Survivor: ‘Super ouma’, omroeper onder laaste 6 deelnemers

Laetitia (Foto: Verskaf)

Die laaste ses deelnemers vir die jongste seisoen van Survivor is bekendgemaak, en dit is ʼn diverse groep – van ʼn “super ouma” tot ʼn misdaadtoneel-analis – wat mekaar die stryd op die verlate eiland gaan aansê.

Survivor SA het vanjaar besluit om hul 21 deelnemers stuk vir stuk aan die publiek bekend te stel in aanloop tot die sewende seisoen wat vanaand op die kassie begin.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn voormalige Mej. Namibië, ʼn Mev. Kaapstad, ʼn Olimpiese atleet en ʼn voormalige Mev. Suid-Afrika deel uitmaak van Survivor: Island of Secrets wat in Samoa afspeel. Die ander ses deelnemers wat by hulle sal aansluit, is:

Laetitia le Roux (58) is die oudste deelnemer in dié seisoen. Le Roux is ʼn verpleegster van Johannesburg, sy het vyf kinders en vier kleinkinders. Al drie Le Roux se seuns speel op nasionale vlak waterpolo vir Suid-Afrika. Dié “Super Ouma” moet beslis nie onderskat word nie! Sy sê ʼn ding soos dit is en het nie tyd vir “grootpraters, lui of dom mense” nie.

Mike Venter is ’n 21-jarige radio-aanbieder van Boksburg. Venter is die jongste deelnemer van dié seisoen. Venter het regte studeer voor hy ʼn loopbaan in radiowese begin het. Hy was die hoofseun van ʼn gesogte seunskool en dit is vir hom belangrik om sosio-politiese kwessies te debatteer. “Dit is tyd vir die jeug om op te staan en hul plekkie in die son op te neem – deur Survivor te wen!” het hy gesê.

Rose-Lee (Foto: Versakaf)

Rose-Lee Smith (33) het haar honneursgraad in kriminologie voltooi en daarna deel geword van die SAPD as ʼn misdaadtoneel-analis. Smith is ʼn ma van drie en is besonder oplettend; sy staan nie terug vir ʼn uitdaging nie. Sy het onlangs 30 kg verloor en fokus daarop om ʼn gesonde leefstyl te handhaaf.

Mmaba Molefe (28) is ’n jong, suksesvolle Zulu-vrou met ’n aansteeklike lag. Dié beleggingsanalis erken dat sy moontlik meer van mense as van nommers hou; sy het ook ʼn passie daarvoor om haar gemeenskap te ontwikkel en te help. Molefe het eers in haar laat 20’s geleer om ʼn fiets te ry en sy beskryf haarself as ʼn gemaklike mens wat maklik met ander oor die weg kom. “Ek dink mense gaan my onderskat, en dit pas my 100%,” het sy gesê.

Durāo Mariano (28) is sjarmant, selfversekerd en diplomaties. Mariano kom oorspronklik van Durban af maar het al oral in die wêreld gewerk, wat maak dat hy maklik in nuwe omgewings aanpas. Vir Mariano is dit belangrik om sélf te besluit hoe hy sy lewe leef, ongeag wat ander mense dink. Een ding wat hy wel nooit sal doen nie, is vloek. Hy hou vol hy het nog nooit in sy lewe ʼn vloekwoord gespreek nie.

Geoffrey Cook-Tenneson is ’n 33-jarige pa en huisleningskonsultant van KwaZulu-Natal. Cook-Tenneson erken hy hou van skinder en dat hy al meer as een maal in sy lewe ʼn “feeks” genoem was. Hy hou van drama, maar hy weet ook hoe om mense nét genoeg heuning om die mond te smeer sodat hulle van hom begin hou. Hy gee nie om wat ander mense wat hom dink nie, solank hy doen wat hy moet doen om te wen. Cook-Tenneson het ook onlangs 30 kg in drie maande verloor, waarna hy die Comrades‑marathon gehardloop het na slegs ses maande se oefen.

Survivor SA: Island of Secrets begin Donderdag 16 Mei om 19:00 op M-Net kanaal 101.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Is dit Mamba Molefe of Mmaba Molefe? Dit word verskillend gespel op verskillende plekke…

Sune van Heerden ·

Dagsê Anoniem

Dankie dat jy ons hierop gewys het.
Haar naam is “Mmaba”; die besonderhede wat ons van Survivor SA gekry het was verkeerd in die persverklaring. Ons het die berig gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.