‘Survivor SA’: Só sê die wenner

Tom Swartz in ‘Survivor SA’ (Foto: Verskaf)

Tom Swartz (41) is Donderdagaand as die wenner van Survivor SA aangewys ná ’n emosionele finale episode waar die top-twee hul finale pleidooi voor die jurie moes lewer.

“Ek het glad nie gedink ek gaan wen nie. Daar was genoeg jurielede wat ek gedink het nié vir my gaan stem nie, dat ek gedink het ek gaan by verre nie wen nie,” het Tom aan Maroela Media gesê.

“Dit is absoluut onwerklik, ek dink dit tref my eintlik nou eers dat dit regtig gebeur het.”

Tom het gesê hy het nie eens gedink hy sal dit tot by die top-twee maak nie, wat nog te sê van wen.

“’n Mens kon by die finale stem sien ek tel my hoed op. Ek was gereed om te loop, ek het nie gedink Jeanne gaan my in die spel hou nie. Toe ek wel in die top-twee is, het ek gedink as ek moet wen, sal dit met net een stem wees. Ek het nooit gedink so baie mense gaan vir my stem nie,” het hy gesê.

Tom het ses stemme uit die jurie gekry, terwyl Jeanne slegs een (van Vusi af) gekry het.

Tom het gesê hy is baie trots op die spel wat hy gespeel het, maar dat die spel moeiliker is as wat dit lyk.

“Ek is trots op hoe ek gespeel het, van die begin af. Ek sou wel ʼn paar goed wou terugneem wat ek gesê het, of maniere waarop ek reageer het. Maar aan die ander kant het dit my ook gebring tot waar ek vandag is. Dit het my gebring waar ek wou wees,” het hy gesê.

Tom het gesê sy slegste ondervinding in Survivor gaan juis daaroor dat hy met tye verkeerd reageer het in situasies.

“Die slegste ondervinding het eintlik nie op die eiland gebeur nie, maar toe ek by die huis kom. Toe ek na myself in die derde persoon kyk, toe sien ek hoe sleg ek opgetree het toe ek so honger, moeg en uitgeput was. Ek moes dit beter hanteer het,” het hy gesê.

Jeanne, Tom en Annalize is die top-drie finaliste vir Survivor SA (Foto: Verskaf)

Sy beste ervaring aan die ander kant was dat hy so baie tyd in die water kon deurbring, en ook om sy “eiland-familie” te leer ken en vir hulle te sorg.

“Om te weet ek voorsien vir my ‘eiland-familie’ het vir my baie beteken. Ons het baie spesiale bande met mekaar gevorm. Ek dink jy neem ʼn sekere karakter aan wanneer jy op die eiland is, wat jy nie by die huis is nie, so nou kan ons almal saam daaroor lag. Ek, Neil, Werner, Katinka, Jeanne, Annalize en Toni sal nog vir baie lank vriende wees en in kontak bly,” het hy gesê.

Toe Tom by die huis kom ná Survivor SA, het hy dadelik gestort en wéér Steers geëet. “Dit het fantasties gevoel en gesmaak,” het hy gesê.

Hy het gesê hy gaan sy wengeld spandeer op ʼn huis vir sy familie en ook op sy vrou. “My vrou het my my laat belowe voor ek weg is, dat as ek hierdie ding doen en ek wen, ek vir haar ʼn stel nuwe borste sal koop,” het hy geskerts.

En raad vir toekomstige Survivor-deelnemers?

“Dink voor jy reageer, en dink voor jy praat. Ek dink dis beter om bietjie terug te hang aan die begin, kyk eers wat gebeur en vat jou tyd. En aanvaar raad van dwase,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

TLC ·

Tom jy was van 1st dag af my wenner Love survivor Jy het dit verdien en so bly Werner het kar gewen
O wee arme Vusi se uitdrukking op sy gesig Hy moet defnitief aan sy haat kant aandag gee
Pk het sy pak soos n man gevat Go PK jy kan nog n groot toekoms he

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.