Survivor SA: ‘Teleurgesteld’ maar nie kwaad

Palesa Tau (Foto: DSTV)

Indien jy nog nie gisteraand se episode gekyk het nie, moet jy eerder nie hier lees nie anders gaan jy sien wie uitgestem is.

Survivor SA is in volle swang en die oorblywende sewe deelnemers se dae op die eiland is amper getel.

Palesa Tau is in Donderdagaand se program uitgestem en is nou die derde jurielid wat sal besluit wie die finale wenner van Survivor SA gaan wees en met die R1 miljoen prysgeld sal wegstap. Palesa is uitgestem omdat sy besluit het om nie haar immuniteitstrofee te speel nie.

“Dit is glad nie ʼn lekker gevoel nie. Niemand neem deel aan Survivor om dit nie tot die einde te maak nie. Maar ek is nie kwaad daaroor nie, net teleurgesteld,” het sy aan Maroela Media gesê.

Palesa het gesê sy is trots op die spel wat sy gespeel het en dat haar besluit om nie haar trofee te speel nie, ʼn kans is wat sy wou waag.

“Meeste goed wat in my spel gebeur het, het gebeur omdat ek kanse wou waag. Ek moes altyd nuwe strategieë uitwerk, ek het baie kanse gewaag wat die moeite werd was. Dit is nodig om kanse te waag om voor te kom in Survivor.

“Maar hierdie keer het dit nie [gewerk nie]. Om nie my trofee te speel nie, was ook ʼn kans wat ek gewaag het, al het dit nou nie gewerk nie. Partykeer wen jy en partykeer verloor jy, maar dit was ʼn kans wat ek gewillig was om te waag,” het sy bygevoeg.

Aldus Palesa het die feit dat Tom die waarheid oor wie se naam hulle gaan neerskryf van haar weerhou het, nie haar keuse beïnvloed het of sy die trofee sou speel of nie.

“Ek en Tom hou baie openlik nie van mekaar nie. Ons sê dit nie agter mekaar se rug nie, ons sê dit vír mekaar. Ek vertrou hom net sover wat ek hom sien. Ek het probeer om by Tribal Council nog steeds die spel te speel. Dit was meer my eie kop en my eie gedagtes wat my laat besluit het om nie die trofee te speel nie.”

Palesa Tau (Foto: DSTV)

Palesa het ook gesê sy was huiwerig om wéér haar trofee te speel, omdat sy in die vorige Tribal Council een gespeel het, maar nie één stem teen haar gekry het nie.

Sy sal nou op die jurie haar besluit op strategie fokus. “Ek was daar om die spel te speel, ek was baie teleurgesteld toe sommige deelnemers ná die samesmelting van die twee stamme, nog steeds in hul ou vennootskap gebly het. Mense het nie probeer om die spel te verander nie, hulle het vasgeklou aan hul ou hiërargie,” het sy verduidelik.

“Ek sal beslis kyk na mense wat die huidige stand van sake probeer verander het, mense wat regtig die spel gespeel en strategies besluite geneem het.”

Palesa se beste herinnering van haar Survivor-ondervinding was om die Steers-uitdaging te wen. “Ons was toe al vir ʼn hele tydjie lank baie honger, die moraal op die eiland was baie laag. Die beloning was eintlik meer vir my verstandelike gesondheid as vir my fisieke gesondheid.

“Iets wat ek wel sou wou verander aan die ander kant, is dat my oorspronklike stam voor die samesmelting meer uitdagings gewen het, omdat dit sou help om meer mense aan my kant te hê wanneer ons saamsmelt. Dit sou my moontlik langer in die spel kon hou.”

Palesa gaan nou haar trofee laat raam en dit iewers in haar huis sit waar almal dit kan sien. “Ek is trots op my suksesse, maar ook my mislukkings. Ek is baie trots op die trofee, net nie trots daarop dat ek dit nie gebruik het nie. Ek wil dit iewers sit waar almal dit kan sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

C ·

Hahaha. Miskien moet jul die foto van die afgestemde ook afhaal, want net onder die foto sê jul as jy nie wil weet wie afgestem is nie, moet nie verder lees nie ?

Lag maar ·

Wag, is daar SA survivor? Wow, is dit net ek wat dit nie weet nie? Eerlikwaar gee ek ook nie om nie.

Derick ·

Gaan “lag maar” op ‘n ander plek …… ons LOVE Survivor ???

Zettie ·

Om in SA te woon is soos om aan Survivor SA deel te neem. Jy sluit letterlik jou oë elke nag in dankbaarheid omdat jy die dag lewend deurgemaak het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.