‘Swartwater’ terug op die kassie

Aan die einde van die tweede seisoen van die gewilde SABC2-reeks Swartwater het kykers na hulle asems gesnak toe die hoofkarakter, Francois (vertolk deur Louw Venter), in die rug geskiet is toe hy sy seun van ʼn boosdoener gered het. Hy het in ʼn koma beland.

In die derde seisoen, wat vanaand (Dinsdag) begin, word die storie voortgesit waar Francois in sy hospitaalbed veg om sy – ʼn hele jaar nadat sy lewe aan skerwe geruk is.

Heléne Truter is skrywer van die reeks en vertolk ook die rol van Meisie van Rensburg, ʼn loskop eiendomsagent wat ná jare uiteindelik liefde vind by Buks (vertolk deur Gerben Kamper).

Sy verklap aan Maroela Media dat ʼn “aantreklike donkerkop” op ʼn motorfiets dinge op Swartwater kom deurmekaar kom krap.

“Ons stel ʼn hele nuwe gesin van Bishop Lavis bekend en steek tentakels uit na ander dele van die land,” vertel Truter.

“Die verhaal speel ook af teen ʼn droogte soos wat ons werklik hier in die Kaap ervaar het en mense se ware kleure begin uitkom soos wat inwoners byvoorbeeld water steel. Die temas is baie eg Suid-Afrikaans.”

Kykers kan hulle in hierdie seisoen ook reg maak vir ʼn egte Romeo en Juliet-tipe romanse, sê Truter.

“In die vorige reekse het dwelms en geweld geseëvier, maar hierdie keer is daar baie meer ligte oomblikke terwyl daar steeds ʼn sterk drama- en spanningsverhaal is. Daar is elke week ʼn cliffhanger – ek is die cliffhanger queen,” lag sy.

Simoné Pretorius, Heléne Truter en Keenan Arrison op die stel van ‘Swartwater’. (Foto: Verskaf)

Sy glo die rolverdeling se uitmuntende spel dra by tot die reeks se gewildheid. Gesoute Suid-Afrikaanse akteurs soos Antoinette Louw, June van Merch, Nazli George en Dorette Potgieter is onder andere in die reeks te sien.

Simoné Pretorius is ʼn nuwe gesig in Swartwater en is in die rol van Krizanda te sien. “Ek is heeltemal verslaaf aan daardie kind, sy is só talentvol,” sê Truter.

“Suid-Afrikaanse akteurs is altyd baie goed voorbereid. Ons het teen ʼn verskriklike tempo geskiet, omtrent ʼn episode per dag, wat byna ongehoord is vir ʼn dramareeks. Daarom moet die akteurs baie woordvas en op hulle tone wees.”

Sy vertel die span agter die skerms het hart en siel belê in die skep van die reeks. “Dit was ongelooflik om te sien hoe hulle hulself inleef en deel raak van die storie. Wat die storie so uniek maak, is die eg Suid-Afrikaanse teks en die ongelooflike spel deur die akteurs. Kykers gaan die storielyn en die karakters baie geniet.”

Swartwater is elke Dinsdagaand om 19:30 op SABC 2 te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ellie ·

Ek geniet die reeks rerig baie, net jammer dis net ‘n half uur lank!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.