TBF bied ‘Kersliedere by kerslig’ aan vir skenkings

binnelanders-686-2.jpg

Desiré Gardner vertolk die rol van Daleen in Binnelanders. Sy tree spesiaal op saam met ander Binnelanders-akteurs. Foto: Verskaf.

Sedert televisie in 1976 in Suid-Afrika bekendgestel is, sit die volk elke aand vasgenael voor die kassie. Programme soos Ballade vir ʼn enkeling, Egoli: Plek van goud, Manakwalanners en Orkney snork nie het ure se vermaak verskaf aan almal wat ʼn televisiestel besit het.

Onthou jy nog Koöperasie stories? Wat van Glaskasteel? En kan jy nog onthou hoe jy gelag het vir Nommer asseblief? Tant Stienie van Agter elke man en Maryna van Sonkring was so te sê deel van die huisgesin.

Vandag is dit nie anders nie – die programme het verander, maar ons kan nie wegkom van die betowering van die fiktiewe karakters waarmee ons ons vereenselwig nie.

Televisie is en was nie die enigste vorm van ontvlugting en vermaak nie. Musikante, akteurs, komediante en kulkunstenaars hou ons al van toentertyd aan die skaterlag tot die trane loop, laat ons huil en verstom ons met hulle vermoë om ʼn fiktiewe storie reg voor ons oë gestalte te gee. Radiostasies het dramas laat skryf wat deur stemkunstenaars opgevoer word. Maroela Media se eie Groblerspruit is vandag nog te hore op die klankgolwe.

Teaterbystandsfonds

Maar het jy al ooit gewonder wat van daardie mense op die verhoë en silwerdoeke geword het waarmee ons almal grootgeword het? Lizz Meiring, bekende aktrise en bestuurslid van die Teaterbystandsfonds (TBF) verduidelik só: “Vele van hulle is nou bejaard. Vergete. Te oud en te siek om te werk en probeer oorleef in haglike omstandighede.”

“En onder die mense wat agter die skerms net so hard gewerk het om jou te laat lag en huil en anders te laat dink, is daar nét soveel vergete, werklose, brandarm en ernstige siek bejaardes,” vertel Lizz. “Talle van hulle het nie families nie; hulle het hul lewens opgeoffer om ons te vermaak, om ons siele te laat vlieg en ons koppe oop te maak na ʼn wonderwêreld waar alles moontlik is.”

“Die enigste organisasie wat hulp verleen en omgee vir dié vergete, talentvolle en kreatiewe groep mense, is die Teaterbystandsfonds. Die TBF bestaan al vir langer as vyf dekades. Nie net bedien ons alle kunste en vermaakberoepsmense nie, maar ook hulle wettige afhanklikes,” sê Lizz. “Elke versoek vir hulp word eers deeglik ondersoek en word ook deurgaans gemonitor. Die bestuurslede van die TBF ontvang gʼn salaris nie.”

Kersliedere by kerslig

Op Donderdag 3 Desember bied die TBF in samewerking met Garden World in Muldersdrift ʼn Kersliedere by kerslig-geleentheid aan.

Seremoniemeesters David Louw en Derrich Gardner bied die program aan en Binnelanders-akteurs Hilda Cronjé, Je-ani Swiegelaar, Kim Cloete en Desiré Gardner is ook te sien in ʼn spesiale optrede. Ander kunstenaars wat optree is Rian Swanepoel, Manie Jackson en die groep Heuning.

Tradisionele Kersliedere sal deur die NG kerk Weltevreden onder leiding van Christo Bezuidenhout aangebied word en die publiek word genooi om deel te neem.

Dit is ʼn heerlike uitstappie vir die hele gesin. Piekniekmandjies word toegelaat. Hoewel daar nie toegangsgeld gevra word nie, is ʼn skenking van R20 per persoon of kospakkies welkom.

Daar sal ook kosstalletjies wees wat deur die loop van die aand oop sal bly asook ʼn mark waar Kersgeskenke gekoop kan word tot 21:00.

Desiré Gardner, wat die rol van Daleen in Binnelanders vertolk, beaam Lizz se siening. “Ek dink ons ikone en legendes van destyds het nie altyd die voorreg gehad om pensioenfondse te kry by die plekke waar hulle gewerk het nie,” sê sy.

“As kontrakwerker of vryskutakteur kry ʼn mens nie voordele soos mediese en pensioenfondse nie. Vandag is daar gelukkig baie finansiële adviseurs wat jonger akteurs touwys maak, maar ek dink nie dit was jare gelede die geval nie,” sê sy.

Om ʼn skenking aan die TBF te maak, besoek gerus hulle webwerf.

Al jou gunsteling Suid-Afrikaanse bekendes gaan jou tussen 1 en 24 Desember hier op Maroela Media ‘n geseënde Kersfees kom toewens, ter ondersteuning van die Teaterbystandsfonds. Hou ons dop!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.