Tasché oor ‘The Voice SA’: ‘My mond hang steeds oop’

Tasché Burger, die wenner van The Voice SA 2019 (Foto: Facebook)

Die 19-jarige Tasché Bruger wat Sondagaand as die wenner van The Voice SA aangewys is, wil nou die Afrikaanse musiekbedryf aanpak – en dít saam met haar stemafrigter, Francois van Coke.

Maroela Media het vroeër berig die derde seisoen van The Voice SA het pas tot ʼn einde gekom by ʼn glansryke geleentheid by die Mosaïek Teatro in Fairlands, Johannesburg. Burger het dit daar uitgespook teen vier ander finaliste: die PJ Twins (26), Eon Claude le Roux (28), Siki Jo-Ann Qwazi (25) en Soné Joubert (26).

Burger, wat in Brackenfell naby Kaapstad woon, het vanoggend aan Maroela Media gesê dat sy steeds oorbluf is dat sy gewen het.

“My mond hang nog steeds oop, ek is so stomgeslaan. Dit is wonderlik en ek is dankbaar dat ek op daardie verhoog kon staan en vir die wonderlike mense met wie ek dit kon deel. Ek kan dit steeds nie glo nie,” sê sy.

Burger sê sy het aan The Voice SA deelgeneem omdat sy ʼn voet in die deur wou kry in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Sy het ná skool as ʼn kelnerin begin werk om tyd te maak daarvoor om aan dié kompetisie deel te neem.

“En toe wen ek die ding!” sê sy opgewonde. “Ek het so baie geleer, veral by Francois [van Coke]. Hy is so goed daarin om sy gehoor op hom te laat fokus, so ek kon baie by hom leer hoe om my verhoogpersoonlikheid te verbeter. Ek kon ook baie oor skryfwerk by hom leer, omdat hy so ʼn goeie skrywer is,” sê sy.

Tasché Burger, die wenner van The Voice SA 2019, saam met haar afrigter in die reeks, Francois van Coke. (Foto: MNet)

Deur die loop van die kompetisie het Burger en Van Coke ʼn goeie verhouding gebou en hulle is van plan om steeds ná die program saam te werk.

“Hy lyk so tough, maar hy is eintlik ʼn regte ou softie. Hy is baie nederig en regtig ʼn hartsmens. Ons is nog lank nie klaar saamgewerk nie,” sê sy.

Burger sê daar is reeds sprake daarvan om ʼn liedjie saam met Van Coke op te neem. Sy sal ook in Oktober by Van Coke se konsert “Francois van Coke en Vriende” optree.

Van Coke het op sy beurt gesê dat hy uitsien daarna om deel te wees van haar loopbaan.

Tasché Burger, die wenner van The Voice SA 2019, saam met haar afrigter in die reeks, Francois van Coke. (Foto: MNet)

“Ek is ongelooflik trots op Tasché. Dit was ’n groot voorreg om haar afrigter te wees en sy het ’n fantastiese loopbaan wat vir haar voorlê. Ek sien uit om ook deel te wees van die pad vorentoe,” sê hy.

Burger sê sy is van plan om haar musiekloopbaan in Afrikaans te begin en om gereeld by Van Coke aan te klop vir raad.

“Ek skryf my eie liedjies, maar Francois is baie beter daarmee as ek. So ek sal graag al my liedjies eers vir hom wil vat sodat ons saam daaraan kan werk. Hy het ʼn manier om net meer lewe in die liedjies in te blaas.”

As die wenner van The Voice SA het Burger ʼn Toyota RAV4, ʼn platekontrak by Universal Music en ʼn R100 000-geskenkbewys van Truworths gewen. Sy het ook ʼn Telkom Tech-pakket wat onder meer ʼn Huawei P30 Pro, ʼn Tab M5 Lite en ʼn Huawei Watch GT insluit. Maar dié pryse het sy nie alles vir haarself gehou nie.

Tasché Burger, die wenner van The Voice SA 2019 (Foto: Facebook)

Burger en Soné Joubert, haar mededinger in die einstryd, het ʼn hegte verhouding gebou deur die loop van die kompetisie en hulle het mekaar belowe dat die wenner van haar pryse met die naaswenner sal deel.

“Soné het heeltyd tydens die kompetisie vir my gesê ek gaan wen, en ek het gedink sy gaan wen. Ons het toe ooreengekom dat ons R10 000 van die Truworths-geskenkbewyse vir die ander een sal gee as ons self wen. So sy het ook darem iets daaruit gekry,” sê Burger.

Burger is tans besig met mediaverantwoordelikhede en sal binnekort met Universal Music vergader om te begin beplan aan haar eerste album.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

Tasché het nie net n wonderlike stem…sy is plat op die aarde met n groot hart…sy sal die vrugte pluk vir haar nederigheid en mededeelsaamheid…baie geluk…ons wag vir jou CD.

EO ·

Ek het van die begin af van haar en Sonè gehou. Hulle was heeltyd my gunstelinge.

Mariet Stander ·

Taschè is n ongelòòflike wenner! My gunsteling van dag 1. Sonè ook n pragtige stem! Altwee kan met reg tròts wees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.