‘Survivor SA’: “My spel het daaroor gegaan om met mense te gesels en hulle te leer ken”

Annalize Siansbury in ‘Survivor SA’ (Foto: Verskaf)

Annalize Sainsbury (44), ’n ma en spysenier van Kaapstad, is in die finale episode van Survivor SA, wat Donderdagaand uitgesaai is, deur Jeanne uitgestem.

Annalize het gesê sy het sonder enige vooropgestelde idees vir Survivor ingeskryf, en dat sy tevrede is met die manier waarop sy die spel gespeel het.

“Ek was elke week gespanne oor of ek uitgestem gaan word of nie, so dit was nie eintlik vir my ʼn verassing toe dit gebeur nie. Ek het nie gedink Jeanne gaan my saamneem top-twee toe nie. Dit was nooit ʼn droom van my om tot by die heel einde te kom nie, ek wou net die spel speel. Dit was beter so, want ek het dit soort van verwag,” het sy aan Maroela Media gesê.

“Ek dink Jeanne was slim om eerder vir Tom na die top-twee toe te neem as vir my, want om eerlik te wees, ek dink meer jurielede sou vir my gestem het as vir haar.”

“My spel het daaroor gegaan om die sosiale spel te speel, om met mense te gesels en hulle te leer ken. Ek het redelik stilweg deurgekom, maar aan die einde van die dag dink ek tog ek kon seker meer gedoen het om in die spel te bly. Ek kon Jeanne harder probeer oortuig het om my daar te hou, maar ek is steeds trots op die spel wat ek gespeel het,” het sy gesê

Annalize is bly dat Tom gewen het, en sy meen hy is die waardigste wenner wat beskikbaar was.

“Werner sal maar altyd ons almal se wenner bly, want hy het ʼn fantastiese spel gespeel. Maar tussen Jeanne en Tom, was Tom die waardige wenner. Hy het die spel goed gespeel, hy het goed gevaar in uitdagings en hy het ʼn paar troefkaarte gehad om te speel. Ek is bly hy het gewen,” het sy gesê.

Annalize het gesê sy het besluit vir wie om te stem om die R1 miljoen te wen deur na hul spel te kyk.

Jeanne, Tom en Annalize is die top-drie finaliste vir Survivor SA (Foto: Verskaf)

“My stem kon enige kant toe gegaan het. Maar om eerlik te wees dink ek nie ek sou ooit vir Jeanne gestem het nie, Tom se spel was net baie beter.”

Die beste deel van Annalize se Survivor-ondervinding was om op die pragtig eiland saam met pragtige mense te bly.

“Net die eiland self is beeldskoon, maar die mense en die verhoudings was die beste. Ek het Marthinus so geniet, en Katinka is stunning. Oral waar ek gegaan het, het ek ʼn goeie tyd saam met die mense op die eiland gehad.”

Annalize het gesê die oomblik toe sy by die huis gekom het, het sy ʼn groot sny kaaskoek geëet, saam met haar dogters gekuier – en toe nóg ʼn bietjie geëet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.