in die laaste uitdaging nie die immuniteit-halssnoer wen nie, het die res van die deelnemers saamgespan om hom uit te kry.

“Ek het al vir die afgelope twee of drie tribal councils die idee dat ek uitgestem gaan word. Jy word wakker en daar is amper ʼn reuk in die lug; jy sien die mense wat praat en dan kry jy ʼn idee waar jy staan,” sê hy.

Danté was Survivor SA se eie ‘Aquaman’ (Foto” Verskaf)

Hoewel Danté ʼn groot fisieke bedreiging was vir die res van die deelnemers, meen hy dat fisieke krag nie die belangrikste op die eiland is nie.

“In hierdie stadium het almal daai een ding wat van hulle ʼn gevaarlike speler maak. Rob is ʼn groot fisieke speler, maar daar is ook baie mense wat ʼn baie goeie sosiale spel speel. Die sosiale spel was natuurlik nie my sterkpunt nie,” bieg hy. “Maar dikwels is die sosiale spel belangriker as die fisieke krag.”

Danté sê dit is daarom dat hy vir Rob probeer uitkry het, juis omdat hy ook ʼn fisieke bedreiging was.

Dié koffiewinkeleienaar sê sy strategie het nie uitgewerk soos hy gehoop het nie, maar hy sal steeds nie veel verander nie.

“Soos jy in die spel kom, het jy al hierdie slim idees in jou kop – jou spel is eintlik klaar uiteengesit. Maar vyf minute in die game in besef jy jy weet eintlik glad nie wat jy doen nie.

“Jy moet jouself elke dag van voor af motiveer en gereedmaak. Vir my was dit die belangrikste om op my eie manier te speel. Ek wou nie deur iemand gelei word nie, en as dit nie werk nie, dan is dit oukei. Ek is gemaklik met die manier waarop ek gespeel het en die mense saam met wie ek gespeel het,” sê hy.

Hy sê wel dat hy sou wou werk aan sy verstandelike bewustheid op die eiland sodat hy ʼn beter sosiale spel kon speel.

Danté wou nog altyd op Survivor gewees het omdat dit volgens hom iets is wat enige seun sal wil doen. Hy sê dit is, afgesien van die feit dat dit op ʼn idilliese eiland afspeel, die beste manier waarop jy jouself as individu kan toets en sien hoe jy reageer.

Vir hom was daar ʼn klomp lekker oomblikke op die Survivor-eiland, maar hy sê dit is die klein goed wat hom laat besef het hoe gelukkig hy is.

Danté (Foto: Verskaf)

“Daar is tye dat jy op jou klipharde bed sit, of jy stap see toe. Jy kyk rondom jou en jy sien waarmee jy besig is en waar jy is. Ek het probeer om net vyf minute uit elke dag te vat om dit te absorbeer, en dit het my gehelp om harder te speel en net soveel meer te ervaar.”

Danté sê dit was tog lekker om huis toe te gaan en dat hy dadelik ʼn pizza geëet en in die see gaan swem het.

“Ek was reguit see toe. Ek wou gaan surf en in my eie see gaan swem. Dit was lekker om terug te kom in my roetine en weer bekende gesigte te sien.”

En wie sal Danté se stem kry aan die einde van die spel?

“Die een wat dinge bietjie deurmekaar skud,” sê hy. “Omdat almal my wou uitstem, het ek nie regtig iemand wat ek spesifiek ondersteun nie. Ek sal nie stem vir iemand wat net saggies speel nie. Wie ook al dinge bietjie verander, sal vanselfsprekend my stem kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Buffel ·

Lyk of dit toe by die boonste verdieping se vermoe kom is kragapie toe te lig bevind.

Miane ·

Wat ‘n onnodige opmerking. Hoekom so verkleinerend wees? Sê nie veel van jou boonste verdieping nie??

Buffel ·

Jy lyk na ‘n groot fan van realiteits TV……maar dis jou reg soos dit myne is om dit te kritiseer. Geniet hom.

Lekker lag ·

Het jy die artikel gelees? Hy self se hy het nie geweet wat hy doen nie en krag alleen het hom laat faal. Lees die artikel of kry iemand om dit vir jou te lees voor dan comment jy. Se baie van jou boonste verdieping.

Swanna ·

Stem met jou saam Miane, Buffel se kommentaar pas by sy naam. Kragapiewas dalk ‘n bedryging vir die ander dit is hoekom hy uitgestem is. Dit is mos hoe dit in vandag se lewe gaan. Die swakkes regeer die wêreld deur wette en riglyne wat deur hulle opgestel word om hulle te bevoordeel en te voel hul word beskerm want “guts” het hulle nie.

Buffel ·

Soos kragapie ons geleer het is krag op sy eie niks. Moet met ‘n intelligente strategie aangewend word. Wil julle voorbeelde he ? Dawid vs Goliat, James Small vs Jonah Lumo, Boere vs England in Boereoorlog, ens ens. So hier se kragapie self hy het nie lekker gedink wat hy gedoen het nie. Nou as ek dieselfde se in ‘n komiese manier is daar fout mee….??? Ek volstaan by my aanmerking, veral teen die agtergrond van die inhoud van die artikel. Dis julle reg om te verskil.

Buffel ·

En ou Swanna – ek hoef sekerlik nie jou toestemming te vra voor ek kommentaar lewer wat by die buffel pas nie. Wat pas by swanna – branna ???

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.