‘Survivor SA’: Wie sal dit wees?

Tom, Jeanne en Annalize is die top-drie finaliste vir Survivor SA (Foto: Verskaf)

Ná 39 dae op ’n Filippynse eiland moet Survivor SA se top-drie, Annalize, Tom en Jeanne, nou hul laaste bietjie energie bymekaar skraap vir die laaste immuniteitsuitdaging wat spoed, tegniek en stamina sal insluit. Dié uitdaging sal nie net hul plek in die eindstryd verseker nie, maar die wenner sal ook die geleentheid kry om een van die jurielede uit te stem, wat sy of haar kans om die R1 miljoen-prysgeld te wen, verbeter.

Die wenner van die laaste immuniteitsuitdaging sal kan kies watter een van die ander twee deelnemers saam met hom/haar die finale twee sal vorm. Die finale twee sal dan ʼn geleentheid kry om hul laaste pleidooi aan die jurie te lewer, waarna die jurie sal stem vir die wenner.

Die twee uur lange laaste episode van Survivor SA word op Donderdag 16 Augustus om 19:00 op M-Net kanaal 101 uitgesaai. Dié episode sal die finale uitdaging, én die aankondiging van die wenner insluit.

Met drie baie verskillende spelstrategieë deur Annalize, Tom en Jeanne is dit onvoorspelbaar wat die jurie se besluit gaan wees en wat die oorblywende deelnemers aan die jurie kan sê om hulle te oortuig om vir hulle die R1 miljoen prysgeld te gee. Ons bekyk dié drie se spelstrategieë.

Annalize

Ná ʼn goeie begin in die spel as deel van die ‘Big 5’-alliansie in Luzon, het Annalize (44) meestal in die agtergrond gebly, maar dit steeds reggekry om ʼn prominente rol te speel in haar stam, en ook later in Araw. Sy het deel geword van Mindanao toe die stamme geskommel is, en is kort daarna uitgestem, maar sy het ʼn tweede kans gekry toe sy die geleentheid gehad het om weer by Luzon aan te sluit eerder as om finaal uit die spel gestem te word.

Annalize het na aan Werner gebly, wat haar gehelp het om verder in die spel te vorder. Sy het later vir Jeanne gewaarsku dat hulle nie ʼn kans staan om te wen terwyl Werner nog in die spel is nie, en het later met die hulp van die ander deelnemers dit reggekry om hom uit te stem.

Tom

Ten spyte van die feit dat Tom (41) ʼn hele paar deelnemers in die spel van vroeg af verkeerd opgevryf het, het hy dit tot by die samesmelting van stamme gemaak as gevolg van sy goeie oorlewingsvaardighede en ook deur op die regte plek op die regte tyd te wees. Ondanks die feit dat hy een van die oudste deelnemers is, het sy vermoë om kos te vind, skuiling te bou en vuur te maak hom verskeie kere gered.

Hy het ʼn goeie verhouding met Chané opgebou, maar sy optrede op die eiland, veral sy tafelmaniere, het Chané teen hom laat draai. Hy het dit tot by die samesmelting van die stamme gemaak, maar sy oorspronklike stam het hom nie genader om saam met hulle te stem nie. Hy het toe saam met lede van die ander stam sy oorspronklike stamlede een vir een uitgestem.

Sy vertroue in Werner het veroorsaak dat Katinka uitgestem word, maar met die top-drie in sig het hy gehelp om ook vir Werner uit te stem, om vir homself ʼn beter kans te gee om die R1 miljoen te wen.

Jeanne

Jeanne (34) is ʼn groot aanhanger van Survivor wat ingeskryf het met die hoop dat mense haar sal onderskat as gevolg van hoe sy lyk. “Hulle moet dink hulle kan wen teen my,” het sy gesê. Jeanne en Stacey het vroeg in die spel ʼn vuurmaak-uitdaging teen Tom gewen, wat haar ʼn sterk mededinger gemaak het.

Tydens die samesmelting van die stamme het Jeanne haarself in ʼn sterk alliansie saam met Werner en Toni bevind. Sy was by hul kamp toe Werner die immuniteitstrofee gekry het waarna Ace so woes gesoek het. Sy het tot die einde ʼn sterk band met Werner behou. Sy het in die laaste episode vir die eerste keer die immuniteitshalsnoer gewen en het die uitstem van Werner georkestreer met die hulp van Tom en Annalize.

Survivor SA is op M-Net, kanaal 101, te sien en kan ook regstreeks op DStv Now gestroom word en sal 24 uur ná die regstreekse uitsending op DStv Catch Up beskikbaar wees. ʼn Herhaling sal ook op Sondag om 17:00 op M-Net uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Speedguard ·

Hierdie is amper so simpel en walglik soos naked and afraid !!!

... ·

Die enigste ding van Survivor S.A. is dat hulle nie regtig so swaar het soos Survivor oorsee nie – daai mense oorsee moet kos soek en dit dan maak. By ons Survivor kry hulle rys en lyk of dit ‘n lekker ete is en hulle eet genoeg.

Tom was die wenner en geluk aan hom. Kon aan die einde van Survivor sien hoe emosioneel hy was en hy het dadelik na die familie toe gegaan en dit saam met hulle gevier. Drome kan verwens word – die geld kan hulle baie help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.