‘Survivor SA’: Wat die kamera nié wys nie

Nico Panagio is die aanbieder van Survivor SA (Foto: Instagram)

Maroela Media het gaan kers opsteek by Nico Panagio, die aanbieder van Survivor SA, om vas te stel wat agter die skerms van dié seisoen wat vanjaar in die Filippyne, Suidoos-Asië, plaasvind, gebeur.

Voorbereiding

Survivor SA word van Donderdag 3 Mei gebeeldsaai, maar voorbereiding vir dié realiteitsprogram het al maande gelede begin. ’n Suid-Afrikaanse span van sowat 113 mense en ’n Filippynse span van sowat 130 mense het vir sowat drie maande aan huis gegaan in die Filippyne.

“Daar is ’n groep mense wat al twee of drie maande voor die deelnemers kom. Hulle bou die uitdagingstelle vir die deelnemers. Dít is dan buiten die 39 dae wat die program geskiet word. Ek is altesaam so sewe weke lank daar,” het Panagio gesê.

“Die mense wat daar moet bly, is onder andere die kamera-en-klankspan, mense wat redigeer, die regisseur, M-Net se span, ’n bemarkingspan, ’n mediese span en ’n logistieke span. Dit is ’n massiewe span mense wat betrokke is by Survivor SA.”

Verblyf vir die span

Panagio het gesê omdat Survivor SA op ’n afgeleë eiland moet plaasvind, is verblyf vir die hele groot span nie altyd maklik beskikbaar nie.

Nico en Christi Panagio (Foto: Instagram)

“Ek en die res van die span bly op die grootste en gemaklikste plek wat ons kan kry, so na moontlik aan die eiland waar die verfilming gebeur. Omdat ons so ’n groot span is, moet ons enigiets vat wat ons kan kry. Mense dink altyd ons bly in ’n luukse vyfsterhotel of lodge, maar dit is glad nie so nie. Ons bly in ’n klein hotelkamer met net ’n bed en ’n stort – ons is gelukkig as ons lugverkoeling het. Dit is glad nie so luuks nie,” het hy gesê.

Kos vir die span word ook darem deur ’n Filippynse spysenieringsmaatskappy voorberei sodat hulle nie, soos die deelnemers, hul eie kos hoef te voorsien nie.

“Ons vertrek dan almal saam elke dag met bote na die eiland toe waar die deelnemers is; ek moet elke dag daar wees, so die logistiek van die hele program is baie belangrik. Almal moet op die regte tyd op die regte plek wees.”

Panagio het ook sy vrou en twee dogters saamgevat Filippyne toe om sy gemoed positief te hou.

“Ek is baie bly ek kon my gesin saamvat. Ons het met die skool gereël om my kinders saam te vat. My vrou het ook sommer deelgeneem as lid van die span wat die uitdagings toets voor die deelnemers dit moet aanpak,” het hy gesê.

“Hulle was baie opgewonde om te gaan, en dit het my gehelp om my kop in die spel te hou. Dit is ’n baie lekker maar ongelooflik uitdagende proses, so ek het die ondersteuning nodig gehad.”

Nico Panagio in die Filippyne (Foto: Instagram)

Bouwerk op die eiland

Panagio sê die uitdaging-stelwerk vir Survivor SA word maande vantevore opgestel, en van die spanlede toets dit dan uit.

“Dit is om te kyk of die stelwerk sterk genoeg is, maar ook om seker te maak dit is moeilik genoeg vir die deelnemers. Daar is sekere uitdagings wat op die kuslyn plaasvind, ander is op kleiner eilande in die omgewing, en ander is in die oseaan, so dit is belangrik om seker te maak dit word reg opgestel. Die uitdagings word ook getoets elke keer voor die deelnemers dit moet doen.”

Panagio het gesê dié seisoen se “Tribal Council”-gedeelte is van die mooiste wat hy nog gesien het.

“Dit is vanjaar op die oseaan opgerig, dit is regtig merkwaardig. Dit is die mooiste een wat ek nog ooit op enige Survivor-reeks oor die wêreld gesien het.”

Nico deel ‘n foto op Instagram van sy tyd in die Filipyne

Ná deelnemers uitgestem word

Wanneer deelnemers uitgestem word, gaan hulle aanvanklik huis toe, maar die laaste nege wat oorbly, word deel van die paneel wat besluit wie Survivor wen.

“Die mense wat deel van die paneel is, word in kwarantyn geplaas in ’n geheime plek, waar hulle dan bly tot die einde van die spel,” het Panagio gesê.

Panagio het gesê dié plek waar hulle bly, sal in die toekoms ook gebeeldsaai word sodat kykers by die huis nóg meer kan sien wat die mense doen en hoe dit is selfs ná hulle uitgestem is.

Dié jaar is daar ook ’n splinternuwe element aan Survivor SA; vir die eerste keer ooit het M-Net ’n virtuelerealiteit-ondervinding opgestel. Kykers kan nou ’n 360°-ervaring van die eiland van hul huise af besigtig en geniet. Dit sal mense in staat stel om deur die Survivor-leefgedeeltes én al die plekke waar uitdaging-boustelwerk opgestel is te loop, net soos die deelnemers in die Filippyne dit gesien het. Daar is ook ’n paar leidrade wat kykers kan ontdek, wat ’n paar lekker pryse inhou.

Lees ook: Nico Panagio deel sy wenke om op ‘n eiland te oorleef

Om die virtuelerealiteit-ondervinding te hê, besoek www.mnet.tv.survivorsa. Dit sal regstreeks wees tydens die eerste episode van Survivor SA op 3 Mei om 19:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rudi ·

Ek kyk nie Survivor SA nie, want die die suid afrikaanse weergawe is in die eerste plek te behep met “celebrities” wat ek nie wil ken nie en in die 2de plek te polities korrek. Amerikaanse weergawe bly maar die beste. Dis n program vir gewone mense oor gewone mense.

Oom Walker ·

Hierdie program gaan hopelik volledig uitgesaai word met klank en al, en nie net die beeld nie?

Marthinus Willemse ·

Dié program se naam moet eerder “Rugsteek SA” wees. Dit gaan nie oor oorlewing (survive, die sterkste oorleef) nie, maar hoe om saam te span teen `n persoon, en hom/haar dan in die rug te steek en uit te stem. Dis eintlik `n program oor lae morele waardes – en almal klap hande.

Spike ·

Nog nooit gekyk nie. Hou nie van aansit nie. Hoe kan mense hulself wees met ñ kamera die heeltyd op jou. Die celebs dink hulle vermaak ons, maar hulle is maar vals.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.