Survivor SA: ‘Niemand op daardie eiland verdien om te wen nie’

Survivor SA se Tribal Council van Donderdagaand (Foto: Verskaf)

In Donderdagaand se episode van Survivor SA het die meerderheidsalliansie vir PK Phetoe, ʼn mynwese-tegnikus van Johannesburg, uitgestem.

PK het egter seker gemaak die oorblywende vyf deelnemers weet van die geheime in hul alliansie. PK het aan Maroela Media gesê hy wou die spel interessant hou, en dít is hoekom hy die alliansie se planne verklap het.

“Ek wou net ʼn bietjie moeilikheid maak en dinge op die eiland ʼn bietjie verander. Ek dink ek het regtig vir die oorblywende deelnemers iets gegee om oor te dink. Hulle het tot dusver ʼn gladde verloop van gebeure gehad, en ek het hulle met baie waardevolle kennis agtergelaat,” het hy gesê.

PK was veral uitgesproke oor die top-drie en wie daarin gaan wees.

PK is Donderdag uit Survivor SA gestem (Foto: Verskaf)

“Werner belowe vir almal dieselfde ding. Almal dink hulle gaan saam met hom in die eindstryd wees. Om eerlik te wees, ek dink niemand op daardie eiland verdien om te wen nie. Dalk Werner, want hy kon op een of ander manier die spel heeltemal beheer om dit in sy guns laat tel,” het hy gesê.

PK het gesê hy is nog nie seker vir wie hy gaan stem om die wenner van Survivor SA te wees nie.

“Ek wil nou eers nog sien hoe die spel ontwikkel. Ek sal dalk vir Werner of vir Tom stem, omdat ek móét stem. Vir Werner omdat hy almal kon beheer en vir Tom omdat hy nog steeds kon uithou. Ek het nie gedink ek sal in ʼn wêreld lewe waar Tom langer as ek op die eiland uithou nie! Ek wil net vir iemand stem wat die spel gespeel het.

“Die vroue op die eiland het nie my stem nie. Hulle sit net daar op die eiland, hulle doen niks nie en hulle speel nie die spel nie. Hulle kan net sowel in hul sitkamer sit. As ek nie self op die eiland was nie sou ek nie eens agtergekom het hulle was daar nie. Jeanne, byvoorbeeld, doen niks om ʼn indruk te maak nie,” het hy gesê.

PK Phetoe (Foto: Verskaf)

PK sê hy het geweet hy gaan uitgestem word in dié jongste stamvergadering, maar dat hy trots is op die manier waarop hy gespeel het.

“Ek het verwag om uitgestem te word, so ek was glad nie geskok nie. Om eerlik te wees ek het vir die afgelope vier ‘tribal councils’ gedink ek gaan uitgestem word, so dit kom al ʼn lang tyd. Ek is eintlik verbaas oor hoe lank ek kon oorleef,” het hy gesê.

“Ek is absoluut trots op my spel. Van die begin af wou ek vir die kykers iets opwindend bring om na te kyk, en ek dink ek het. Vir my was die beste ervaring in Survivor sommer net elke dag. Opstaan in die oggend, en veral ook die uitdagings. Ek het elke liewe oomblik van die ervaring geniet,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

TLC ·

PK sorry jy moes uit maar jy het maar lekker gestir so that’s the name of the game Maar ek geniet dit ongelooflik baie Ek haal my hoed vir julle af in daai omstandighede Maar o wee jul op die mooiste eilande Hoop daar gaan eendag n survivor wees vir mense ouer as 50 wat gebreke en n paar rug operasies gehad het dan is ek in Al is dit net om op daai eiland te kan wees Jip ek het my gunsteling So game is on

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.