Sy sê toe ja vir boer Déan

Déan Botma en Megan Wille (Foto: Déan Botma/Instagram)

Boer Déan het ʼn stukkie goeie nuus hier op die ou jaar gedeel: Sy geliefde Megan het ja gesê.

Kykers van die 13de seisoen van die TV-maatsoekreeks Boer soek ʼn vrou was verbaas en selfs geskok toe boer Déan Botma die blondekop-balletdanser Megan Wille eerste van die plaas af huis toe gestuur het, maar vandag is dié twee oud-Nelspruiters verloof.

Déan en Megan kuier al van 16 Desember in Namibië en hulle is nog tot ná Nuwejaar in Swakopmund. Daarna ry hulle af na Sossusvlei en dan Lüderitz om sodat hulle by Clanwilliam by boer Albert en Chanté of boer Willem en Sanel te gaan kuier. “Ons beplan om 6 Januarie weer terug te wees in George,” vertel Déan aan Maroela.

Megan het glad nie geweet dat hy beplan om haar die groot vraag te vra nie. “Ek dink sy het nou en dan gewonder as ek iets laat glip – sonder om natuurlik te veel te verklap. Ek moes haar bietjie terg en op haar tone hou!” skerts hy.

“Tussen die lag en huil en opgewondenheid, was sy eintlik geskok. Maar blydskap oorstroom ons albei,” voeg hy by.

Déan Botma en Megan Wille (Foto: Déan Botma/Instagram)

Maroela het vroeër berig dié makadamianeutboer het van Nelspruit permanent na George in die Wes-Kaap verhuis. Megan het ook reeds einde September na George verhuis en hulle is al sedert begin Oktober saam op die plaas.

Hulle het nog nie ʼn troudatum in gedagte nie. “Ons is nog besig om net eers op te vang op die boodskappe en die oomblik te geniet. Ons sal heel waarskynlik iewers einde volgende jaar trou, maar ons het nog glad nie daaraan gedink nie. Die pad is lank van hier af terug huis toe, so dan gaan ons tien teen een begin planne maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.