‘Survivor SA’ onbepaald uitgestel

Survivor SA-aanhangers gaan ongelukkig nie gou weer voor die kleinkassie kan inskuif om hulle gunsteling‑ plaaslike realiteitsreeks te kyk nie. Die agtste seisoen is nou onbepaald uitgestel weens die Covid-19-pandemie.

Survivor SA: Immunity Island was veronderstel om in Augustus die kassie te tref, en verfilming sou vandeesmaand begin het. Die siftingsproses vir deelnemers is ook reeds afgehandel.

“M-Net en die produksiehuis Afrokaans Film & Television [wat Survivor SA vervaardig] het die produksie- en uitsaaitydlyn en logistiek vir die program weer bekyk sedert die begin van die wêreldwye pandemie,” sê Nadine Moomsamy, woordvoerder vir M-Net.

“Die veiligheid van die verfilmingspan, die deelnemers en verskaffers was ons primêre fokus met die assessering en besluitnemingsproses om die reeks onbepaald uit te stel.”

Survivor SA het in 2012 begin toe die program in Panama afgespeel het. Vanessa Marawa het weggestap met dié gesogte titel. Ander bekende wenners van die program was Gigi van Schalkwyk, Hykie Berg, Tom Swartz en verlede jaar se Rob Bentele.

Robert Bentele (Argieffoto)

Verlede jaar se seisoen, Survivor SA: Island of Secrets, wat in Samoa afgespeel het, was een van M-Net se gewildste reekse tot op hede en die produksiespan skryf dit toe aan veral twee faktore wat saamgespeel het.

“Verlede jaar was só ʼn groot sukses oor die fantastiese deelnemers en ongelooflike individue wat in ekstreme omstandighede deelgeneem het,” het Handrie Basson, uitvoerende hoof van Afrokaans, vroeër vanjaar by ʼn konferensie gesê.

Van 2019 se bekende deelnemers was Letitia le Roux, Steffi Brink, Nicole Capper, Durão Mariono en Danté de Villiers.

“Ons het ook ons eie Suid-Afrikaanse kinkel op die program gesit met die Island of Secrets-tema, wat nie voorheen in Amerika of in enige ander Survivor gesien is nie.”

Basson en sy span het tydens die mediakonferensie gesê hulle sien uit na die agtste seisoen en beloof dat dit baie verassings sal inhou.

Deel van: Televisie

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
LIEZL

Ons het ons eie immunity reeks aan die gang. Op ons eie eiland. Ons het nie n program nodig nie